Dié geriewe vir Pta-Oos beskikbaar tydens kragonderbreking

Argieffoto (Foto: Gerd Altmann/Pixabay via AB Electrical & Communications Ltd)

Verskeie ondernemings het hul geriewe beskikbaar gestel aan inwoners van Pretoria-Oos wat nog steeds ʼn kragonderbreking beleef ná ʼn brand op 1 Desember by die Mooikloof-substasie uitgebreek het.

Op versoek van die VF Plus het sekere Virgin Active-gimnasiums, die Alkantrand-biblioteek en die Valleysig-kerk hul gereiewe beskikbaar gemaak. Inwoners kan nou dié plekke besoek om onder meer hul selfone te herlaai, kos voor te berei en van die stortgeriewe gebruik te maak.

“Hierdie inisiatief van die VF Plus volg nadat die Tshwane-metroraad gewaarsku het dat die herstelwerk aan die substasie nog etlike dae gaan duur,” sê Lenor Janse van Rensburg, VF Plus-raadslid in die Tshwane-metroraad. “Inwoners kan nie gestraf word vir die swak instandhouding van kraginfrastruktuur nie en die VF Plus sal in die metroraad aandring dat meer geld beskikbaar gestel word vir die onderhoud en instandhouding van kritieke infrastruktuur.”

Misdaad in die gebiede het ook sedert die kragonderbreking toegeneem en die polisie en private sekuriteitsmaatskappye doen alles in hul vermoë om inwoners se veiligheid te verseker.

Inwoners kan van die volgende punte gebruik maak:

  • Virgin Active Menlyn: Serenestraat 241, Garsfontein, Menlyn.
  • Virgin Active Faerie Glen: Parkview Leefstylsentrum, hoek van Netcare- en Garsfonteinstraat, Pretoria.
  • Virgin Active Faerie Glen: Haymeadowstraat 2, Lakeside, Pretoria.
  • Virgin Active Hazeldean: Hoek van Silverlakes- en Grahamstraat, Tijgervallei X16, Hazeldean.
  • Valleysig-kerk: Tipperyweg 758, Faerie Glen, Pretoria: Gratis internet en koffie sal bedien word.
  • Alkantrand-biblioteek: Lynburnstraat, Lynwood Manor, Pretoria: Gratis internet en werkstasie beskikbaar.

Inwoners wat van die gimnasiums se geriewe gebruik wil maak moet ʼn afskrif van hul ID-dokumente saamneem, aangesien registrasie vereis word.

Hilgard Matthews, woordvoerder van Stad Tshwane, het Woensdag gesê goeie vordering is die afgelope 24 uur gemaak. Die 630 m²-transformatorkabels is getoets; boonste en onderste geleistange is geïnstalleer en die drukking sal Donderdag getoets word; 80% van Dak C is afgehandel en die aarding van die substasie is reeds gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Francois ·

Hierdie moes seker nooit gebeur het nie, maar voorspoed vir die herstel spanne. Dit kan nie maklik wees nie.

Marius ·

Dit is ‘n wonderlike inisiatief van die VF Plus en die instansies wat punte beskikbaar stel waar mense uitgehelp kan word. Dit lyk of sonkrag al hoe meer lyk na ‘n goeie manier om nie meer van die kragvoorsieners afhanklik te wees nie. Ongelukkig is dit ‘n baie duur opsie.

madels ·

Maroela Media dis net net hierdie substasie wat n probleem is nie maar ook Wapadrand substasie. N massiewe gebied is al vir 4 dae sonder krag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.