Die nuwe wind waai in die parlement

Pres. Cyril Ramaphosa (14 Maart 2018) Foto: GCIS

Die nuwe wind wat sedert pres. Cyril Ramaphosa se bewindsaanvaarding deur die parlement waai was dadelik duidelik uit die tabletrekenaar wat hy hierdie week tydens parlementêre vraetyd vir sy notas gebruik het.

Presidensiële vraetyd het daarmee pens en pootjies in die 21ste eeu beland – in skrille kontras met die wyse waarop oudpres. Jacob Zuma te werk gegaan het. Zuma het altyd sy antwoorde – vooraf deur iemand in die staatsdiens uitgewerk – met groot moeite afgelees van ‘n papier waar dit met groot letters gedruk is vir sy gebruik.

Zuma was altyd presies teksgebonde en mens kon sien dit was vir hom ‘n foltering om daar te wees. Nie Ramaphosa nie – vir hom kom die parlementêre proses en die beantwoording van vrae kennelik natuurlik.

Benewens die tegnologiese vooruitgang wat die gebruik van die tablet verteenwoordig, is Ramaphosa ook gemaklik genoeg om van die vooraf voorbereide teks af te wyk en sy eie woorde, begrippe en gedagtegang in te voeg.

Terselfdertyd loop Ramaphosa gevaar om alle dinge vir alle mense te probeer wees – dit lyk asof hy besef hy is die leier van ‘n diep verdeelde ANC, en asof hy versigtig is om kant te kies oor hoogs verdelende kwessies.

Sy antwoorde is baie langer as wat Zuma s’n was – hy het onbeperkte tyd en antwoord alle vrae breedvoerig.

Kom ons neem sy antwoord hierdie week op die vraag van die DA-leier, Mmusi Maimane, oor wat Ramaphosa se siening oor onteiening sonder vergoeding is. Dit was ‘n moeilike vraag, want die ANC is verdeeld oor of die Grondwet gewysig moet word om daarvoor voorsiening te maak.

Ramaphosa het aanvanklik ‘n wydlopende en emotiewe argument gevoer oor waarom dit ‘n sonde was dat swart mense se grond onder kolonialisme en apartheid afgeneem is.

Daarna het hy syfers genoem dat 72% van kommersiële plase tans in wit besit is, 15% in besit van bruin mense, 5% in besit van Indiërs en net 4% in besit van swart mense.

Dit het die rasbewuste linkervleuel van die ANC-koukus behoorlik opgestoom en opgewonde gemaak en aan Ramaphosa die geleentheid gebied om na die ander kant oor te hel met die belofte dat wye konsultasie oor die kwessie sal plaasvind en dat niemand uitgesluit sal word nie.

Hy het ook aangevoer dat dit heeltemal moontlik is om grondhervorming binne die Grondwet te laat plaasvind, en dit was in hierdie stadium dat LP’s uit die opposisiepartye hom begin peper het met opmerkings soos hoekom dit dan nodig is om die Grondwet te wysig, en dat hy nie alle dinge vir alle mense moet probeer wees nie.

Ramaphosa het sy antwoord afgesluit soos hy geneig is om te doen; met ‘n bykans Mandela-agtige versoeningsversoek. Hy het gevra dat mense nie ‘n swartgevaar-geurtjie aan onteiening sal gee nie.

En toe was dit weer tyd vir die lem om deur die president uitgehaal te word. Hy het gesê die burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba van die DA, is besig om geboue in die middestad te onteien sonder vergoeding, so wat is nou eintlik die DA se probleem daarmee?

O, die ANC-LP’s het dit geniet – dis die tipe skoot uit die heup wat Zuma gewoon nie kon doen nie. En al het Maimane hoe goed verduidelik dat dit in Mashaba se geval juis gaan oor geboue wat geen wettige eienaar het nie of waar die eienaar nie opgespoor kan word nie, is dit deel van Ramaphosa se huidige sukses dat dit nietemin vir baie mense gelyk het of hy Maimane koudgesit het op ‘n manier wat Zuma nie eens sou kon probeer nie.

Net terloops, op daardie punt het Julius Malema, EFF-leier, ingespring en vir Ramaphosa gesê om “ons burgemeester, Mashaba” uit te los. Die EFF bly maar ‘n onpeilbaar goeie speler van die magskaart as party wat die magsewewig in sommige stadsrade hou.

Ook vir die VF Plus-leier, dr. Pieter Groenewald, het Ramaphosa die wortel-en-stok-benadering gereed gehad.

Groenewald se punt was dat die grondkwessie sal voortsleur as rasvraagstuk totdat Ramaphosa toegee wit boere is hardwerkend en het hulle plase op ‘n eerbare wyse bekom.

Die VF Plus-leier se stellings was baie ongewild in die ANC-agterbanke, so Ramaphosa het versigtig getrap.

Aan die een kant het hy weer versoenende geluide gemaak teenoor wit mense – die ene Madiba, maar hy het nie gereageer op Groenewald se kernpunt dat wit boere hardwerkend is en hul grond eerbaar bekom het nie.

So is die nuwe president dan in die parlement. Blinker. En gladder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johanna Botha ·

Wind van voor as julle dink julle gaan net goed vat …dis verseker

Pasop ·

Sal nooit kan hande vat met so n regering saam sy kommuniste terroriste mense nie!!? Skeinheilig en kanie vertrou word nie,.

Coen ·

Ek sal eerder sê hy is slimmer as Zuma maar ook baie meer sluer

Luister ·

In elk geval onmoontlik om altyd almal tevrede te stel. Hoop maar hy sal regverdig wees.

White Rhino ·

Nee wat hou verby.Jare terug al deur hom gesien. Groot gevaar.Pasop!

Paul ·

“Hy beantoord alle vrae breedvoerig”, seg jy. Maar dan noem jy tog wel onderaan jou skrywe dat hy nie op die kernpunt van Dr Pieter Groenewald reageer het nie, hy het verkies om dit te ignoreer. En hy het ook maar toe ongemaklik gelyk, glad nie soos ‘n staatsman nie. O’ja en om beter as Zuma te vertoon, is nou nie eintlik ‘n prestasie nie.

Gerhard ·

Is dit nie maar net ‘n hele artikel om te se hy is “n tweegat jakkels nie?

Bokram ·

Die nuwe wind wat waai ruik nie baie lekker nie,dit waai seker iewers oor n drein.

Eddie ·

Dis ten minste ‘n goeie begin en stukke beter as sy voorganger !

PASOP ·

Pasop vir Ramaphosa. Onthou die makste brak byt die seerste. HKBGK!!!!

Manie Strydom ·

Beteken n nuwe wind die diskriminasie teenoor wit mense gaan verander of toeneem??

Johannes van Staden ·

Anc se ons moet hulle vertrou dat grond op n verantwoodelike manier sal hanteer ….dit nou nadat hulle alles saa sabc sars noem maar alles waaraan hulle vat verander in n GROOOT gemors

Rynhardt ·

Pres.Ramaphosa n nuwe wind van verandering???Die publiek en nie die opposisie, is die tornado as teenvoeter vir Ramaphosa.Ramaphosa is nie goed vir SA nie,en niemand val vir sy gladde pratery nie!Dit gaan vir Anc daaroor om met roofwetgewing alles van blankes te onteien!Ramaphosa gaan al hoe obgewilder raak.Hy sal nie sy volle termyn as president uitdien nie.

Nel ·

Ek wonder hoe sou die einste grond/plase wat die kolonialiste destyds afgeneem het vandag gelyk het? Sou dit bewerk en winsgewend gewees het? Sou dit bygedra het tot voedselsekerheid? Ens., ens,. ens.
Wonder maar net….

Essa ·

Jan Jan weer lekker skerp soos altyd – veral sy slotsin. Ja, niks is net wit of swart nie. Askies, ek bedoel net niks behalwe wetenskap is ‘n uitgemaakte saak nie. En in politiek is alles debateerbaar; maar dit lyk vir my daar is baie mense wat net nie wil hoop nie. Julle kan reg wees, maar julle kan ook verkeerd wees. Doen jouself ‘n guns en laat ‘n klein bietjie lig in jou permanente donker tonnel toe.

Dieselbul ·

N baie slim man met n plan kyk maar na sy uitlatings wat hy jare terug gemaak het . Hy het gese jy moet n pada in n pot koue water gooi en stadig verhit die pada kom dit nie agter nie. Dieselfde met blankes in sa vat n klein hoeveelheid op n slag as hulle dit agterkom dan kook die water al.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.