‘Die meeste skole nie gereed om te heropen’ – vakbonde

Vakbonde en organisasies wat skoolbeheerliggame verteenwoordig, sê skole is nie gereed om Maandag te heropen nie. (Foto: Unsplash)

Altesaam agt onderwysvakbonde en organisasies wat skoolbeheerliggame verteenwoordig, sê in ʼn gesamentlike verklaring skole is allermins gereed om te heropen.

Die organisasies het Donderdag vergader om skole se gereedheid om Maandag te heropen, te bespreek.

Hulle het eenparig tot die slotsom gekom dat skole nié te midde van die Covid-19-pandemie gereed is om te heropen nie.

“Die minister moet haar aankondiging in dié verband terugtrek en enige verdere aankondiging uitstel om die stelsel kans te gee om vir ʼn algemene heropening voor te berei. Indien nie, gaan ons ʼn halsoorkop heropening op hande hê.”

Die verklaring is deur Sadou, Naptosa, Natu, die PEU, SAOU, Fedsas, NASGB en GBF onderteken.

Gr. 7- en gr. 12-leerders landwyd is veronderstel om Maandag weer terug op die skoolbanke te wees. Die Noord-Kaap het egter reeds aangedui dat leerders in dié provinsie eers ʼn week later gaan aanmeld.

Die organisasies het alle skole ook gevra om nié Maandag te heropen nie, selfs al het hulle alle nodige voorraad vir onderwysers en leerders ontvang. Hulle sê hulle gaan die reaksie van die Wes-Kaap op dié pleidooi veral fyn dophou om te sien of die provinsie solidariteit gaan toon met die lot van ander provinsies en simpatie met die duisende leerders en onderwysers landwyd. Talle skole, veral in die Wes-Kaap en Gauteng, het die afgelope week aangedui dat hulle gereed is om leerders Maandag terug te verwelkom.

“Hoewel ons erken dat die reg op basiese onderwys en die noodsaaklikheid vir kinders om terug te keer skool toe baie belangrike regte en oorwegings is, kan dié oorwegings nie die bestebelang-beginsel in die Grondwet troef nie. Ons glo nie dit is in die beste belang van kinders om terug te keer skool toe terwyl daar steeds onsekerheid oor hulle veiligheid en gesondheid heers nie,” sê die organisasies.

Die organisasies sê die meeste provinsiale departemente kon steeds nie persoonlike beskermende toerusting vir onderwysers of skole se bestuurspanne voorsien nie, ten spyte van vorige versekerings dat dit “in pakhuise in die provinsies is”.

Hulle sê baie skole is ook nog nie skoongemaak en ontsmet nie. Vandag is die laaste werksdag om dít te doen voor skole Maandag heropen. As die toerusting nou nog nie afgelewer is nie, is die kans skraal dat dit betyds daar gaan wees.

“Is dit om dié rede dat die minister luidens mediaberigte gesê het skole wat nie toerusting gereed het nie, gaan nie heropen nie? Ons wil gesamentlik die geleidelike heropening van skole verwerp. Geen skool mag agterweë bly nie, veral nie weens onbevoegdheid en onstiptelikheid nie.

“Gegewe geskiedkundige ongeregtighede is dit ooglopend watter skole gaan agterbly as ʼn gefaseerde benadering tot die heropening van skole gevolg word. Ons kan dit nie toelaat nie, maak nie saak wat die regverdiging daarvoor is nie.”

Daar is nog geen aangepaste leerplan bekend gemaak nie en die organisasies sê daar kan nie van onderwysers verwag word om in die donker te werk, óf van leerders om onvanpaste inhoud te leer nie.

Die organisasies vergader nou Saterdag met die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, om hulle kommer met haar te bespreek. “Ons kan nie ʼn stuksgewyse benadering tot die heropening van skole, óf die agterlaat van die mees agtergeblewe skole in ons land steun nie.”

Solidariteit het Donderdag ook ʼn omvattende kode vir goeie praktyk, gerig op die gesonde en verantwoordelike terugkeer na skole, aan talle skoolhoofde en skoolbestuursliggame oorhandig. Dit bied riglyne aan skole oor hoe om die Covid-19-risiko te bestuur, asook hoe om aan alle tersaaklike wetgewing en regulasies te voldoen.

Die kode moet help dat ouers nie hoef te kies tussen gesondheid en skole nie, maar vír gesonde skole. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die organisasie het begrip vir ouers se onsekerheid en wil deur dié kode help om ouers meer gemoedsrus te gee.

“Ons kinders is vir ons kosbaar. Ons onderwysers is vir ons kosbaar. Ons wil ons onderwysers ondersteun sodat hulle gesond kan werk terwyl ons kinders gesond kan leer,” sê Hermann.

“Midde-in die pandemie is dit belangrik dat ons die terugkeer van leerders op ʼn verantwoordelike wyse bestuur en Solidariteit se kode vir goeie praktyk is juis opgestel om dit op ʼn praktiese manier te kan doen.”

Hermann sê die organisasie wil aktief oplossings help kry.

“Dit help nie om bloot eise te stel nie. Ons kom met konkrete oplossings. Covid-19 gaan nog baie lank met ons wees en ons moet metodes ontwikkel om met die virus saam te leef.”

Hermann sê die riglyne is omvattend en gaan ʼn groot hulp vir skole wees ten opsigte van die inwerkingstelling van maatreëls wat die veiligheid van leerders en onderwysers op ʼn verantwoordelike wyse kan bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hendrik ·

Die haarkappers sit sonder inkomse as hul nie werk nie. Hou op om onderwysers te betaal om by die huis te sit dan sal die skool gou oopmaak. wat goed is vir die een is mos goed vir die ander!

Erik ·

Hendrik, ek hoor jou, en daar is baie gevalle waar onderwysers niks gedoen het nie, maar in die meeste, indien nie alle gevalle van Afrikaanse skole, is daar aanlyn klasgegee. Daardie onderwysers verdien in my opinie ‘n medalje. Om van die huis af, terwyl jy na jou eie kinders en huisdinge moet omsien nog tussendeur dit te bemeester om aanlyn klas te gee, jou eie data te gebruik en selfs uit jou eie sak data vir leerders te koop wil gedoen wees. Moet dis nie veralgemeen nie.

Raakvatter ·

Ek stem slegs gedeeltelik saam, maar ek moet wel se dat my kindertjies se onderwyseresse doen baie moeite om weekliks huiswerk te stuur, om e-mails te antwoord waar ons vrae het, om vooraf opgeneemde video-klasse te stuur ens. So daai onnies werk steeds kliphard. Seker nie tot volle kapasiteit nie, maar so ook nie baie ander in die grendelstaat nie.
Ek voel ook maar suur om die VOLLE skoolfonds te betaal, darem het ons kwytskelding vir naskool gekry.

Francois ·

Ek stem 100% saam Hendrik. No work no pay. Hoekom sal jy terug wil gaan werk as jy by die huis kan sit en vol salaris kry. Ek is ook moeg vir vakbonde wat se jy moet nie jou kind skool toe stuur. Dis my besluit. As jy nie jou kind wil stuur is dit jou keuse maar hou op besluite namens my maak

Johanncb ·

Ek verstaan nie – skole is al vir meer as twee maande toe! Was dit nie lank genoeg om al die reëlings te tref en implimenteer nie?

Willem ·

Vakbonde is te lui om te werk dis oor en oor bewys. Laat die skole wat gereed is aangaan . Die onderwysers wat aan sadtu behoort no work no pay

Willem ·

Terloops die skole wat nou nie gereed is nie was nog nooit gereed nie nou ry julle op die virus se rug. Baie skole waar ek woon is slag gereed vir .aanda en ek is trots op die onderwyser wat al weke lank hard werk om alles in plek te sit

Erik ·

Ek stem saam dat skole moet oopmaak. Ek weet ook dat baie onderwysers niks gedoen het tydens die inperking nie, maar…

Meeste, indien nie alle, onderwysers van Afrikaanse en sekere goeie ander skole, het die afgelope tyd oortyd gewerk. Hulle moes aanlyn klasse bemeester en voorberei terwyl hul na hul eie kinders en huistake moes omsien. Hulle het hul eie data gebruik vir hierdie klasse en ek weet van onderwysers wat selfs uit hul eie sak data vir behoeftige kinders gekoop het.

Dirk Mostert ·

Dis darem lekker vir onderwysers om salarisse te verdien sonder om daarvoor te werk. Vrees vir die virus is net ‘n verskoning. Laat hulle kies om te werk of sonder vergoeding tuis te bly. Ditto vir ander staatsamptenare.
Die skoonmaak en ontsmetting van skole is irrasioneel. Die skole het vir twee maande leeg gestaan en die virus (vanwaar?) het ‘n beperkte leeftyd van ‘n paar weke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.