Die ‘land brand’, wat is die plan? – DA

‘n Vragmotor wat vroeër in Gauteng geplunder is. (Foto: Twitter)

Die DA het pres. Cyril Ramaphosa gekap vir ʼn gebrek aan besonderhede en ʼn duidelik uitgestippelde plan om die afgelope paar dae van geweld wat in KwaZulu-Natal en Gauteng uitgebreek het, te stuit.

“Ons land is letterlik aan die brand. Baie Suid-Afrikaners het alles wat hulle gehad het weens die plundery verloor en duisende werksgeleenthede het in die slag gebly,” het John Steenhuisen, DA-leier, ná afloop van Ramaphosa se toespraak oor die onrus gesê.

“Kortliks was dit duidelik dat die president en sy regering geen werklike plan het nie en dat burgers die skares plunderaars en opstokers op hul eie die hoof sal moet bied.”

Ramaphosa het onder meer bevestig dat die weermag in die twee provinsies ontplooi gaan word in ʼn poging om die oproer, wat aanvanklik gespruit het uit oproepe om oudpres. Jacob Zuma uit die tronk vry te laat, te stuit.

Steenhuisen sê die weermag moet ingespan word om die polisie te steun en nie net aangewend word om nasionale sleutelpunte te beskerm nie.

Die DA sê hy steun in beginsel alle pogings om die geweld in bedwang te bring en wet en orde te herstel.

“Die situasie is toegelaat om hierdie punt te bereik juis omdat ons wetstoepassingsagentskappe versuim het om vroeg beheer te neem en hul werk te doen. Wat nou van werklike belang is, is dat wetstoepassers beheer oor die situasie terugneem, veral in KwaZulu-Natal en Gauteng, maar ook elders in Suid-Afrika. Hulle moet die werk doen wat die Grondwet van hulle vereis.”

Steenhuisen sê ʼn gekoördineerde benadering is nou nodig en dat magte op die grond nie blindelings op sporadiese voorvalle kan reageer nie.

Hy sê daar moet ook spesifieke fokus wees op die beskerming van gesondheidsorginstellings en die voorsiening van suurstof aan Covid-19-sale in geweldgeteisterde gebiede.

“Terwyl die land stry teen die derde vlaag van die dodelike pandemie, is dit belangrik dat ons steeds die siekes en kwesbares versorg.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het op sy beurt gesê Ramaphosa se “flou houding” oor die onrus stel teleur, maar dié party sal egter ook enige poging steun om die huidige vlaag van “anargistiese geweldpleging in die land te ontlont”.

Groenewald sê volgens die president gaan die land se intelligensiestrukture nou saamwerk, maar “te min is te laat”.

“Terwyl pres. Ramaphosa vanaand ʼn flou houding ingeneem het oor die onrus wat op landwye anargie afstuur, het regstreekse beelde oor TV-stasies gewys hoe winkelsentrums gestroop word sonder ʼn enkele lid van die weermag of die polisie op die toneel.

“Dit laat ʼn vraag ontstaan, naamlik of die staat die vermoë en erns het om die situasie in KwaZulu-Natal en Gauteng te ontlont voordat dit na die res van die land oorspoel. Daar sal vinnig en ferm opgetree moet word om dit wel te voorkom.”

Groenewald sê die party vind dit ook teleurstellend dat die president redes soos werkloosheid en armoede voorgehou het as moontlike verskoning vir grootskaalse plundery.

“Dit is onaanvaarbaar en die optrede van die oproermakers is niks anders nie as misdadigheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Michael ·

Lyk my hy is nou nie meer so braaf nie-makliker om ‘n gesin wat op strand ontspan te dreig en in hegtenis te neem as sy broers in die strate

melaney ·

CR sal weer kom met leë beloftes bv duisende werksgeleenthede, ens. Verder is daar geen plan en beslis geen geld oor om uit te deel nie.

Pieter ·

Werkloosheid en armoede as redes. Dit is in elk geval die ANC se toedoen, met hul ekonomiese beleid en Covid regulasies. Die president kan nie 2 dinge saam balanseer nie. Onbevoeg.

Naomi ·

Ja en waar was ons polisie….te laat…geen plan B toe verwoesting begin in Natal het mos geweet die situasie gaan versprei want jy gaan mos in en vat net……sterkte aan besighede en hordes wat sonder werk is….

RB ·

Die polisie is leierloos!
KZN polisie moet Cele ondersoek vir korrupsie van R1B (lees berig op ander media). Cele weier kommentaar . . . .
Dus blyk Cele voor in die koor van korrupte kriminele te wees. Hy kan sekerlik nie sy dissipels verhoed om te oefen en beoefen wat hy en se mede leiers hulle leer nie!

Keelvol ·

RB as dienende lid van die polisie gaan ek met jou saam stem. Regstellende aksies het hier greys dat dit nie kan werk nie.

Werner ·

Hierdie situasie gaan landswyd uitbrei.Die anargiste sien dat die regering nie oor die vermoe beskik om hulle te keer nie.

Cecilia ·

Dit het klaar landswyd versprei. In Mpumalanga gaan dit net so erg. Maar weer skitter d Wetstoepassers in hul afwesigheid.

Keelvol ·

Cecilia, is jy bewus hoeveel polisie manne is daar werklik? Nie genoeg om die situasie te beheer nie. Hou op kritiseer sonder feite.

Elize ·

Ramaphosa het gese hy is nou in beheer van die Weermag en Polisie. Ek wonder waar het hy vir Cele wat ek nog altyd gedink het ‘n Zuma – man is opgesluit?

Johann ·

Gaan soek die video clip wat Carl Niehaus gesê het………….. Dis waar dit begin het en hy het die ANC gewaarsku….

Anthony ·

Se ek ook Johann, hy moet gedagvaar word, hy het dit aan gehits.

jou gewete ·

Ek hoop as alles verby is stel die massas wat skade gely het eise in teen die opstokers wat bekend is, teen die minister van polisie wat nie sy werk gedoen het en ook die president wat versuim het om teen sy minister op te tree in. Ek glo tussen hulle kan n groot deel van verliese opgemaak word. Is almal vermoeende mense

Kokerboom ·

Politieke partye slegs daar vir sensasie en eie gewin.
Hierdie was ‘n wekreoep dat gemeenskappe self beheer neem van veiligheid in eie gebiede insluited winkelsentrums, skole ens

Flip ·

Waar is die waterspuit kanonne, hoekom gebruik hulle nie die brandweer nie, veral on die brande op die paaie te blus, wat van gebruik die helikopters wat water gooi vir brande? Gooi hulle nat. As die klomp nat is in die koue en nie kan vuurmaak nie sal hulle gou bedaar.

Harley Davidson ·

Die DA en VF+ kritiseer net doen iets positief en onderhandel dat die weskaap ‘n onafhanklike staat word dat daar ‘n plekkie is vir ordentlike mense met waardes ongeag ras met leiers wat ‘n volk kan lei en waar almal veilig kan wees.

Theunis ·

Mense ek glo nie dit is nou tyd om monde uit te spoel oor wat wie gaan doen nie.

Cherokee ·

‘n Halfuur gelede in ‘n hysbak, het ‘n swart man gesê hy is op pad na sy winkel om dit te probeer beskerm. Toe ek vra hoe hy dit wil beskerm teen massas, het hy hulpeloosheid erken en gesê hulle (winkeleienaars) probeer net saamstaan ek kyk wat hulle kan doen. Middernag omgewing is Chester slaghuis ook geplunder en leeg gemaak. Die apteek se vensters is gebreek en die rakke is leeg gemaak. Spar het deurgeloop. Shoprite is geplunder. Dit is absolute chaos, met massas waarvan vele nie weet wie zuma is nie.

Werner ·

Wag in spanning dat gun free SA hulle mense mobiliseer en die besighede beskerm

Petrus Albertus ·

Ek stem, laat hulle vir ons kom wys hoe gaan dit werk as wetsgehoorsame burgers ontwapen is.

Gilla ·

Dit is nie nou die tyd vir politieke partye om hulle twee sent te gee en alles te “veroordeel” nie. Tyd om van julle stoele af te klim en aktief te wees. In krisistye soek ek nie ‘n politieke party wat net aanhou praat en alles om ons brand nie. Daar is genoeg tyd om dit later te doen, staan eerder NOU saam dat ons deur hierdie situasie kan kom.

Petrus Albertus ·

Goed en wel maar dan moet hulle seker eers ‘n plan op die tafel hê. Waar is die plan?

Cecilia ·

Die SAPS en d SANW is onbevoeg om enige situasie te hanteer. Hul is d 1stes wat weghol as d skote klap.

Henry ·

Die DA en VF+ praat ook oor wat ons as publiek reeds weet. Gee eerder n direkte antwoord: Wat sou ons doen as ons die regerende party was.

JM ·

Gilla, nou wat stel jy voor moet die politieke partye doen? Wat is jóú oplossing?

Nozi ·

JM, ons kan vir jou presies verduidelik maar MM gaan dit nie plaas nie. Hoe het hul in die vroeer jare onluste in beheer gehou. Vir party mense help mooi woordjies glad nie.

Adeline ·

Wel – praat het nog nooit in enige geskiedenis boek of verlede in enige plek in die wêreld anargie opgelos of gestop nie. Die rede en waarheid van die toestand van ons land is slapgat houding van die regerende party en al die ander wat in beheer sit van om iets te doen. Dit is ‘n binne cANCer probleem en hulle het dit self geskep…… totaal onbevoeg om anargie te keer…verseker

Pietertjie ·

Looting a country to free a man who looted the country. Wat ‘n sirkus!

Mariana ·

Dit is mos nou al so duidelik soos daglig dat die ANC geen behae daarin het om die land en sy mense te beskerm teen die kriminele nie, inteendeel hulle kyk daarna en sien dat wat hulle wil hê,besig is om te gebeur. Anargie en algehele chaos. Dis nie hulle wat enigiets verloor nie, net winkeleienaars wat als in die proses verloor. En alhoewel die DA en ander politieke partye hul menings lug, is dit nou ook maar net waar dit bly. Hulle doen niks aan die saak nie. Malema het sy mense opdrag gegee om die gemors te gaan ondersteun en te help, niks word aan hom gedoen nie. Nou moet die belastingbetalers maar hulself en hul goed beskerm. Maar verkiesingstyd dan soek hulle almal die kiesers se kruisies. Dit is mos hoe dit werk. Verder doen hulle niks wanneer daar krisisse is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.