Dié Bok-groep was Carter se gedugste teenstanders

Dan Carter. Foto: Gabriel Bouys/AFP.

Agterlangs was daar spelers soos Jaque Fourie en Bryan Habana; Morné Steyn het die toutjies as losskakel getrek met Fourie du Preez sy briljante skakelmaat.

Voorlangs het Bakkies Botha en Victor Matfield in die lynstane gerank, Bismarck du Plessis het vir die vuur in die voorry gesorg en ondersteuners kon met die lostrio van Pierre Spies, Schalk Burger en Heinrich Brüssow spog.

Dít, dames en here, is net ’n paar van die spelers wat op 12 September 2009 teen die All Blacks in Hamilton uitgedraf het; ’n wedstryd wat die Springbokke met 32 – 29 gewen het.

En volgens die legendariese All Blacks-losskakel Dan Carter was die Springbok-groep van 2007 – 2009 die beste span teen wie hy in sy roemryke loopbaan gespeel het.

“Elke keer wanneer ’n mens teen die Bokke gespeel het, het jy geweet jou lyf gaan tot die volgende Donderdag seer wees. Dit was asof ek ’n teiken op my rug gehad het – ouens soos Schalk Burger, Victor Matfield, Bakkies Botha en Pierre Spies was almal groot, atletiese spelers en hulle het die rugbywêreld oorheers,” het hy in ’n Nieu-Seelandse podsending gesê.

Suid-Afrika se Schalk Burger. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Die destydse Bok-groep het in 2007 die Webb Ellis-trofee in Frankryk omhoog gehou, terwyl hulle ook ’n rukkie later met die Britse en Ierse Leeus-toerspan klaargespeel het en die Drienasiesreeks gewen het.

Carter, wat in 2021 sy rugbyuittrede aangekondig het, het al vantevore vir Burger as sy taaiste teenstander uitgesonder en hy het veral die losvoorspeler vir sy werksetiek geloof.

“Hy sou byvoorbeeld in ’n hengse stryd met ons pak voorspelers gewikkel wees, maar hy het net nooit moed opgegee nie. Hy was ’n fisieke speler met ongelooflike krag.”

  • Die Springbokspan wat op 12 September 2009 teen die All Blacks gespeel het: Frans Steyn (heelagter), Odwa Ndungane (regtervleuel), Jaque Fourie (buitesenter), Jean de Villiers (binnesenter), Bryan Habana (linkervleuel), Morné Steyn (losskakel), Fourie du Preez (skrumskakel), Pierre Spies (agtsteman), Schalk Burger (flank), Heinrich Brüssow (flank), Victor Matfield (slot), Bakkies Botha (slot), John Smit (stut en kaptein), Bismarck du Plessis (haker) en Beast Mtawarira (stut). Plaasvervangers: Chiliboy Ralepelle, Jannie du Plessis, Danie Rossouw, Ryan Kankowski,  Ricky Januarie, Adrian Jacobs en Ruan Pienaar.

Peter de Villiers was die afrigter van die span.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marius ·

Goeie ou dae. Dit is hoog onwaarskynlik met die politieke inmenging met sport, dat daar ooit weer so ‘n formidabele bokspan op die veld sal draf.

Hennie Biebouw ·

Pierre Spies is waarskynlik die mees oorskatte Springbok van alle tye. Die res van die 2009 span was egter ysters.

twaalfboor ·

Hennie en Kokkie. Sekerlik is julle anti-Blou Bul. Dis al rede dat julle sulke snert kwyt raak. Dalk is julle sharks of stormer ondersteuners.

Waarnemer ·

Those were the days……in my leeftyd sal daar nooit weer so n gedugte span wees nie….

Charl ·

Wat ‘n pluimpie vir Peter de Villiers ! Ja daai was ons ystermanne !

LD ·

Dit was die tydperk wat ek rugby baie geniet het! Van 2010 kyk ek nie meer rugby nie! Ek YouTube maar al die ou wedstryde, daar waar rugby nog sin gemaak het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.