Dié inentingspersele nou aktief in Gauteng

(Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die Gautengse LUR vir gesondheid, dr. Nomathemba Mokgethi, het haar tevredenheid uitgespreek oor die vordering van bykomende inentingspersele in die provinsie.

Vier bykomende persele by die Charlotte Maxeke Johannesburg- akademiese hospitaal, Dr George Mukhari- akademiese hospitaal, Netcare Milpark- privaat hospitaal en Lenmed Ahmed Kathrada- privaat hospitale is oopgemaak. Dit is bykomend tot die eerste twee persele (Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal en Steve Biko- akademiese hospitaal) en bring die getal inentingspersele in Gauteng op ses te staan, het Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê.

“Hoe meer persele by die stelsel bygevoeg kan word, hoe meer gesondheidswerkers kan bereik word,” het Mokgethi bygevoeg. “Ek is baie bly om te sien dat daar ʼn toenemende aanvraag onder gesondheidsorgwerkers is om deel te neem aan dié vroeë toegangsprogram wat deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad van stapel gestuur is as deel van die Sisonke-inentingsprogram.”

In hierdie tweede ronde het Gauteng 18 040 dosisse entstof vir die staat (13 840) en privaat sektor (4 200). Helfte van die dosisse (8 520) sal vandeesweek nog gebruik word en die ander helfte (9 520) sal volgende week gebruik word, sodra dit afgelewer is, het Modiba gesê. Die provinsie het vroeër 16 800 dosisse ontvang wat voor skedule gebruik is.

Dr. Joe Phaahla, adjunkminister vir gesondheid, was Woensdag een van die persone wat ingeënt is toe die inentingsperseel by die Dr George Mukhari-hospitaal amptelik geopen is. Hy het beklemtoon hoe belangrik dit is om die gesondheidsorgstelsel eerste te beskerm sodat gesondheidsorgwerkers van voor af leiding kan gee en seker kan maak dat soveel as moontlik uiteindelik ingeënt word.

Die ses inentingspersele in Gauteng sal hoofsaaklik tydens werksure bedrywig wees. Die ure kan egter van perseel tot perseel verskil en gesondheidsorgwerkers moet hulself vertroud maak met die betrokke perseel om teleurstelling en vertraging te voorkom, het Modiba bygevoeg. Gesondheidsorgwerkers moet by https://vaccine.enroll.health.gov.za registreer waarna ʼn elektroniese bewys uitgereik sal word wat gebruik moet word om die entstof te ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bernard ·

Speletjie sonder enige betekenis. Sou 3 weke geneem het om alles gereed te kry!

Baardman ·

Wonderbaarlik hoe vinnig hulle nou skarrel te midde van die positiewe hofuitspraak dat regering nie meer die monopolie het vir die aankoop en verspreiding nie. Julle sal moet aanstoot. As die privaatsektor eers spoed kry, ent hulle julle wins onder julle uit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.