Die erfenis van Tafelberg

ʼn Tafelberg kabelkar in 1990. (Foto: Verskaf)

Tafelberg is een van Suid-Afrika se gewildste toeriste-aantreklikhede en het ʼn ryk geskiedenis wat Kaapstad en Suid-Afrika help vorm het.

“Tafelberg behoort aan almal en ons moet daaraan herinner word om ons erfenis as ʼn nasie te vier, veral een wat gevul is met soveel kultuur, tradisie en diversiteit,” sê Wahida Parker, besturende direkteur van die Tafelberg-sweefspoormaatskappy.

Die Khoi- en San-mense was van die eerste stamme wat die Europese setlaars teëgekom het toe hulle hul reis na Suid-Afrika onderneem het. Lank voor dít het dié inheemse bevolking Tafelberg bewonder en dit Hoerikwaggo gedoop, wat “berg in die see” beteken.

Hulle het na bewering ook geglo dat die berg heilig is. Hoewel daar geen aanduidings is dat dié inheemse bevolkingsgroep op Tafelberg was nie, was en is daar steeds ʼn voetpad wat boontoe lei.

Die sweefspoor in die 1930’s. (Foto: Verskaf)

Volgens Parker was Tafelberg se sweefspoor geskeduleer om in die laat 1870’s gebou te word ná voorstelle om ʼn spoorlyn langs die berghange te bou om dit makliker te maak vir die publiek om die kruin te bereik. Die ontwikkelingsfase van dié projek is egter gestaak met die aanbreek van die Eerste Wêreldoorlog.

“Daar was min vordering in die projek, tot 1926 toe die Noorweegse ingenieur Trygve Stromsoe die sweefspoor weer voorgestel het.”

Stromsoe het aanvanklik die sweefspoor op klein skaal aangepak en die model na sir Alfred Hennessy geneem om sy medebeleggers, sir David Graaff en sir Ernest Oppenheimer, aan boord te kry. Hierdie sakemanne het toe die Tafelberg-sweefspoormaatskappy gestig, bouwerk aan die sweefspoor is begin en het twee jaar lank geduur.

Die amptelike opening van die Tafelberg-sweefspoor was op 4 Oktober 1929 en die opening is deur die destydse burgemeester van Kaapstad, ds. AJS Lewis, gelei.

Sedertdien het die sweefspoor drie groot opgraderings ondergaan, asook gereelde instandhouding deur die jare. Dié sweefspoor is nou al ʼn baken van die beroemde berg en is al ongelukvry sedert die opening in 1929.

Tafelberg is in Desember 2012 as een van die sewe nuwe natuurlike wêreldwonders aangekondig en word erken as die toeganklikste van dié wonders. Meer onlangs is die berg benoem in die toonaangewende toeriste-aantreklikheid in Afrika en die Indiese Oseaan-kategorie van die 2020 World Travel Awards. Tafelberg het reeds in 2019 weggestap met dié titel.

“Terwyl ons stadig maar seker weer besoekers in ons land en die Moederstand verwelkom, is ons opgewonde om te sien hoe mense die prag wat die berg bied gaan verken,” sê Parker.

“Tafelberg is deel van wie ons as ʼn nasie is – dit is deel van ons almal se erfenis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

En die kostes vir n SUID AFRIKANER om in sy eie land die ervaring te mag beleef?

Cornelius ·

Die geskiedenis van die kabel spoor sal seker ook binnekort uit die geskiedenis boeke verdwyn aangesien dit deel van die Apartheids era is.

Sarel ·

Met geen Buitelandse Toeriste nie wonder na wie gaan daar niu gekyk word. Die Jare lange verwaarloosde
Binneland se Toeris sal seker nou die wa deur die drif moet trek

Carina ·

Ek het in 1983 vir die eerste keer in die ou karretjie gery. In die middel van die vloer was ‘n opening met ‘n seil toegemaak. Die karretjie was so vol ek en nog ‘n persoon moes op die seiltjie staan. Ek was doodbang die ding gee mee en ek val uit. Die jaar op nuwejaar was ek weer op in die nuwe karretjie, saam met my man en dogter. Dit was hul eerste keer. Meer as 3 uur in die warm son gewag, maar weereens n belewenis. Dis net jammer dit beweeg so vinnig. Dit sou lekker wees as dit stadiger kon beweeg sodat jy meer tyd het vir rondkyk. Dis ‘n ongelooflike uitsig. Onthou net om volgende keer ‘n warm baadjie saam te neem, want teen 4nm het dit gevoel of jy in Antartika is! Almal daar bo het saamgebondel vir hitte, gesigte en hande was potblou!
Ek hoop die sweefspoor sal nog vir lank met ons wees.

Adeline ·

Die Werklike feit is die hele Kaap provinsie is die KOISAN (Boesman) nasie se erfnis – verseker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.