Dié man gesoek ná jong man se skietdood

Foto: Verskaf aan Maroela Media.

Die polisie in Noordwes het vandeesweek, sowat ʼn week ná Francois Swart (21) gesterf het nadat hy twee keer op ’n kort afstand met ’n gaspistool in die nek geskiet is, foto’s uitgereik van ʼn persoon wat die polisie kan bystaan met die ondersoek.

Kol. Adele Myburgh, provinsiale woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die polisie ondersoek nou ʼn bykomende saak van moord.

“Die persoon op die foto’s kan die Lichtenburg-polisie help in dié moord- en gewapenderoof-ondersoek,” het Myburgh gesê.

Maroela Media het vroeër berig Swart het verlede Dinsdag in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Louis van Rooyen, Swart se stiefpa, het dié nuus aan Maroela Media bevestig. Swart is volgens hom Dinsdag net voor 15:00 dood.

Van Rooyen het vroeër gesê die dood van hul seun het hom en sy vrou, Christie, “heeltemal platgeslaan”. “Dit was so skielik dat dinge drasties agteruit begin gaan het. Die een oomblik het ons nog hoop gehad en geglo hy sou volkome herstel, en die volgende oomblik was hy net weg. ʼn Mens weet nie hoe jy so iets verwerk nie; dit verpletter jou.”

Hy sê Swart, wat ná die skietvoorval in ʼn medies geïnduseerde koma was, se liggaam het “opgegee”. “Soos ons verstaan, het sy liggaam net ophou baklei teen die infeksie. Die infeksie het sy hele liggaam oorgeneem tot op die punt waar dit onmoontlik was om terug te baklei. Sy liggaam was nie in staat om die funksies van die masjiene oor te neem nie, hy was te swak. Hoewel ons geweet het dat die infeksie versprei, was dit eers [die dag van sy dood] dat sy polsslag en bloeddruk regtig drasties begin val het. Ons het hoop gehad, maar dit is skielik weggeruk.”

Francois Swart. Foto: Verskaf.

Swart was die bestuurder by die plaaslike Spur-restaurant in Lichtenburg in Noordwes. Maroela Media het vroeër berig hy het op 9 Mei omstreeks 01:00 ná werk saam met ʼn kollega gaan koeldrank koop by ʼn nabygeleë Shell-vulstasie toe die voorval plaasgevind het.

In die winkel was twee mense aan’t stry met die man agter die toonbank toe een van die mans skielik ʼn gaspistool teen Swart se nek gehou en drie skote afgevuur het. Die man agter die toonbank het gevlug en die polisie ontbied.

Swart en sy kollega is van hul selfone en motorsleutels beroof en die rowers het met die vriend se motor van die toneel gevlug. Die motor is sedertdien teruggevind, asook een van die selfone wat tydens die voorval gesteel is.

Jude Nnana Aghabanti (42), ʼn verdagte wat ná die voorval in hegtenis geneem is, het reeds vroeër verlede maand in die Lichtenburg-landdroshof verskyn. Aghabanti is aanvanklik deur die polisie se honde-eenheid in hegtenis geneem vir die besit van dwelms, maar daar is later vasgestel dat hy ook met die skietvoorval verbind word. Hy is steeds in polisieaanhouding.

Enigiemand wat dié man op die foto’s gewaar, word versoek om die naaste polisiestasie te nader of lt.kol. Mokotedi by 082 416 1638 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sputnik ·

Dat sò ‘n netjiese jong man se pad met so ‘n skuimerige vent se pad moes kruis! Laat ons hoop dat hy spoedig identifiseer word en as hy skuldig is, uit die samelewing verwyder word. As die polisie enigsins hul sout werd was, was hier ook al ‘n beloning uitgereik.

Driekie ·

So onnodig…so onskuldig…. Mens gaan koop net n koeldrank…en kyk wat kan gebeur… Maar daar kom n groot oordeelsdag!….en n ewige hel vir die bose!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.