Die hofsake wat SA vanjaar geruk het

Jason Rohde. Foto: Armand Hough/ANA

Indien Suid-Afrika se howe ʼn televisiehofdrama was, sou daar in 2018 meer as genoeg gebeure gewees het om ʼn boeiende storielyn te verseker. Van ʼn gesinsmoord tot die wettiging van die private gebruik van dagga – daar was talle sake wat verslaggewers laat bontstaan het om al die jongste hofgebeure met die publiek te deel.

Hoewel dit onmoontlik is om ál die groot en nuuswaardige hofsake in een berig saam te vat, het Maroela Media gaan kyk na van die grootste hofsake wat in 2018 aangehoor is:

  1. Die Jason Rohde-moordsaak: Die welgestelde sakeman Jason Rohde is aangekla van die moord op sy vrou, Susan, in ʼn hotelkamer op die Spier-landgoed op 24 Julie 2016. Rohde is in November vanjaar, ná ʼn lang verhoor, skuldig bevind op aanklagte van moord en regsverydeling. Die hof het Rohde se verweer dat Susan selfmoord gepleeg het, verwerp en beslis dié weergawe van gebeure kan nie moontlik waar wees nie. Die vonnisverrigtinge sal op 18 Februarie hervat word.
  1. Die moord op Courtney Pieters: Mortimer Saunders is in November vanjaar in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op die driejarige Courtney Pieters. Saunders het die kleuter van Elsiesrivier in Mei vanjaar miergif ingegee, haar verkrag en verwurg voordat hy haar liggaam in ʼn nywerheidsgebied gaan stort het. Saunders is twee keer lewenslange tronkstraf vir die misdaad opgelê.

Henri Van Breda ná sy skuldigbevinding (Foto: AP Photo/Nasief Manie)

  1. Die De Zalze-moorde: Henri van Breda (23) is in Junie vanjaar drie lewenslange vonnisse opgelê vir die moorde op sy ouers en broer. Van Breda het in Januarie 2015 sy ouers, Martin en Theresa, broer, Rudi, en suster, Marli, met ʼn byl in hul huis op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch aangeval. Marli het die aanval oorleef, maar kan niks van die aand onthou nie. Van Breda het die appèlhof in Bloemfontein genader om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer, maar dit is in November van die hand gewys.
  1. Die dagga-hofsaak: Die konstitusionele hof het in September vanjaar ʼn vroeëre uitspraak van die hooggeregshof in Kaapstad gehandhaaf wat bevind het dat die kriminalisering van daggagebruik, -besit en -kweking in die privaatheid van die huis ongrondwetlik is. Die parlement het opdrag gekry om gedeeltes van die Wet op Dwelms en Dwelmhandel en die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe te wysig sodat dit wettig is om dagga in die privaatheid van jou huis te kweek, besit en gebruik. Die uitspraak het gemengde reaksie van verskeie sektore van die samelewing ontlok.
  1. Verjaring van seksuele misdade: ʼn Baanbreker-uitspraak is in Junie vanjaar deur die konstitusionele hof gelewer wat ʼn einde bring aan die 20 jaar lange tydsbeperking waarin vermeende seksuele oortreders vir hul misdade vervolg kan word. Die hof het beslis dat artikel 18 van die Strafproseswet, wat bepaal dat daar ʼn beperking is op die tydperk wat seksuele oortredings aangemeld en die oortreders vervolg kan word, teenstrydig met die Grondwet is.

Bill Cosby kom by die Montgomery-hof aan in Norristown, Pennsylvania (25 September 2018). Foto: Matt Slocum/AP Photo

  1. Bill Cosby se seksuele aanklagte: Die bekende Amerikaanse akteur en komediant, Bill Cosby, is in September vanjaar in Norristown, Pennsylvania, drie tot tien jaar tronkstraf opgelê vir die seksuele aanranding van Andrea Constand. Cosby is in April skuldig bevind op drie aanklagte van seksuele aanranding nadat hy Constand in 2004 bedwelm en gemolesteer het. Sedert Constand in 2005 vir die eerste keer na die owerhede is om aan te meld dat Cosby haar seksueel gemolesteer het, het meer as 60 vroue Cosby van seksuele aanranding beskuldig. Geen van dié bewerings het egter tot strafregtelike aanklagte gelei nie.
  1. Korrupsie-aanklagte teen Jacob Zuma: Jacob Zuma (76) het vanjaar uiteindelik in die beskuldigdebank verskyn op 16 aanklagte wat bedrog, korrupsie en rampokkery insluit. Dit hou verband met 783 betalings wat hy na bewering ontvang het as omkoopgeld om die Franse firma Thales teen ʼn ondersoek na die omstrede multimiljardrand-wapentransaksie te beskerm. Die saak sal op 20 Mei 2019 hervat word.
  1. Zuma se seun ook in die hof: Afgesien van oudpres. Jacob Zuma het sy seun, Duduzane, ook vanjaar sy verskyning in die beskuldigdebank gemaak. Duduzane word aangekla van strafbare manslag in verband met ʼn noodlottige ongeluk in 2014 waarin Duduzane se Porsche teen ʼn taxi gebots en die dood van die Zimbabwiese burger Phumzile Dube veroorsaak het. Die voorverhoorverrigtinge in die saak sal op 24 Januarie 2019 begin.

Grace Mugabe. Foto: (AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi, File)

  1. Grace Mugabe en die model: Gabriella Engels, ʼn Johannesburgse model, het ʼn aanklag van aanranding teen die voormalige Zimbabwiese presidentsvrou, Grace Mugabe, aanhangig gemaak nadat Mugabe haar glo in Augustus 2017 in ʼn hotel in Sandton aangerand het. Mugabe het egter nie daarna in die hof verskyn nie, aangesien die Suid-Afrikaanse regering diplomatieke immuniteit aan haar toegestaan het wat verhoed het dat sy vervolg kon word. AfriForum het hom tot die hof gewend om dié diplomatieke immuniteit te betwis en die hooggeregshof in Johannesburg het in Julie besluit om die diplomatieke immuniteit wat aan Mugabe toegestaan is, ter syde te stel.
  1. Tom Moyane se hofstryd: Tom Moyane, die afgedankte kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het hom vroeg in Desember tot die hooggeregshof in Pretoria gewend in ʼn poging om weer in sy amp as hoof van die inkomstediens aangestel te word. Regter Hans Fabricius het egter dié aansoek met koste van die hand gewys.
  1. Stella-koshuismoorde: Die moord op die 17-jarige Sharnelle Hough en 16-jarige Marna Engelbrecht in hul koshuis op Stella, Noordwes, in Mei vanjaar, het skokgolwe deur die land gestuur. Kort nadat die meisies se liggame ontdek is, is Xander Bylsma (19), Sharnelle se ekskêrel, in hegtenis geneem. Bylsma ontken skuld op die aanklagte teen hom. Die verhoor sal na verwagting in 2019 begin.

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n sewejarige dogtertjie in ‘n Dros in Pretoria verkrag het (Foto: Jonisayi Maromo/ANA

  1. Die Dros-verkragtingsaak: ʼn 20-jarige man is in September vanjaar in hegtenis geneem nadat hy na bewering ʼn sewejarige meisietjie in ʼn Dros-restaurant in Pretoria verkrag het. Die beskuldigde het nog nie op die aanklagte teen hom gepleit nie. Hy is vir psigiatriese waarneming verwys en sal op 15 Januarie 2019 weer in die hof verskyn.
  1. Die Coligny-moordsaak: Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34) is in Oktober skuldig bevind aan die moord op die 16-jarige Matlhomola Mosweu in Coligny, Noordwes. Doorewaard en Schutte het Mosweu op 20 April 2017 van ʼn bewegende bakkie afgegooi en die seun het weens dié val gesterf. Doorewaard en Schutte sal op 28 Januarie 2019 gevonnis word.
  1. Parys-boere: Die saak teen die ses mans van die Parys-distrik in die Vrystaat wat aangekla word van die moord op twee vermeende plaasaanvallers in Januarie 2016 is weereens nie vanjaar afgehandel nie. Boeta van der Westhuizen, Loedie van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo en Miela Janse van Vuuren word aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Die verhoor sal van 28 Januarie tot 15 Februarie 2019 in die rondgaande hof in Parys plaasvind.
  1. Die Mooinooi-moordsaak: Die sogenaamde Mooinooi-moordsaak sal op 11 Maart 2019 in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word. Koos Strydom (52), sy vrou, Mercia Strydom (22), Alex Modau (36) en twee Mosambiekse broers, onderskeidelik 18 en 25 jaar oud, word aangekla van die moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk in Desember verlede jaar. Die twee Mosambiekers staan ook tereg op aanklag van verkragting en hul name kan daarom nie genoem word voordat hulle gepleit het nie.

Herman van Tonder. Foto: Via Facebook.

  1. Lodge-eienaar van moord aangekla: Herman van Tonder (50), die eienaar van die bekende Mbizi-lodge buite Bela-Bela in Limpopo, is in Januarie vanjaar aangekla van die moord op sy vrou, Elrina. Elrina het reeds in November 2014 gesterf. Van Tonder se verhoor sal van 4 tot 8 Maart 2019 in die rondgaande hof in Lephalale plaasvind.
  1. Die moord op Anika Smit: Die geregtelike ondersoek na die moord op Anika Smit is vanjaar in die Pretoria-Noord-landdroshof hervat. Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. André van Wyk (25) is aanvanklik vir die moord vervolg, maar hy is in Augustus verlede jaar vrygelaat nadat die direkteur van openbare vervolging (DOV) besluit het om hom nie verder op aanklagte te vervolg nie.
  1. Die KFC-aanrandingsaak: Marius Harding, Stephan Nel, DJ van Rooyen, Ockert Muller en Joshua Schultz staan tereg op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer en die rig van ʼn vuurwapen nadat hulle na bewering in Augustus 2017 vir Jacob en Dudu Sono verbaal en fisiek buite ʼn KFC in Montana aangerand het. Die vyf het verskeie kere deur die jaar in die hof verskyn, maar steeds sloer die saak. Hulle sou in Desember weer in die hof verskyn het.
  1. Die moord op Jayde Panayiotou: Die verhoor teen die sakeman Christopher Panayiotou wat ʼn huurmoordenaar betaal het om sy vrou, Jayde, te ontvoer en vermoor, was een van die grootste sake wat in 2017 aangehoor is. Dié saak was vanjaar weer voor die hof toe Panayiotou hom tot die hoogste hof van appèl in Bloemfontein gewend het om teen sy vonnisoplegging te appelleer. Sy aansoek het misluk en Panayiotou moes begin om sy vonnis van lewenslange tronkstraf uit te dien.
  1. Die Oscar Pistorius-moordsaak: Ook die saak teen Oscar Pistorius wat skuldig bevind is aan die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag 2013, het na 2018 oorgespoel toe Pistorius tot in die konstitusionele hof baklei het om teen sy vonnis te appelleer. Die konstitusionele hof het in April vanjaar Pistorius se aansoek van die hand gewys. Die voormalige Paralimpiese atleet dien tans sy vonnis van 13 jaar en vyf maande tronkstraf uit.

Kobus en Louisa Koekemoer in Mei 2018 in die hof. Foto: Phillip Bruwer

  1. Poppie van der Merwe se moordenaars gevonnis: Louisa (46) en Kobus Koekemoer (44), die ma en stiefpa van die driejarige blondekopdogtertjie, Poppie van der Merwe, is in Mei vanjaar tot lewenslange tronkstraf vir die moord op die kleuter gevonnis. Poppie is op 25 Oktober 2016 by die Brits- provinsiale hospitaal dood verklaar nadat Louisa en Kobus haar erg aangerand het.
  1. Die Springs-gruwelhuis: ʼn Ouerpaar van Springs aan die Oos-Rand wat hul vyf kinders jare lank mishandel het, is in Oktober in die hooggeregshof in Pretoria gevonnis. Die egpaar se kinders is jare lank in ʼn huis in Springs gevange gehou, mishandel, gemartel en selfs seksueel aangerand. Die pa is tot effektief 35 jaar tronkstraf op ʼn reeks aanklagte gevonnis, terwyl die ma tot vyf jaar tronkstraf gevonnis is wat in die geheel opgeskort is. Die egpaar se name kan nie bekendgemaak word nie om die identiteit van hul kinders te beskerm.
  1. Vicki Momberg: Vicki Momberg, ʼn eiendomsagent van Johannesburg, het vanjaar geskiedenis gemaak as die eerste persoon in Suid-Afrika wat tronkstraf vir rassisme opgelê is. Momberg is in Maart vanjaar drie jaar tronkstraf opgelê nadat sy op video vasgevang is waar sy ʼn polisiebeampte 48 keer die k-woord toesnou. Momberg se appèlaansoek teen haar skuldigbevinding en vonnis sal in 2019 aangehoor word.
  1. Brian Molefe en sy pensioen: Brian Molefe, die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, is in Januarie vanjaar deur die hooggeregshof beveel om die R11 miljoen terug te betaal wat hy reeds uit ʼn onregmatige pensioenuitbetaling ontvang het. Molefe het hom tot die appèlhof gewend om teen die hofbeslissing te appelleer. Sy aansoek is in Oktober met koste van die hand gewys.

Louis Smuts, sy vrou Belinda en hul kinders (Foto: Facebook)

  1. Die Balfour-plaasmoorde: Gert Smuts (78), sy vrou, Paulina, (71), hul seun, Louis (47), en skoondogter, Belinda (42), is in Februarie verlede jaar op die plaas Modderbult in die Balfour-omgewing in Mpumalanga vermoor. Amos Mthembu (29) is in Oktober vanjaar lewenslange tronkstraf opgelê vir drie van die moorde sowel as die verkragtingsklag. Hy is nog ʼn bykomende 38 jaar tronkstraf vir die ander aanklagte opgelê. Sy vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Prince Mngomezulu (27) is skuldig bevind op aanklag van die besit van gesteelde goedere en is tot 18 maande korrektiewe toesig gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.