Dié driejarige lees beter as meeste gr. 4’s in SA

Die driejarige Lethu Bhengu se gunstelingboek is oor Tippie. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Op drie lees dié kleuter beter as 80% van Suid-Afrika se skoolkinders wat drie keer ouer as sy is.

Lethukuthula Bhengu, wie se leesvermoëns reeds van haar ʼn TikTok-ster met byna ʼn miljoen volgelinge gemaak het, is vanjaar aangewys as Afrika se jongste “kidfluencer” by die jaarlikse toekenningsgeleentheid van die Amerikaanse kindertelevisiekanaal Nickelodeon.

Haar gunsteling is ʼn immergewilde Tippie-boek, vertel Lethu terwyl sy beduie na die bekende grys olifantjie wat op die boekomslag dans.

Kort tevore het sy dié boek gekies uit ʼn klein boekrak in die gesin se woonstel in ʼn Johannesburgse woonbuurt.

“My ma het my leer lees,” kondig die driejarige aan, voordat sy terstond wegspring en hardop begin voorlees.

Haar vaardighede is ʼn uitsondering in ʼn land waar agt uit elke tien gr. 4-leerders – kinders tussen nege en tien jaar oud – sukkel om te begryp wat hulle lees.

Lethu se ouers het begin om haar te leer lees kort nadat sy twee jaar oud geword het toe hulle gesien het dat sy woorde en voorwerpe kan memoriseer en met mekaar verbind, veral wanneer hulle gaan inkopies doen het.

“Dit is ouers se verantwoordelikheid om te verseker ons kinders het ʼn blink toekoms,” sê haar pa, Phakiso Masooa (27), met verwysing na Suid-Afrika se vrotsige leesprestasie wat pas weer in die Amerikaanse Progress in International Reading Literacy Study, bekend as PIRLS, uitgewys is.

Suid-Afrika is laaste uit 57 lande waar die ondersoek gedoen is.

“Ons het ʼn ernstige krisis,” sê prof. Brahm Fleish, ʼn onderwyskenner verbonde aan Wits.

“Dit is ʼn opvoedkundeprobleem, ʼn leerplan-probleem,” sê hy.

Biblioteke en toilette

In Suid-Afrika het talle skole steeds puttoilette – ten spyte van groot bedrae geld wat bewillig word om dit te vervang. (Argieffoto: Amnestie Internasionaal)

Openbare skole is dikwels swak toegerus, veral in landelike gebiede waar sommige skole nie eens behoorlike spoeltoilette het nie, om nie eens te praat van toegang tot goeie leesstof nie.

Die skerp verskil tussen sommige openbare en sommige private skole benadruk ook die “groot ongelykheid” wat steeds in Suid-Afrika gesien kan word, sê Jessica Ronaasen, ʼn kenner oor kinderonderrig.

Sommige welaf skole het alles, van konsertsale tot swembaddens en kunsateljees – en biblioteke gevul met ʼn groot verskeidenheid boeke.

Sommige van die onderwysprobleme word ook aan ʼn nalatenskap van apartheid toegeskryf met baie swart kinders wat nie veel onderrig ontvang het nie. Gevolglik het talle mense – wat vandag hul eie kinders het – ʼn gebrekkige onderwysagtergrond en kan nie hul kinders self met hul studies help nie, sê Ronaasen wat vir die Do More-stigting werk.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die skuld vir die powere vertoning gedeeltelik op die Covid-19-pandemie gepak. Sommige skole was tot ʼn jaar lank gesluit en dit het aanleiding gegee tot die “teleurstellend lae punte” wat Suid-Afrika in die PIRLS behaal het.

Die probleme in die onderwysstelsel was egter duidelik lank voor die koronavirus kop uitgesteek het, sê Shenilla Mohamed, direkteur van Amnestie Internasionaal in Suid-Afrika.

Ander ouers wil óók

Lethu se ouers het begin om haar te leer lees kort nadat sy twee jaar oud geword het. (Foto: Emmanuel Croset)

Klein Lethu se aanlyn roem het intussen aanleiding gegee tot ʼn magdom navrae van ander ouers wat ook gretig is om hul kinders se leesvermoë te verbeter.

Lethu se pa het sedertdien ʼn maatskappy genaamd “Mini Brainiacs” op die been gebring wat praktiese leermateriaal vir kinders verkoop.

“Ons sluit leer in by wat alles wat ons elke dag doen – sodat dit pret is,” sê hy.

“Ons probeer glad nie wys dat Lethu die enigste kind is wat dit kan doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lillian ·

Ek kon lees nog hoor ek skool toe is, kinders sit net heeldag vasgenael voor ‘n rekenaar met speletjies of op hul fone, ouers oor hul nie aan om te lees nie en my motto was nog altyd “knowledge is power”.

Anonymouse ·

Maar hoe goed kon jy in Engels lees? Baie kinders in hierdie land moet basies ‘n nuwe taal leer as hulle skool toegaan want daar word voorkeur aan Afrikaanse en Engelse skole gegee. Ek wed die kinders kan nogsteeds beter in Engels (wat nie hulle moedertaal is) lees as wat jy kon.

skurweberg ·

Ouers het op Engels as onderrigtaal aangedring al was dit nie die kleuter se moedertaal nie. As kinders in kleuterskole en in graad 1-3 meer aan hulle moedertaal blootgestel was sou die probleem nie bestaan het nie, mits die onderwysers in hierdie fase spesifiek ook in leesvaardighede opgelei was en die vermoë gehad het om dit te onderrig.

George ·

Dis waaroor al die strikes ook gaan. Tel dit net vir Afr en Eng, of die ander 9 tale ook.

Nico ·

Die probleem vandag is die kind moet aangaan terwyl die ouers werk daarom is daar min of geen toesig nie, die kind kan blameer word nie, die skole gooi die kinders toe onder die skoolwerk, wat ook die skole se probleem is.

Yolandie ·

Welgedaan aan die ouers wat so knap hulle kleuter geleer het om te lees. Hulle sal die vrugte van hulle arbeid pluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.