Dié mans soek ná tieners beroof is

Foto: Verskaf.

Vier verdagtes word deur polisie in die Vrystaat gesoek nadat tieners in twee afsonderlike voorvalle met messe van hul besittings beroof is.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorvalle het op 14 Junie en 24 Julie in Riebeeckstad plaasgevind.

Volgens Thakeng het die eerste voorval op 14 Junie om 13:20 plaasgevind. “’n 13-jarige tiener het saam met ʼn vriend van ʼn skool in Datarelstraat in Riebeeckstad geloop. Hulle is onverwags deur twee mans genader en van hul selfone beroof.”

ʼn Identikit is van die twee verdagtes saamgestel. Een het ʼn donker velkleur, is slank en sowat 1,7 m lank. Hy het ʼn tatoeëermerk van ses blou kolletjies op sy linkerhand. Hy het ʼn rooi-en-blou hoed, swart baadjie en ʼn swart netjiese broek met wit-en-swart tekkies aangehad. “Die tweede een is ligter van gelaat, ook slank en het ʼn swart baadjie met ʼn kappie, ʼn bruin broek en Adidas-tekkies aangehad. Die verdagtes het Sotho gepraat.”

Die tweede voorval het op 24 Julie omstreeks 12:30 plaasgevind. ʼn 18-jarige seun het van die TVET-kollege in Thabong na sy huis in Riebeeckstad gestap toe hy aangeval is.

“Hy het deur ʼn veld naby Blenheimstraat gestap en is deur twee mans genader. Die mans het hom met ʼn mes gedreig en van sy selfoon beroof voor hulle gevlug het,” het Thakeng verduidelik.

’n Identikit vir die twee verdagtes is saamgestel. Die eerste verdagte is donker van gelaat, slank en omtrent 1,9 m lank, het kort swart hare en ’n snor en het ’n wit baadjie met ’n kappie, ’n blou denimbroek en wit tekkies aangehad. “Die tweede verdagte het ’n ligter velkleur, is ook slank en het ’n grys trui, rooi broek en wit tekkies aangehad.”

Albei verdagtes het ook Sotho gepraat en is tussen 20 en 25 jaar oud.

Die polisie het enigiemand met inligting oor die voorvalle gevra om ao. Riaan de Lange, die ondersoekbeampte, by 057 391 6271 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael ·

Met die beskrywings kan die publiek die polisie help om die skuldiges te vang baie goeie beriggewing ??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.