Die feesseisoen is nie vir almal vrolik

Foto ter illustrasie. (Foto: RODNAE Productions/Pexels)

Blink goed en feestelike musiek verkondig blêrend dat ons vrolik en bly moet wees, want dit is Kersfees.

Vir baie is dit ʼn tyd van familiesamesyn en ten spyte van die afgelope twee jaar se knypende krisishantering van algemene lewensomstandighede, en die Kersgevoel is lank reeds in die winkels te sien.

Mense wil maar te graag weer “normaal” voel, en dit is te verstane dat hulle reik na ʼn gevoel van saamwees, samesyn en behoort, wat die afgelope twee jaar met die Covid-19-pandemie in gedrang gekom het.

Daar is egter duisende wat die feestyd sonder enige familie tegemoet gaan. Sommige van hulle woon op straat. Hul ervaring van die feesseisoen sluit nie bome en liggies in nie. Hul grootste hoop is om wel elke dag kos te hê om te eet. Nog baie ander is wel nie op straat nie, maar is mense wat nie weet waar om heen te gaan nie omdat hulle nie familie het nie.

Veral in die laaste byna twee jaar het soveel mense geliefdes verloor en is die verlies tesame met ʼn leë sitplek moeilik om te hanteer.

Geldnood, finansiële druk, werkloosheid en die druk van 2021 is in sommige gevalle nog erger as in 2020. Steeds is daar onsekerheid, veral nou met die jongste verwikkelinge rondom die virus.

Talle mense is stoksielalleen. Eensaamheid kan enige persoon aantas, selfs klein kindertjies. Dink maar aan ʼn enkelma wat nie familie het nie en sukkel om die Kersgevoel in haar huis te vestig. Klein kinders veral, sien die bome, liggies en geskenke in die winkels.

Hierdie ma’s ma voel allermins die feesgees van die tyd. Inteendeel, die druk en spanning wat op hulle geplaas word, kan maak dat hierdie tyd van die jaar iets waarna hulle eintlik glad nie uitsien nie.

Teen hierdie agtergrond kan dinge verkeerd gaan. Die kinders wat nie verstaan hoekom hulle nie ook ʼn Kersboom het nie, nie groot geskenke kry nie, nie ʼn Kersmaal met ʼn kreunende tafel vol kos beleef nie en net nog eise stel. So ʼn ma voel nie net skuldig nie, maar dit is ook ʼn tyd wat die gevoel van eensaamheid sy kloue begin inslaan.

Die kinders voel dit ook, selfs klein kinders kan eensaamheid beleef, veral enkelkinders.

“Vereensaming gaan hand aan hand met die gebrek aan ʼn gevoel van normale behoort. Almal is daaraan blootgestel. Ouers ook kan drank of dwelms as ʼn teenvoeter vir eensaamheid gebruik – ten koste van die kinders. ʼn Ouer wat onder die invloed van drank is, kan nie reg aan ouerskap laat geskied nie, en dra grootliks by tot gesinsgeweld,” verduidelik Ani Grobbelaar, maatskaplike werker van Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos se Lyttelton-tak.

“Dan is daar natuurlik die probleem van ouers wat werk terwyl kinders op vakansie is. Kinders wat sonder toesig by die huis gelaat word, skep sy eie probleme. Ouer kinders gaan loop rond en as ʼn mens moeilikheid soek, kry jy dit.

“Behalwe vir die veiligheidsaspek, is daar ook verveling wat intree. Geen kind kan agt uur lank TV kyk sonder om verveeld te raak nie. Hulle begin soek na iets om te doen; en dwelms, drank, pornografie en aanlyn speletjies vul gemaklik hierdie gaping. Ouers moet alles in hul vermoë doen om teenvoeters hiervoor te kry.”

“Nie net geweld nie, maar ook verwaarlosing neem toe in hierdie periode,” verduidelik Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos. “Daar is by ons geen twyfel dat gesinsgeweld in die komende weke skerp gaan toeneem nie. Aan die einde van die tweede jaar van die wêreldwye pandemie moet ons nie vergeet dat hierdie emosionele tol steeds in ons gesinne uitspeel nie. Meeste mense wil maar net vergeet dat dit gebeur het, maar ons moet onthou dat meer as 30% van ons land se mense werkloos is. Die druk is groter as in vorige jare.

“Die maatskaplike werkers in ons organisasie regoor Pretoria word met baie meer as kosnood gekonfronteer. Gesinsondersteuning is van uiterste belang tydens die feesperiode,” verduidelik sy.

Die vraag is hoe om dit te hanteer? Daar is nie een maklike antwoord nie. “Stop. Dink. Hoe kan dit wat jy in die volgende vyf minute doen, ʼn ander persoon help deur hierdie feestyd? Kan ʼn paar minute se omgee dalk sy of haar ervaring beter maak – dalk keer dat hy of sy na iets gryp om beter te kan voel? Omgee is om te gee – ʼn paar minute se omgee kan ʼn ander se lewe wesenlik verander,” sê Van der Merwe.

  • Kontak CMR Gauteng-Oos se hoofkantoor by 012 361 4619 of die naaste tak van ʼn welsynsorganisasie vir meer inligting of hulp.
  • Besoek die CMR Gauteng-Oos se webblad of Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Alexander ·

En jul noem nie eers watse hel die tyd van die jaar is vir ons arme ongelowiges en anti-verbruikerisme tipes :D

Zombie ·

Ja, ek stem saam. Dit is nogal ń irriterende oppervlakkige tyd dié.

Shakespeare ·

90% lof vir al hierdie miljoene mense kom die ANC/EFF toe. Julle is waarlik die slegste van die slegstes

Waarnemer ·

Nou is nie die tyd om verwyte rond te slinger nie.Gaan heen en BEDIEN jou naaste,gee vir hom/haar/hulle die LIEFDE wat JESUS vir JOU gegee het.Nooi hulle saam met jou kerk toe.Deel van jou kos aan hulle uit.Kerstyd is NIE n tyd vir kersbome en geskenke nie,dit is n duiwelse gebruik.Dit is NOU tyd om jou naaste nader aan JESUS te bring.Gee vir hulle die grootste geskenk van alle tye…om JESUS te ontmoet.Ongelukkig het satan aleeue gelede sy kloue in die harte van te veel mense geslaan en hulle vertel van kersvader,kaboutertjies en feetjies en kersbome en geskenke.Vertel eerder vir jou kinders en jou vriende se kinders wat die ware doel van Kersdag is naamlik n CHRISTUS fees om die koms vcasn ons VERLOSSER te gedenk.

Samuel ·

Amen. Die gebruik van kersbome, blinkertjies ens is nie Bybels nie. Kersfees op sigself is onbybels. Dit moet om Jesus se koms as verlosser gaan.

annie ·

Ons vier Christus se geboorte maar antieke heidense gebruike wat die Vader juis haat, oorheers. Ongelowiges geniet dit seker. Christus raak feitlik onsigbaar. Die huidige pes lag lekker. Die draai van die tyd na ‘n onbekende nuwe jaar wil die Goeie Boodskap in hartseer dompel. Ongelowiges kla hul voel so alleen. Dis waar. Hulle is. Sonder geloof in Christus.

Pieter ·

Dis juis die “gelowiges” wat so kla oor die eensaamheid die tyd van die jaar. Luister mooi.

Delia ·

Ek as n gelowige is eensaam tussen my kinders omdat dit die tyd is Dat ek my man verloor het agv breinkanker. Miskien moet ons net sagter oordeel, want elkeen het n storie….

Alexander ·

Ek kan nou nie vir almal praat nie, maar nee as ongelowige is hierdie ‘n vulgêre tyd van die jaar vir my, juis oor hoe oppervlakkig en materialisties mense is en aangesien 80% van die bevolking Christene is, verwag mens eintlik dat dit nie so sou wees, dit voel eintlik sover asof mense nog erger is hierdie jaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.