Die EFF: ‘n Kritiese bestekopname

Leiers van die EFF (Desember 2019) (Foto: EFF/Twitter)

Die pas afgelope nasionale kongres van die EFF het ‘n goeie aanduiding gegee van die dinamika, die denkprosesse, die suksesse, mislukkings en tekortkominge van die party, asook wat om in die toekoms van hulle te verwag.

Die EFF hou elke vyf jaar hul nasionale kongres, wat amptelik bekend staan as die Volksvergadering. Hierdie was die tweede Volksvergadering, en dit is presies vyf jaar tot op die dag na die eerste EFF-volksvergadering, wat van 13 tot 16 Desember 2014 in Bloemfontein gehou is.

Soos enige party se kongres was party gebeure baie positief en ander was ‘n skande. Ons begin by die positiewe.

Eerstens, dan, die erns waarmee elkeen van die meer as 3 000 afgevaardigdes hul taak opgeneem het. Hulle het bankvas gesit en luister na die debat, en niemand was beskroomd in die oordra van hul takke se mandaat oor elke kwessie nie. Mense het nie in groot getalle buite die saal rondgedrentel, geskinder, moreel twyfelagtig opgetree of verkas na die naaste winkelsentrum nie (toegegee, die gebied rondom Nasrec is maar vaal en gommerig).

Tweedens was die besprekingsdokumente van die interessantste en bes nagevorste politieke navorsing wat ek in onlangse tye uit enige bron gelees het. Mens hoef nie met die beleidsvoorstelle saam te stem nie, maar een ding is seker: Niemand wat ‘n beleidsbesluit neem na aanleiding van daardie dokument van 250 bladsye kan beweer dat hul besluit oningelig is nie. Die feite en syfers, en die opsomming van die grondslag sowel as die onlangse verwikkelinge van landsvraagstukke is op ‘n vlak van uitnemendheid wat ons nie in hierdie land ken nie. Ek gaan dit beslis aanwend as fenomenale naslaanwerk.

En as ek eendag sulke goeie Engels kan skryf (mens kan raai wie dit was), kan ek in vrede sterwe. Die styl is nie oral dieselfde nie en uiteraard verskil die vlak van die taal en insette na gelang van wie dit geskryf het, maar dit wissel slegs van goed tot uitstekend tot puik.

EFF-volksvergadering (Desember 2019) (Foto: EFF/Twitter)

Die enigste ander party wat gereeld gespreksdokumente voor kongresse publiseer is die ANC, maar dit is oor die algemeen onsamehangend en eerder aanduidend van die ANC se doodloopstraat waarin misdadigheid en kompromieë die party laat versand het. Geen ander partye reik behoorlike navorsing aan afgevaardigdes uit sodat ingeligte gesprek kan plaasvind nie – nie eers die DA nie.

Derdens (en dit was ook so met die EFF se 2014-volksvergadering), was die vriendelikheid, ordentlikheid, netheid, hardwerkendheid en eerbare gedrag van die afgevaardigdes hoogs inspirerend. Eerbaar? Ja, en ek het dit aan eie bas gevoel. Die media is (soos met alle partye) nie by alle besprekingsessies toegelaat nie, en ons moes dan die saal verlaat.

Ek het my baadjie, wat my duurste kledingstuk is (ja ek kort bepaald styl en geld!) die Saterdagoggend oor my stoel gehang en daar vergeet. Ek het eers sowat tien ure later daarvan onthou. Op daardie punt was ek baie kwaad vir myself, want ek het aangeneem die baadjie sou voete kry – nie omdat dit die EFF is nie, maar omdat dit wêreldwyd onwaarskynlik sal wees dat enigiets so lank onaangeraak sou bly.

Wel, die baadjie was presies op sy plek. Die baadjie was veilig tussen 3 000 mense aan wie jy (op enkele uitsonderings na) die mensonterende armoede kan aanvoel. Welgedaan EFF, en welgedaan Suid-Afrikaners!

EFF-volksvergadering (Desember 2019) (Foto: EFF/Twitter)

‘n Uiters opvallende kenmerk van die kongres was dat daar nie soveel as ‘n papiertjie rommel gestrooi is nie. Die EFF-kongres was so skoon en so netjies soos Duitsland of Switserland. Wys my waar anders in Suid-Afrika kom byna vierduisend mense vir vier dae bymekaar sonder dat mens jou skaam oor die rommelstrooiery? Nogmaals, welgedaan EFF (uit Nasaret iets goeds, ja!). Nou vir die ander partye om hulle te probeer nadoen. Hoe lyk dit, ANC, DA, IVP en VF Plus, julle morsjorse!

Vierdens was die EFF-leier, Julius Malema, se inleidingstoespraak die interessantste wat ek nog ooit op ‘n politieke kongres gehoor het. Dit was nie bondig nie; dit was omtrent drie ure lank.

Dit het die gebeure van die afgelope vyf jaar saamgevat, die beleidsopsies uiteengesit, die party se foute reguit uitgewys eerder as om dit toe te smeer en – les bes – ordentlike, deurdagte, volledige antwoorde op elke groot punt van kritiek wat deur ander (buitestaanders, waarnemers, politieke opponente) verskaf.

Dis nie te sê al die verduidelikings sal almal tevrede stel nie – ver daarvan. Maar hier is maande se werk in – die EFF neem homself en sy kongres ernstig op. Neem, as ‘n voorbeeld, die EFF se antwoord op die DA-bewering dat die rooi party fascisties is.

Julius Malema (Desember 2019) (Foto: EFF/Twitter)

Malema het deur ‘n omvattende polities-historiese oorsig van die aard van fascisme, gestel teenoor sy siening wat die EFF ondersteun en hoe die EFF funksioneer, sy argument uitgemaak dat die EFF nie fascisties is nie. Mens wag nou vir ‘n deurdagte antwoord op ten minste dieselfde intellektuele vlak uit die DA.

Miskien wag mens verniet.

Beleidsgewys is daar uit die EFF-besluite minstens twee belangrike beleidskuiwe waarvan een moontlikhede bied vir hernieude opposisie-samewerking teen die ANC.

Dit is die EFF se posisie oor nasionale gesondheidsversekering. Hoewel die party die beginsel van nasionale gesondheidsversekering steun vanuit ‘n sosialistiese oogpunt, meen hulle – soos ander opposisiepartye wat uit ander denkskole kom – dat die Suid-Afrikaanse staat nie die geld of die kundigheid het om dit suksesvol in te stel nie. As die vyf grootste opposisiepartye – DA, EFF, IVP, VF Plus en ACDP – almal saamstaan en koppe bymekaar sit, kan hierdie gevaarlike beleidsrigting ten beste teengestaan word.

‘n Tweede beleidskuif gaan oor eiendom. Die EFF se versagting van sy tot dusver onversetlik sosialistiese beleidsrigting is op verskeie vlakke waarneembaar, onder meer in die party se aanvaarding van die beginsel van eiendomlike oorerwing en testamentêre nalatenskap, en sy aanvaarding van private eienaarskap van alles behalwe produksiemiddele.

Dit neem niks weg van die potensieel vernietigende aard van die meeste van die res van die EFF se ekonomiese beleid nie, maar dit wys daar is soepelheid van denke, en waar daar soepelheid van denke is, is daar hoop.

Maar een vraag waar daar by die antwoord deur die EFF geen denksoepelheid straal nie, is die staat as leidende aandrywer vir die ekonomie. Gegewe alle beskikbare huidige getuienis betreffend staatsondernemings – en gegewe die EFF se beleid wat afdankings byna onmoontlik maak, en enige EFF-regering dus met dieselfde staatsdienswerkers laat wat tans so ‘n gemors van staatsbeheerde ondernemings maak.

EFF-volksvergadering (Desember 2019) (Foto: EFF/Twitter)

Die EFF se ontwykende antwoord hierop is dat hulle die Chinese model gaan volg. Sterkte daarmee in die deelnemende demokrasie gegrondves op menseregte wat hulle omskryf.

Uit die kongres blyk ongetwyfeld ook die EFF het probleme. Die twee belangrikste het beide te doen met die vloei van vrye denke en demokrasie.

Eerstens is daar die stelsel waarvolgens die party interne verkiesings veg. Dit is ‘n stelsel van meerderheidsintimidasie – nie demokrasie nie.

‘n Kandidaat moet naamlik 30% steun van kongresgangers hê om ‘n verkiesing vir ‘n posisie af te dwing – in hierdie geval 954 kongresgangers. Wanneer ʼn kandidaat genomineer word, moet 954 hande dus opgesteek word om die nominasie te sekondeer. Dit is ‘n redelik onsubtiele vorm van intimidasie, want almal kan sien wie gaan wen, en wie waag dit om nie die magtiges te steun nie. Van geheime stemme en ware demokrasie is daar geen sprake nie. Dis verkeerd en dit strek die EFF nie tot eer nie. Dit is dan ook geen verrassing nie dat nie ‘n enkele posisie bestrede was nie. Eintlik is dit ‘n skandalige stelsel.

Tweedens is daar die oordadige militarisering van die veiligheidsreëlings. Daar was ‘n klomp EFF-lede in uniform wat die funksie vervul het. Minstens was hulle, sover mens kon sien, ongewapen, so dis een beter as die onvervulde verloorders van die MK-veterane op ANC-konferensies. Maar is dit nou werklik nodig? Dis infantiel en gevaarlik, en dit het net mooi niemand verras toe vier vroue hospitaal toe moes gaan nadat ‘n sekerheidspersoneellid traangas op hulle afgevuur het nie. Die sekerheidspersoneellid is daar en dan afgedank.

Laastens is dit dalk lonend om te kyk na EFF-kongresgangers se hantering van drie kontensieuse kwessies – taal, ras en godsdiens. Wat taal betref het mense gemaklik in hul onderskeie moedertale aan debatte deelgeneem, met Engels nietemin dominant.

Waar die EFF in die verlede aggressief teen Afrikaans gekant was, het hulle dit nou afgeskaal en daar was van tyd tot tyd vanaf die podium spesifieke uitsprake dat hulle Afrikaans ter wille is. Hierdie welkome verandering strook met onlangse verwikkelinge in die parlement.

Sover dit ras aangaan, is daar van tyd tot tyd rassistiese opmerkings oor wit mense gemaak, maar die interessante was dat dit glad nie gewild was by die gehoor nie. Kritiek op die ANC het byvoorbeeld veel meer steun uitgelok.

En dan, godsdiens. Die EFF is onbeskaamd Christelik, met geen ander geloof wat betrek is nie en omvattende Christelike insette van die charismatiese Messiaanse inheemse kerke wat ‘n kerndeel van die program uitgemaak het.

Dit is ‘n interessante en belangrike tendens – een van vele wat uit die EFF se tweede Volksvergadering voortgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.