Dié Noord-Kaapse dorpe se kragtoevoer herstel

(Argieffoto: pixabay)

Eskom het die Kamiesberg- en Richtersveld-munisipaliteit in die Noord-Kaap se grootmaat-elektrisiteitstoevoer herstel nadat dié munisipaliteite ʼn “aanvaarbare deel” van hul kragrekening vereffen het.

Inwoners van Paulshoek, Kamieskroon, Spoegrivier, Garies, Klipfontein, Kheis en Port Nolloth se kragtoevoer is Woensdagaand herstel nadat dié dorpe en verskeie ander Woensdagoggend kragonderbrekings begin ervaar het weens vier wanbetalende munisipaliteite in die Noord-Kaap.

Stefanie Jansen van Rensburg, woordvoerder van Eskom, sê die beperking van elektrisiteitstoevoer na die Emthanjeni- en Tsantsabane-munisipaliteit gaan vandag voort.

Kragonderbrekings daagliks tussen 06:00 en 20:00 is dus nog die inwoners van De Aar, Britstown, Hanover en Postmasburg se voorland.

Maroela Media het vroeër berig die Tsantsabane-munisipaliteit se kragrekening was teen einde Augustus met R154 909 143 agterstallig terwyl die Emthanjeni-munisipaliteit Eskom meer as R90 miljoen skuld.

Volgens Van Rensburg sal inwoners onder die Kamiesberg- en Richtersveld-munisipaliteit se ligte aanbly solank dié munisipaliteite hul betalingsvoorwaardes nakom. “Kragbeperkings sal weer ingestel word met die eerste teken van wanbetaling.”

Dié munisipaliteite het Eskom teen einde Augustus onderskeidelik meer as R21 miljoen en R12 miljoen geskuld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Vraag bly: Hoe kry klein munisipalitete dit reg om sulke massiewe kragskuldagterstande te bewerkstellig sonder dat dit deur jaarlikse ouditprosedures opgetel word?
‘n Eenvoudige antwoord mag wees: Stel ANC in beheer.

Androclus ·

Die munisipale bestuurder sê vir homself ek gaan eers die maand se kraggeld vat ek sal volgende maand inbetaal so steek hy elke maand die geld in sy sak dis hoekom daar so baie geld kort kom.ANC

Dries ·

Ja dit gaan my verstand te bowe. Want laat jy as gewone eerbare belastingbetaler en landsburger nou net ‘n maand of wat nie jou elektrisiteit betaal nie, dan sny die munisipaliteit jou summier af tot jy betaal.

Spook ·

En dan het die betrokke munisipaliteite ook nog die vermetelheid om al die inwoners op voorafbetaalde krag te plaas. Dus is die elektrisiteit klaar voor betaal voor dit enigsins gebruik is. Waarom word Eskom dan nie betaal nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.