Dié kleinhandelaar laat jou beursie glimlag

(Argieffoto: Unsplash)

Jou inkopiemandjie word elke maand duurder en al hoe meer mense sukkel om hul begrotings te laat klop. Die redes hiervoor wissel van die oorlog in Oekraïne tot ʼn swakker rand en natuurlik rampe soos die onlangse oorstromings in KwaZulu-Natal.

Die maatskappy JustMoney sê hoë lewenskoste – en veral die prys van kos – raak almal. Die maatskappy het vanjaar weer navorsing oor die pryse van 13 basiese items by drie van die bekendste kleinhandelaars gedoen.

Verlede jaar het JustMoney die koste van 12 basiese voedselitems by drie groot kleinhandelaars bereken – Checkers, Pick n Pay (PnP) en Woolworths. Vanjaar is nog ʼn item by die mandjie gevoeg – kookolie – waarvan die prys die afgelope ruk geweldig gestyg het. Die styging word onder meer toegeskryf aan ʼn wanpassing tussen vraag en aanbod, asook die onnodige opeenhoping van die produkte.

Pick n Pay stap vanjaar met die louere weg – al is dit ook net-net – as die kleinhandelaar waar verbruikers die minste vir die 13 items betaal.

PnP se 16-stuk-hoenderpakke het R83,82 gekos op die dag wat JustMoney sy inkopies gedoen het, terwyl ʼn soortgelyke item R124,18 by Checkers gekos het, en R186,28 by Woolworths.

By PnP het ʼn 2,25 ℓ-bottel Coca-Cola net R13 gekos, in vergelyking met die R17,99 wat Checkers gevra het, en die R20,99 wat JustMoney daarvoor by Woolworths opgedok het.

Vanjaar se mandjie bevat een item elk van die volgende:

  • 1 witbrood
  • klein pakkie piesangs
  • 2,5 kg suiker
  • 80 Freshpak Rooibos-teesakkies
  • 1 ℓ-langlewemelk
  • 2 ℓ-kookolie
  • 410 g-blikkie bone
  • 9 rolle toiletpapier
  • 2,25 ℓ-Coca-Cola
  • 16 stukke rou hoender
  • 2 kg aartappels
  • 2 kg witrys
  • 2 kg Sunlight 2-in-1-waspoeier

Verlede jaar het die prys van ʼn mandjie R368,71 by Checkers gekos. By PnP het die betaalstrokie vir die items R411,99 gewys en by Woolworths was dit R442,34.

Die bottel kookolie het vanjaar bygekom en die pryse van die kosmandjies lyk nou só:

  • Pick n Pay: R519,71
  • Checkers: R521,06
  • Woolworths: R624,16

“Ons raad aan verbruikers is om deur die rakke by verskillende supermarkte te stap, of vergelykings te tref op inkopie-apps. Daar is heelwat afslag en spesiale aanbiedinge te vinde,” sê Shafeeka Anthony, bemarkingsbestuurder van JustMoney.

Lojaliteitsprogramme kan jou ook ʼn hele paar rand help spaar.

Verlede jaar het PnP se Smart Shopper die beste voordele gebied, terwyl dié eer vanjaar aan Checkers gaan. Groot besparings was beskikbaar sodra jy jou Xtra Savings-kaart gebruik, sê JustMoney.

Danksy die lojaliteitsprogram was die prys van nege rolle Rose Collection-toiletpapier verminder van R69,99 tot R59,99, twee 2,25 ℓ-bottels Coca-Cola het R30,99 gekos (gewoonlik is dit R17,99 of R36 in totaal), terwyl ʼn 2 kg-sak Spekko-witrys danksy ʼn Xtra Savings-kaart R24,99 gekos het, pleks van die R32,99 daarsonder.

Woolworths het dalk nie die goedkoopste kosmandjie gehad nie, maar was “tops” wat betref ʼn inkopie-ervaring. Die winkels is ontwerp vir inkopiegerief en produkte word aantreklik uitgestal, sê JustMoney.

Woolworths het boonop ʼn koffiewinkel waar gehaltekoffie teen R23 – met ʼn WRewards-kaart – gekoop kan word, terwyl dit jou tot R40 elders kan kos.

JustMoney sê sy navorsing wys daar is, ondanks stygende pryse, steeds maniere om te spaar. Groot kleinhandelaars reik uit na verbruikers met onder meer spesiale aanbiedinge in hul winkels, items wat nuut op die mark is, of multi-item-aanbiedinge.

“Dit maak finansiële sin om ʼn slimmer inkopieganger te word, koste van soortgelyke produkte te vergelyk, belonings met lojaliteitskaarte te versamel en te bereken wat ʼn grootmaataankoop sou kos,” sê Anthony.

“Hierdie berekeninge, en die uitslag van JustMoney se jongste opname, onthul waar die beste besparings gevind kan word.”

Aanlyn inkopies kan jou ook ʼn paar rand spaar omdat jy op hierdie manier byvoorbeeld nie brandstof gebruik nie en nie vir parkering hoef te betaal nie. Boonop is daar geen aanloklikhede wat jou dalk geld kan laat bestee aan iets wat nie op jou inkopielysie was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

54 Kommentare

Manie ·

Checkers is besig om hulle winkels op te gradeer en dis deesdae werklik ‘n plesier om by hulle inkopies te doen. Die nuwe winkels is goed uitgelê met verskeie keuses van produkte en dit vertoon goed. Pick & Pay winkels is nie meer ‘n plesier om inkopies te doen nie, nog minder die “local” Pick & Pay winkels, hulle vertoon soos spaza shops met ‘n Pick & Pay naambord op.

Grond ·

NEE dit is nie n plesier om by Checkers inkopies te doen nie. By die Menlyn Checkers veral is daar geen beheer oor die pakkers vir die sogenaamde Sixty60 aflewerings nie met trollies wat oorals in die gange rondstaan en persone wat selfs met trollies rondhardloop in die gange.

JohanR ·

Almal vertoon deesdae soos spaza shops. Daar is nie plek om te beweeg nie en jy val oor alles. Checkers trollies is soe groot soos ‘n bus, en elkeen moet een vat of dit nou 5 items is of 50. Dis seker hoekom Checkers nou soe tamaai groot is om die trok en trailer trolleys se size in te pas!

Cindy ·

Ek persoonlik sit nie my voete in ‘n Checkers OF PnP winkel nie.. Checkers ruik permanent na vrot vleis, en PnP se personeel dink hulle doen jou ‘n guns wanneer jy jou hardverdiende geld by hulle spandeer. Ek betaal maar die paar rand ekstra by Woolworths en word ordentlik behandel, winkels is skoon en kos bly vars vir ‘n week instede van dag of twee

Manie ·

Seker die ou generasie winkels, definitief nie die verbeterde winkels nie.

Carina ·

PnP was ook maar net goedkoper omdat die Coke en hoender seker op special was daardie dag. Dit is definitief nie hul normale pryse nie. Oor die algemeen is Checkers/Shoprite BAIE goedkoper as PnP. Selfs Spar is baie keer goedkoper as PnP. WW is onbekostigbaar vir meeste mense.

thejudge ·

Checkers en Shoprite is 2 verskillende winkels. Kry eers daardie feitjie reg dan kom pos jy weer.

piet ·

Vir seker. Daai coke prys is beslis nie hul normale prys nie

Alida ·

Ons plaaslike Spar gee ook 5% afslag vir pensionarisse. En ‘n gratis tjoklit as jy vir meer as R1000 koop. En oor die algemeen vind ek hulle pryse nie duurder as ander supermarkte nie, veral as ‘n mense hulle spesiale aanbiedinge dophou, en hulle is verreweg die naaste aan my huis. Dus bespaar ek ook brandstof as ek daar gaan koop.

Andre ·

Die oorlog in Oekraïne se skuld is blykbaar net so bedrieglik as die brandstofprys.

Ansie ·

Die verskil in die pryse van die hoender is nogal groot, maar wat was die gewig?

Kattebol ·

Vra eerder wat was die varsheid…vrot by verskeie pnp winkels in Pretoria-Oos.

Snuffelgids ·

Nou die berig is teenstrydig met een wat ek in die week gelees het, waar PnP skaam behoort te kry vir hul pryse. Ek het nog nooit Coke teen daai prys gesien daar nie, dis wat n Klein blikkie kos. PnP is besig om mense weg te dryf, en ek is reeds een van hulle

piet ·

Pick ‘n Pay het my nou die dag ‘n free voucher van R50 gegee. Sal seker weer een kry in die volgende eeu.

Manie ·

Ek wil ook nie teenwoordig wees wanneer hulle die dag kraam nie, want as jy hoor, verwag hulle.

Christine ·

Ek het ‘n R500 voucher by Checkers gekry. Die personeel het ons met groot glimlagte gelukgewens. Woolworths is die winkel van diegene wat dink hulle is beter as ander. Ek het al kos by WW gekoop net om iemand tevrede te stel, en ek was uiters terleurgesteld. WW is nie altyd die beste nie, al dink die snobs so.

Snuffelgids ·

Ek was nou by PnP gewees, R141/kg vir Kameelhout wors. Ek is stom geslaan, dan is dit nog groot op die specials bord.

Fran ·

om ook nie te praat v P&P se onvriendelike personeel nie! Swak winkel! Koop nooit meer daar nie.

Eden ·

So die inflasiekoers (wat volgens die regime 6% is) is net op voedsel 41% volgens hierdie mandjie.
Die petrol prys was op R17 in Julie laas jaar. Nou is dit R25, oftewel 47% duurder.
My salaris verhoging was 2%.
Maar nou ja, dis seker apartheid se skuld.

Misky ·

R13 vir 2,25lt Coke…… ek sukkel om dit te glo en sal dadelik gaan koop as dit die geval is.

Nierkie ·

Dit was so, ek het hordes Coke Zeros gekoop. Spar het ook so ‘n special gehad, dink dis nou klaar

Misky ·

Sjoe, dis dan baie goedkoop en dis wat ek nou die dag vir buddy koeldrank betaal het. Dankie Nierkie

kaplyn ·

Coke behoort nie in hierdie mandjie van noodsaaklike items nie. Mens kan jare sonder coke oorleef.

Snuffelgids ·

Nou hulle kan dit bekostig om dit teen daai prys te verkoop en nogsteeds wins te maak…maar hulle normale pryse is amper dubbel dit. Swak van hulle kom ek sé vir jou

Dessie ·

My oorlede pa het al baie jare terug gesê daar gaan ‘n dag kom wat jy met geld in jou sak gaan staan maar niks kan koop nie!

Kattebol ·

Moenie té gretig pick n pay se winskoop-hoender koop nie. In Pretoria-Oos was al dié winkel in n 15km radius se hoender vrot toe mense dit tuis oopmaak. Daar is wyd op sosiale media daaroor gekla.

Cherokee ·

My vrou en ek koop nie by die mooiste winkels nie (dan kan jy maar by duur Woolworths koop), maar by die winkels waar ons dieselfde waarde vir minder geld kry en sonder ongerief.

Ons koop by Pavillion in Westville. Om een of ander rede is Checkers oorlaai met kopers en PnP se rye is korter. Al wat ons by Checkers koop is wegneem etes en dit doen ons wanneer klaar inkopies gekoop is by PnP. Dan moet daar in laaang rye gestaan word om daarvoor te betaal.
Pnp se wegneem etes vergelyk nie positief met die van Checkers (in die Pavillion) nie.

Voorts balanseer produkte en pryse min of meer met mekaar by die twee reuse. Jy koop net by Checkers as jy in lang rye wil staan. Natuurlik het ons al afgevra waarom meer mense by Checkers koop as by PnP, maar die afleiding is dat dit dieselfde is as by kommentare; mense stem sonder om te vergelyk. Of dieselfde as in politiek, mense laat hulle lei deur die bure.

annie ·

Die winkels was duidelik vooraf bewus van die opname want die pryse hierbo is definitief net tydelik verander. G’n van die winkels sal dit volhou nie. Dit is ook net ‘n paar items wat nie in almal se mandjie voorkom nie. Ertappels en piesangs is al van die groenterakke wat aangedui is. Vleis is tans baie duur en geïgnoreer. WW lewer gehalte-produkte en hul hoendervleis word bv met sorg hanteer. ‘n Groot plus.

JohanR ·

Ek wonder….is daar ‘m MOET dat Woolworths soe duur moet wees?

piet ·

Shoprite is die goedkoopste en Checkers effe duurder omdat die winkels meer luuks is.

Phillip ·

Ek het wors by Shoprite gekoop en dadelik van huis af gery en truggee blou en stink in Brits

piet ·

Koop groceries by Shoprite. Koop vleis by die ander winkels. Shoprite se gehaltebeheer met hul vleisprodukte en hul delicattessen is nie op standaard nie (hang af van die tak).

Manie ·

Ek weier om enige vleis behalwe hoender by ‘n kettingwinkel te koop, die gehalte is swak en ook nie noodwendig goedkoper as ‘n behoorlike slaghuis nie. In Kaapstad koop ek slegs by 1 slaghuis, Die Vleiswinkel in Brackenfell. Dis ‘n plesier.

AH ·

Ek stem met jou saam Manie! Die Vleiswinkel was altyd terwyl ek in Brackenfell gewoon het my gunsteling slaghuis! Helaas woon ek nou nie meer daar nie, maar in Bloemfontein waar daar gelukkig ‘n paar goeie slaghuise naby my is!

Pietertjie ·

My beursie het die glimlag van ‘n ou oom wat sy kunsgebit verloor het.

KatjieDeKat ·

Mense wat kan bekostig om kos by Woolworths te koop moet asseblief nie kla oor die lewenskoste nie. Dis belaglik. Ek kan skaars by Shoprite koop.

Manie ·

Woolworths is nie altyd so duur as die algemene persepsie wat mense het nie. Ek koop min by hulle, maar hulle kwaliteit is goed.

AH ·

Mens moet deesdae kyk watter winkel die naaste aan jou is vir jou inkopies. Met die brandstofprys wat nou so hoog is moet ‘n mens behoorlik begroot en brandstof inreken voordat jy kan gaan kos koop….

Manie ·

Stem saam, ek was lief om varkvleis by die Klein Joostenberg slaghuis te koop, selfs hulle pryse was altyd billik en produkte van uitstaande gehalte, maar die 30 km se ry gaan dit nie meer regverdig nie.

Lezette ·

Nou hoe gemaak as nie een van hierdie 3 winkels in ons dorp is nie?!

Sandra ·

Die enigste ding wat ek van hou wat Checkers aanbetref is hulle Xtra savings kaartjie. Mens spaar werklik, op die plek. Die enigste ding van hulle wat my irriteer is die mandjies vol goed in die middel van die gange.

Andries ·

Waar kry jy 2.25 L coke vir daardie prys? Jy sal nie eens 1 L vir daardieprys kry nie. Bog storie die.

DieKriek ·

OK winkels is stadig besig om orals op te spring. Hulle pryse is goed en hulle is skoon en mooi uitgelê. Gelukkig is daar een naby my huis.

Pio ·

Ek skat die 16 stuk hoenderpak is gemmideld 2.4 kg. Dus werk P&P s’n uit op R35.00 per Kg. Checkers op R51 en WW R77. P&P het definief ‘n M03rse special aangehad. Hul heel hoenders kos normaalweg gem. R48 teen checkers se R39.

Kiepie ·

Lojaliteitskaarte of -punte is oëverblindery! Hoekom kan ‘n handelaar vir my 5% of meer afslag gee net omdat ek sy kaart in my beursie dra? Of erger nog, ek word gedwing om 2 of meer van ‘n item te koop om vir hierdie afslag te kwalifiseer. Dit beteken mos eintlik hulle blaas die prys op (want ek laat my nie vertel hierdie spesiale prys is onder hulle aanvaarde marges nie) en diegene wat nie aan hulle klub behoort nie betaal ‘n premie (lees boete). Al wat dit is is ‘n slim manier wat hulle uitgewerk het om verbruikers te dwing om al hul besteebare inkomste op een plek te spandeer.
Ons as Suid Afrikaanse verbruikers is toffies!

Nico ·

Pryse by supermarkte styg bykans elke week, daar is geen prys beheer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.