Die duurste strate in SA

Oceana Villa, Nettletonweg 3, Clifton (Foto: ComeToCapeTown.com)

Oceana Villa, Nettletonweg 3, Clifton (Foto: ComeToCapeTown.com)

Alhoewel slegs ʼn handjievol huise vyf jaar gelede vir meer as R20 miljoen verkoop is, is daar vandag 22 strate waar die gemiddelde huisprys meer as R20 miljoen beloop.

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, het in ʼn verklaring gesê huise word tot R100 miljoen in Sandton verkoop en R200 – R350 miljoen aan die Atlantiese kus in Kaapstad.

Volgens ʼn verslag deur Lightstone en Propstats, namens die eiendomsgroep, is 15 van die 22 strate in Kaapstad geleë: nege aan die Atlantiese kus (Clifton, Fresnaye en Bantrybaai) en ses in die suidelike voorstede (Bishopscourt en Constantia). Sewe strate is in Johannesburg geleë in Sandhurst, Hyde Park en Bryanston.

Seeff het verduidelik hulle het na gemiddelde verkope oor ʼn tydperk in ʼn spesifieke straat gekyk, eerder as enkele uitsonderings.

“As jy dus op soek is na die mees eksklusiewe adres in die land, maak seker dis in een van dié strate,” het hy bygevoeg.

Die duurste strate in Clifton is Nettleton-, Clifton- en Kloofweg, volgens Lance Cohen, luuksemarkspesialis vir die Atlantiese kus. Hy was die afgelope vyf jaar verantwoordelik vir meeste van die duurste eiendomstransaksies. Nettletonweg is hoog teen Leeukop geleë en bied privaatheid en asemrowende uitsigte oor die see. Die gemiddelde huisprys beloop R45 miljoen (R100 000 per m2) en die hoogste prys R200 miljoen.

Die duurste huis in Bishopscourt is in Canterburyrylaan geleë en die duurste strate is Bo Hillwoodrylaan en Klaassensweg.

Die duurste straat in Johannesburg is Coronationweg in Sandhurst, naby aan Sandton se middestad. In Hyde Park is die duurste huise in Christophersonweg geleë.

Bryanston spog met Lowndesweg, Bryanstonrylaan en Eccleston-singel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Drieks ·

Ja ne… ‘n paar ryk mense in SA beheer al van 1999 af die huismark en daarom kan niemand meer huise bekostig nie. Dit is net so onregverdig as wat Zuma aan ons almal in hierdie land doen.

Marius ·

Hoop die strate self het nie soveel slaggate soos die gemiddelde straat in ons land nie. Duur karre kan skade opdoen.

Ria ·

Weet iemand die waardasie v Nkandla indien ons dit met huise langs die Atlantiese oseaan wil vergelyk?

Cherokee ·

Ek was upset oorlat my woonstel op die rand van die Indiese Oseaan nie genoem word nie maar toe wys my slim vrou my daarop dat dit slegs huisies en nie woonstelle onder bespreking is.

Tina ·

En baie van hierdie huise word bewoon deur die politieke “leiers” soos onder andere Juiluis Malema wat vir die arm mense veg. Mense maak oop julle oe

Wat-ek-lees ·

Ek sien ‘n kil- en koue atmosfeer sonder die warmte van ‘n normale huis. Alles is netjies op hul plek en definitief is ‘n kind nie tuis hier. Die huislike atmosfeer ontbreek toetentaal.
Nee-wat, nie vir my nie !!

Joann ·

Ag nee wat ek bly maar in my kaia wat klaar betaal is en waar geen kilheid en snobisme is nie.

Cherokee ·

‘n Verkoopsagent wat ‘n R350m huis verkoop kan met die eenmalige kommissie alleen selfs na belasting, ‘n spoghuis koop.

Francois ·

Vergeet die groen monster; die walging van selfsug en vermorsing terwyl duisendes krepeer om net n stukkie brood te kan he! Dit is dan dat ek wonder of n die EFF nie dalk n punt het nie! Mens voel of jy kan opgooi as jy van die absolute wellus hoor… Is dit nie die skeepsmagnaat Aristotle Onassis wat gese het dat agter elke suksesvolle biljoener is daar n suksesvolle misdaad…? Wonder net…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.