Dié hospitale steeds toe ná Covid-19-gevalle

Netcare se St Augustine-hospitaal in Glenwood, Durban. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

Twee Netcare-hospitale in KwaZulu-Natal en een Mediclinic-hospitaal in Gauteng is steeds gesluit nadat verskeie gevalle van die nuwe koronavirus vroeër vandeesmaand by dié hospitale aangemeld is. Onderskeie ondersoeke na dié gevalle is onderweg.

Craig Murphy, streeksdirekteur van Netcare aan die kus, het aan Maroela Media gesê dié hospitaalgroep se St. Augustine-hospitaal in Durban en sy Kingsway-hospitaal in Amanzimtoti is tans steeds gesluit terwyl twee onafhanklike ondersoeke deur spesialiste in aansteeklike siektes en epidemioloë gedoen word.

Die hospitale is vroeër vandeesmaand vir nuwe opnames gesluit kort nadat verskeie gevalle van Covid-19 in die hospitale aangemeld is. Die hospitale se ongevalle-afdelings is ook weens voorsorgmaatreëls gesluit terwyl alle dringende chirurgiese gevalle na ander hospitale oorgeplaas is. Alle Netcare-fasiliteite het in dié stadium elektiewe chirurgie gestaak weens die Covid-19-pandemie.

Maroela Media het vroeër berig die St. Augustine-hospitaal is gesluit nadat 66 gevalle van die nuwe koronavirus teen 9 April in die hospitaal bevestig is. Vier mense het teen dié tyd in die hospitaal weens die virus gesterf.

Net ’n enkele saal het oopgebly om pasiënte wat positief vir Covid-19 getoets het, te behandel.

Verskeie gevalle is sowat ’n week later by die Kingsway-hospitaal aangemeld waarna dieselfde protokol gevolg is. Die hospitaalgroep wou nie sê hoeveel mense by Kingsway positief vir die nuwe virus getoets het nie.

Volgens Murphy is albei hospitale sedertdien ontsmet met behulp van ultraviolet ontsmettingsrobotte. Die departement van gesondheid sal bepaal wanneer die hospitale weer heropen, het hy verduidelik.

Netcare se Kingsway-hospitaal in Amanzimtoti in KwaZulu-Natal. (Foto: Netcare)

In Gauteng het minstens 14 personeellede, van wie sewe gesondheidswerkers, by die Morningside Mediclinic in Johannesburg verlede week positief getoets vir die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak. Dié hospitaal is gevolglik gesluit.

Tertia Kruger, woordvoerder van Mediclinic, het bevestig dat die hospitaal na verwagting tot eerskomende Maandag gesluit sal bly om pasiënte, dokters en personeel se veiligheid te verseker.

Volgens Kruger is byna 1 000 personeellede sedertdien vir die virus getoets van wie 90% negatief getoets het. Diegene wat wel positief getoets het vir Covid-19 is in dié stadium in isolasie. “Alle personeellede wat positief getoets het, asook hul hoërisikokontakpersone, is uit diens geplaas en word op ’n gereelde grondslag opgevolg totdat hulle óf ten volle herstel het of gereed vir diens verklaar is,” het Kruger gesê.

Die hospitaal is ook ontsmet.

Parklands-hospitaal

Netcare se Parklands-hospitaal se ongevalle-afdeling het ook tydelik geskuif hoewel dit nié weens gevalle van die nuwe koronavirus is nie, het Murphy verduidelik.

Die hospitaal het reeds verlede jaar goedkeuring vanaf die departement ontvang om sy ongevalle-afdeling op die hospitaal se derde verdieping te skuif en op te gradeer. Die werkproses kon egter nie voortgaan weens die pandemie nie.

Daar is intussen besluit om die ongevalle-afdeling tydelik na buite die hospitaal te skuif om toegang tot die hospitaal te beperk. Die ongevalle-afdeling hanteer egter in dié stadium slegs gevalle wat deur die nooddienste na die hospitaal gebring word.

Die hospitaal gaan andersins normaalweg voort, het Murphy verseker.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.