Dié matrieks wen ‘ekspedisie’ na Antarktika

Antartika (Foto: Pixabay)

Vyf matriekleerders kry vandeesmaand die geleentheid om saam met die bekende avonturier Riaan Manser en die Universiteit Stellenbosch (US) op ʼn wetenskapekspedisie na Antarktika te gaan.

Ayakha Melithafa van die Centre of Science and Technology in die Wes-Kaap, Cobus Burger van Hoërskool Duineveld in die Noord-Kaap, Boiketlo Lamula van Sedaven High School in Gauteng, Thea J Earnest van Mountview Secondary School in KwaZulu-Natal en Kelby Barker van Diocesan School for Girls in die Oos-Kaap is Maandag as die wenners van die Matrics in Antarctica-projek aangewys.

Hierdie vyf jong wetenskaplikes is tydens ʼn aanlyn geleentheid deur Reginah Mhaule, adjunkminister vir die departement van basiese onderwys, as die gelukkige wenners aangekondig.

Meer as 100 matriekleerders oor die hele land het ingeskryf.

Dié vyf matrieks sal nou die geleentheid hê om hul idees oor omgewingsbewaring in Antarktika verder te ontwikkel en dié ysbedekte vasteland te verken saam met Manser en ʼn span wetenskaplikes van die US.

Manser het gesoek na matrieks wat ernstig is oor omgewingsbewaring en wat regtig ʼn verskil in hul gemeenskap wil maak.

“Dit was nie ʼn maklike taak nie, veral omdat nie een van hulle al in Antarktika was nie,” het Mhaule tydens die aankondiging Maandag gesê.

“Hierdie matrieks het hul navorsings- en verkenningsvaardighede binne ʼn baie kort tydjie ingespan om hul mening te lug oor hoe die verkenning van dié vasteland hulle sal help om ʼn meer volhoubare bestaan te verseker en só ons planeet te bewaar.”

Mhaule het al die deelnemers aan die kompetisie bedank en die vyf wenners persoonlik hartlik gelukgewens.

Soos vroeër berig, het Manser vertel dat die Matrics in Antarctica-projek een van die grootste projekte is wat hy al aangepak het, juis omdat dit in so ʼn spesiale omgewing gebeur. Dis iets wat hy lankal wou doen en hy het die konsep tydens die inperking ontwikkel.

Hy beplan om vir die volgende vier jaar jaarliks ʼn nuwe groep te vat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Maggies ·

Wow! Wat ‘n wonderlike geleentheid! Baie geluk aan hierdie span.

Francois Le Cochon ·

Moeilik om te glo, maar Antartika is eintlik ‘n woestyn. Met ‘n humiditeit van 0,03% (Sahara woestyn 25%) is daar geen reen, en is dit die droogste plek op aarde.

Samuel ·

Droogste, hoogste en winderigste plek. Hoe gaan hulle daar kom??

Stefaan ·

Baie geluk. Ontmoet sommer julle ander metgesel . Seesiek. Hopenlik leer julle hom nie ken nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.