Dié LiquiFruit-produkte herroep oor veiligheidskommer

Argieffoto ter illustrasie van LiquiFruit se 100%-appelsapprodukte. (Foto: Facebook)

Pioneer Foods is genoop om die 100%-appelsapprodukte wat onder sy LiquiFruit-handelsmerk in Suid-Afrika, Botswana en Namibië verkoop word, te herroep.

Dít omdat ’n beperkte hoeveelheid appelsapkonsentraat wat aan die vervaardiger verskaf is, verhoogde vlakke van mikotoksien (patulien) bevat wat siektetoestande tot gevolg kan hê.

Van die maatskappy se 100%-appelsapprodukte wat onder die Ceres-handelsmerk in ander lande verkoop word, is ook noodgedwonge van winkelrakke verwyder.

Die stap volg net meer as ’n week nadat ses Appletiser-besendings glo weens dieselfde rede deur Coca-Cola Suid-Afrika herroep is.

Tertius Carstens, uitvoerende hoof van Pioneer Foods, sê ’n ondersoek is onmiddellik gelas nadat die maatskappy ná interne standaardtoetse en gesprekke met een van sy plaaslike verskaffers van ’n moontlike voedselveiligheidskwessie bewus geword het.

Van die produkte wat op tuisbodem geraak word, sluit in LiquiFruit se 100%-appelsap in blikkies asook die kartonhouers.

“Ons het geen klagtes van verbruikers hieroor ontvang nie, maar het besluit om die toetsing van hierdie produkreeks te versnel om absoluut seker te maak wat die omvang van die potensiële skade behels.”

Die volgende 100%-appelsapprodukte word in Suid-Afrika, Botswana en Namibië verkoop en geraak. Let ook op die vervaardigingskodes van die spesifieke produkte:

(Foto: Verskaf)

Die volgende 100%-appelsapprodukte van Ceres word buite Suid-Afrika geraak. Let op die geraakte vervaardigingskodes:

(Foto: Verskaf)

Klante wat reeds van dié produkte gekoop het, kan die produkte terugneem na hul naaste kleinhandelaar en ’n terugbetaling daarvoor ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Grassie ·

Dit is jammer hulle sê nie watter soort siektes deur die betrokke gifstof veroorsaak kan word nie.

Suzette ·

Wat op aarde gaan deesdae aan? Eers Appletiser nou LiquiFruit? Gelukkig het hulle bewus geword van die probleem.
Wonder wat gaan aan? Onbekwame aanstellings? Dis mos die norm in SA.

Jaco ·

Ek sidder vir die dag wanneer so ‘n onbekwame aanstelling die verkeerde knoppie by Koeberg kernkragstasie druk. Onmiddellik sal 4 miljoen mense in Kaapstad deur die gevare van nuclear meltdown bedreig word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.