Die lede sal oor die staking besluit – Amcu

Amcu-lede betoog in Pretoria op 6 Maart 2014 Foto: Montsho/SAPA

Amcu-lede betoog in Pretoria op 6 Maart 2014 Foto: Montsho/SAPA

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, het Donderdag gesê die Amcu-lede sal besluit wanneer die staking tot ʼn einde sal kom.

“Die lede sal oor die staking besluit,” het Mathunjwa aan verslaggewers by die Uniegebou gesê. Honderde Amcu-lede het Donderdag die nat weer aangedurf en na die Uniegebou opgeruk om ʼn petisie te oorhandig wat hul besware bevat rakende die manier waarop die regering en mynmaatskappye die staking hanteer het.

Die vakbond het gesê Zuma het tot 20 Maart om op die petisie te reageer.

Die lede is in die optog gelei deur Mathunjwa, tesourier Jimmy Gama en sekretaris Jeff Mphahlele. Die optog is deur die polisie begelei en ʼn polisiehelikopter was deurgaans in die lug sigbaar.

Amcu het op 23 Januarie by Lonmin, Implats en Amplats begin staak. Hulle eis ʼn intreevlaksalaris van R12 500 per maand. Pogings deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie het ʼn dooiepunt bereik.

Die mynmaatskappye het steierverhogings vir die volgende drie jaar aangebied. Amcu het Dinsdag gesê hy sal sy eis verslap sodat die R12 500 binne drie jaar behaal kan word, maar die maatskappy het die aanbod verwerp en gesê dit is steeds onbekostigbaar.

Mathunjwa het gesê Amcu het busse gehuur om lede van die Vrystaat, Limpopo en Noordwes na Pretoria te vervoer. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.