‘Die dag van sy dood sal ek nooit vergeet nie’

Nino Oppel en sy vrou Daleen. (Foto: Verskaf)

Nino Oppel se weduwee, Daleen, sukkel nog om sy dood vier jaar gelede te verwerk. Sy en haar kinders het nie eens die geleentheid gehad om hom vir oulaas te groet toe hy in Februarie 2018 deur ʼn motoris van sy fiets afgery is nie.

“Daardie dag sal ek nooit vergeet nie.”

Daleen het aan Maroela Media vertel dat iemand haar nog die oggend van Nino se dood gebel het om te sê hy was in ʼn ongeluk betrokke. Sy het egter nie dadelik die erns van die ongeluk besef nie.

“Ek was rustig en het nog vir my koffie gemaak voordat ek die kinders aangejaag het sodat ons kan ry,” sê sy.

“Die persoon het my weer gebel en ek het hom verseker ons is op pad. Toe bel hy later vir ʼn derde keer om te sê dat hulle vir Nino met ʼn helikopter moet vervoer.

“Ek het toe besef dat dit ernstig is, maar ek het nie die volle omvang daarvan begryp nie.”

Daleen het saam met haar twee jong kinders by die ongevalleafdeling van die Pinhaven-hospitaal in Krugersdorp aangekom, maar moes ure lank wag voordat enige nuus oor haar man se toestand bekendgemaak is.

“ʼn Dokter het in ʼn stadium uitgekom en vir my gesê dat Nino in ʼn ernstige toestand is, maar steeds kon ek hom nie sien nie.”

Na ‘n drie uur lange wag, het ʼn ander dokter die nuus aan sy geliefdes oorgedra dat Nino dood is, sonder dat hulle hom eens vir ʼn laaste keer kon sien.

“Ek het nie die geleentheid gekry om hom weer lewend te sien nie, nie die geleentheid gekry om totsiens te sê nie – alles het in daardie oomblik verander,” sê sy.

Daleen het egter nie tyd gehad om op ʼn hopie te gaan sit nie.

“Die lewe het aangegaan, al was dit bitter moeilik, maar ek moes dit vir my kinders doen. My kinders het my sterk gehou. My familie het my ook baie ondersteun en doen dit steeds.”

Sy sê vir die eerste twee jaar ná Nino se dood kon sy nie eens haar man se naam hoor sonder om in trane uit te bars nie.

“Hy het alles vir my en die kinders gedoen. Hy wou die beste gehad het vir ons en die res het altyd agterna gekom. Hy was baie liefdevol en spontaan en het ʼn groot liefde vir rugby en toe later fietsry ontwikkel. Ons mis hom … ons mis hom baie.”

Nino was een van drie broers. Hy, Aldo en Elmo, was vreeslik na aan mekaar.

“Ek en Nino het omtrent elke dag met mekaar gepraat – ons was mekaar se vertrouelinge en steunpilare,” sê Aldo. “Met sy skerp sin vir humor kon hy altyd ʼn glimlag op my gesig plaas. Ek mis hom verskriklik.”

Nino se bejaarde ouers, Heleen en Paul, worstel ook steeds met hul kind se dood, veral omdat die persoon wat na bewering vir Nino van sy fiets afgery en weggejaag het, nog nie vervolg is nie.

“Dit is baie moeilik vir hulle en hulle wil ook net hê dat geregtigheid geskied,” sê Daleen.

Dié familie het vroeër hul misnoeë met die Suid-Afrikaanse regstelsel uitgespreek en AfriForum genader om te help verseker dat die skuldige vervolg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Casper

Mevrou wat met jou gebeur het is vartverskeurend hartseer en ja dit het ‘n groot leemte n julle lewens gelos maar solank jy vashou aan iets wat nie is nie sal jy nooit berusting vind nie.Die dooies sorg vir die dooies en die lewendes sorg vir die lewendes.Weet dat God jou gespaar het en laat jou man gaan.

Swerwer

Dit is erg en baie traumaties. Ongelukkig in hierdie land van ons seëvier die misdadigers met die wetteloosheid wat die ANC inplementeer het.