Dié eienskappe maak van skoolhoofde raakvatters

(Argieffoto: Verskaf)

Wat maak van ʼn skoolhoof ʼn krag om mee rekening te hou? En watter sleutelvaardighede is nodig vir ʼn skoolhoof om goeie onderwysuitkomste te verseker?

Die studie “The development of a behavioural competency framework for school principals”, wat onlangs in die South African Journal of Industrial Psychology gepubliseer is, stippel navorsers ʼn sogenaamde ʼn gedragbevoegdheidsraamwerk vir skoolhoofde uit.

Jaco Janse van Vuuren van Credens People Solutions en dr. Francois van der Bank van die Departement Bedryfsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), wou die gedrag verstaan van skoolhoofde wat ondanks vele uitdagings mislukkende skole kon omkeer.

Daarvoor het hulle onderhoude met Wes-Kaapse skoolhoofde gevoer wat goed presteer het.

Die gehalte van leierskap was uiteindelik die krag wat skoolsukses op die lange duur aandryf, het die navorsers bevind.

Sleutelvaardighede

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Vir die versekering van goeie onderwysuitkomste, het navorsers 11 sleutelvaardighede geïdentifiseer: Die skep van ʼn skoolvisie en die bepaling van ʼn strategiese rigting, die stel van doelwitte en verwagtinge, ontwikkeling van skoolpersoneel, om personeel te beïnvloed en met hulle te kommunikeer, strategiese voorsiening, om met deernis te lei, om ʼn leerlinggesentreerde omgewing in stand te hou, besluitneming, selfbestuur, die bestuur van onderrig en leer en om oor skoolgrense heen te lei.

Die navorsers sê al lê vorige studies groot klem op skoolleierskap en -bestuur as deurslaggewend in die vestiging en instandhouding van skole wat goed presteer, is min bekend oor die gedragsbevoegdhede wat van skoolhoofde vereis word.

“Baie van die navorsing oor skoolleierskap fokus op werkervaring, kwalifikasies of ander eienskappe om sukses te voorspel, eerder as op akkurate, gekontekstualiseerde beskrywings van die vereiste gedrag of bevoegdhede,” sê Van Vuuren en Van der Bank.

“Werk oor suksesvolle skoolleierskap gee ook nie voldoende rekenskap van die verskeie intermediêre uitkomste soos onderwysvermoë, gehalte van onderrig, interaksie met leerlinge, asook bande met ouers en die gemeenskap wat bevorderlik vir akademiese prestasie is nie.”

Volgens die navorsers kan doeltreffende skoolhoofde die interne (personeelvermoë, skoolkultuur, skoolbestuurspan, gehalte van onderrig, infrastruktuur en finansiële hulpbronne) en eksterne (tendense in die onderwys, makro-ekonomiese landskap, politieke realiteite en tegnologiese vooruitgang) skoolomgewing ontleed en ʼn inspirerende skoolvisie formuleer, asook daaropvolgende strategieë om daardie visie te verwesenlik.

“Doeltreffende skoolhoofde stel en kommunikeer strategies belynde en uitdagende akademiese doelwitte en verwagtinge aan onderwys- en ander personeel op so ʼn wyse dat daar duidelikheid en konsensus oor hierdie doelwitte is.

“Hulle toon persoonlike belangstelling in die ontwikkeling van onderwysers deur formele en informele leergeleenthede te inisieer, asook deur skoolpersoneel te bemagtig om probleme onafhanklik en kreatief op te los.

“Hulle bou sterk spanne en ouer-gemeenskapsbande deur ʼn inspirerende visie, doeltreffende kommunikasie en die vermoë om by belangrike besprekings en debatte betrokke te raak sonder om kompromieë oor die gehalte van onderrig aan te gaan.

“Suksesvolle skoolhoofde is ook in staat om hulpbronne in ooreenstemming met onderrig en leer te selekteer, toe te wys en optimaal te benut.”

Bloudruk vir aanstellings

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die navorsers dui in hul studie aan dat suksesvolle skoolhoofde begrip en besorgdheid vir die strewes en gevoelens van onderwysers en leerlinge tydens die bestuur van skoolverhoudings toon, wat die doeltreffende hantering van interpersoonlike en groepkonflikte insluit.

“Hulle is in staat om eksterne druk en ontwrigtinge te verminder en ʼn omgewing te koester wat liggaamlike en sielkundige veiligheid, orde en dissipline, asook inklusiwiteit en eenheid vestig.

“Hulle fokus op doeltreffende besluitneming in belang van die skoolvisie deur oorlegpleging, beslistheid en onverskrokkenheid, aanpasbaarheid, toewyding en veerkragtigheid, die bou van vertroue en innovering gedurende die besluitnemingsproses.

“Hulle bestuur, monitor en beloon voorts die elemente van onderrig en leer deur organisatoriese doeltreffendheid, die kurrikulum, asook onderwyser- en leerlingprestasie te assesseer en evalueer.”

Die navorsers sê die bevoegdhede wat hulle geïdentifiseer het, kan as bloudruk gebruik word om doeltreffende skoolleierskap te vestig.

“Die Nasionale Ontwikkelingsplan kan uit die bevindings van ons studie put deur ʼn tasbare stel waarneembare en meetbare bevoegdhede in te sluit in sy beleid vir die aanstelling, ontwikkeling en opvolgingsbestuur van skoolhoofde en ander skoolleierskapsposte, met inbegrip van adjunkskoolhoofde en departementshoofde.

“Die departement van onderwys, openbare en private skole, asook ander private onderwysinstellings, kan die opbrengs op hul belegging in mense verhoog deur hul assessering vir keuring, ontwikkeling en opvolgingsbestuur in ooreenstemming met die skoolhoof se bevoegdhede te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

Met so baie tegnologie vandag beskikbaar is jong mense baie kreatief en die geheim is om hierdie kreativiteit reg te kanaliseer tot voordeel van die kind en sy toekoms. As jong mense toegelaat word om hierdie kreativiteit net tot hulle eie voordeel te gebruik, dan kan dit verkeerdelik opgeneem word en die gemeenskap sit dan met probleem jong mense. Dankie vir skoolhoofde en onderwysers wat uit hulle pad gaan om kinders te help.

skurweberg ·

Laat die kinders toe om te sê of sy/haar skoolhoof suksesvol bestuur en as mens aanvaarbaar is wat ‘n veilige ruimte vir hulle bewerkstellig.

skurweberg ·

‘n Onderwyser en onderwysleier word gebore en opgevoed deur rolmodelle, wat ‘n positiewe rol in sy/haar lewe gespreel het. Dis nie wenslik om ‘n individu wat onderwys nie as ‘n roeping beskou toe te laat om onderwyser te word nie. “Motivering” Die regte “werkswaardes” en “vermoë” is die belangrikste persoonseienskappe om ‘n opvoedkundige te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.