‘Die Gelofte’ eersdaags terug op planke ná kaartjies wéér uitverkoop

‘Die Gelofte’-akteurs tydens hul laaste vertoning in Junie vanjaar. (Foto: Facebook/AfriForum Teater)

“Ek dink skoolleerders wat ’n tweede of derde keer kom kyk en mense saambring, is ’n goeie maatstaf of ʼn produksie in sy doel slaag.”

Só sê Jannes Erasmus, skrywer en regisseur van Die Gelofte, oor die nuus dat dié treffende musiekspel in September vanjaar vir ʼn derde speelvak in die AfriForum Teater in Pretoria aangebied gaan word.

Dié nuus volg nadat kaartjies vir die produksie se tweede speelvak, wat op 19 Junie geëindig het, uitverkoop het en daar steeds ’n groot aanvraag na die produksie bestaan.

Die Gelofte: ’n Musiekblyspel is van 3 tot 25 September op die planke in dié Pretoriase teater. Kaartjieverkope het pas op die AfriForum Teater se webwerf geopen.

Die Gelofte is ’n AfriForum-produksie wat in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied word en spog met groot name in die musiek- en teaterbedryf onder wie Johan Vorster, Nadia Beukes en Bernice West.

Die musiekspel volg die geskiedkundige gebeure wat die aflê van die Gelofte voor die Slag van Bloedrivier voorafgegaan het. Musiek en lirieke is deur Vorster en Jacomien de Wet behartig en Francois Lessing is verantwoordelik vir orkestrasie en musiekregie.

“Ons is nie daarop uit om net ’n vertoning aan mense te gee nie. Ons bied ’n ervaring. Sou jy in die bevoorregte posisie wees om deel van die gehoor te wees, sal jy jouself binne-in die laer van hierdie Voortrekkers bevind,” het Erasmus vroeër aan Maroela Media vertel.

“Selfs mense wat ervare teatergangers is, deel dat hulle al baie vertonings beleef het, maar iets is anders aan Die Gelofte, iets wat jou boei en laat terug kom vir nog.”

Volgens Erasmus het die groep akteurs ook die afgelope paar maande ʼn hegte familie geword.

Johan Vorster en Jacomien de Wet (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Die Here het al mense veel minder bekwaam as ons gebruik om sy Woord te verkondig en wat ’n voorreg om dit op hierdie manier te kan doen. Hierdie is ons vyf broodjies en twee vissies, nou bedien ons die nasie,” voeg hy by.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dié burgerregteorganisasie was van die begin af vol vertroue dat die boodskap van hoop wat die musiekspel oordra, goed ontvang sou word.

Hy sê egter dat die oorweldigende reaksie van die publiek en die kaartjieverkope selfs hierdie positiewe verwagtinge oortref het en nou die geleentheid aan nog meer mense kan bied om dié musiekspel te geniet.

“Vir ’n wonderwerk om te gebeur moet daar ’n bonatuurlike ingryping plaasvind van ons God, maar dit vereis dat ’n mens jou knie buig voor sy grootheid. Dit het in 1838 gebeur en wonderwerke gebeur steeds vandag! Ons staan verstom oor die terugvoer wat ons ontvang. Die Gelofte is nie net ’n opvoering wat ’n belewenis is nie. Dit verander werklik mense se lewens. Ons word oorval deur mense wat sê dat hulle met hoop gevul is soos hulle by die teater uitstap en dat hulle weer kans sien vir die toekoms,” sê Vorster en De Wet oor dié opwindende nuus.

Volgens Carien Bloem, teaterbestuurder van die AfriForum Teater, stroom navrae vir die produksie deurlopend in.

“Die musiekspel kry nou werklik eers momentum en dit is wonderlik om te sien hoeveel mense vir ’n tweede en derde keer terugkom met nog vriende en familie om weer te kom kyk. Dit is heerlik om ’n derde speelvak aan te kondig.”

Kyk hier om teatergangers se reaksies oor Die Gelofte te hoor:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankbaar dat die ’gekaapte’ Gelofte dag weer op die manier gevier kan word

Jack ·

Weereens n bewys dat Solidariteit ons ondersteuning waardig is. Dis al manier hoe ons as Afrikaners ons plek in die donker tyd kan behou. Ons bly saam met ander groepe die ligpunte in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.