Dié onbekende soogdiertjie in groter gevaar as renosters

Die ietermagog word tans tot op die rand van uitwissing gestroop. (Foto: Louis Mornaud/ Unsplash)

Die ietermagog is ʼn klein, onbekende soogdiertjie wat ʼn groot uitdaging die hoof moet bied. Hierdie hoogs bedreigde “eietydse dinosourus” word tans tot op die rand van uitwissing gestroop.

Hoewel alle vorme van handel in dié diere plaaslik en internasionaal sedert 2016 verbied is, is die ietermagog amptelik die dier waarmee daar die meeste op die swartmark gesmokkel word. Daarom word Februarie sedert 2014 gebruik om die soeklig op dié unieke diertjie te plaas.

Volgens die Wêreldnatuurfonds (WWF) weet slegs 8% van die wêreldbevolking wat ʼn ietermagog is. Kenners meen dít is juis een van dié diertjie se grootste uitdagings, naamlik dat hy kan uitsterf nog voordat mense weet hy bestaan.

ʼn Ietermagog is ʼn alleenloper en naglewende soogdier wat gekenmerk word aan die harde skubbe waarmee sy hele lyf, behalwe sy pens, bedek is. Van die agt verskillende spesies kom vier in Asië en vier in Afrika voor, meestal in die Kalahari-streke van Suider-Afrika, asook die bosveldgebiede van die oostelike streke van die land.

Ietermagogs grou vir hulself skuiling in die grond en kan hulle sowat 100 cm lange lywe in ʼn balletjie oprol wanneer hulle bedreig voel. Hulle gebruik hul sterk reuksintuig en skerp kloue om insekte, veral termiete, uit te grou en te vreet.

Willie Labuschagne, voormalige uitvoerende direkteur van die Nasionale Dieretuin. (Foto: Verskaf)

Willie Labuschagne, voormalige uitvoerende direkteur van die Nasionale Dieretuin wat al by verskeie bewaringsorganisasies betrokke was, het aan Maroela Media verduidelik dat ietermagogs by die derduisende verhandel word vanweë die “medisinale waarde” van hul skubbe.

Hy vertel dat hul skubbe al vir langer as 2 000 jaar veral in dele van China en Viëtnam gebruik word om alles van asma tot hoë bloeddruk te behandel, ondanks die gebrek aan mediese bewyse. “Hul skubbe word van hul lywe af gekook en in tradisionele medisyne gebruik en hul bloed word ook as ʼn genesende tonikum beskou. Die ironie is dat hul skubbe net ʼn gewone keratienagtige middel is en geen medisinale waarde het nie. Jy kan netsowel naels opkook.”

Luidens navorsing van die WWF is meer as ʼn miljoen ietermagogs in die afgelope dekade gestroop en namate die bevolking van Asiatiese ietermagogs weens stropery gedaal het, het die aanbodkant van die handel grootliks na Afrika, veral Nigerië, verskuif. Navorsing dui daarop dat een lewende ietermagog ʼn stroper vandag tot R400 000 ryker kan maak.

Labuschagne sê dat die ietermagog se biologie hul bewaring geweldig benadeel omdat die spesie wat hoofsaaklik in Afrika voorkom net een keer ʼn jaar een kleintjie kry. Hulle oorleef ook selde in dieretuine weens hul moeilike diëte, lae spanningsdrumpel en spysverteringsprobleme. “Ek was al in talle dieretuine en natuurbewaringsreservate wêreldwyd en ek het nog nooit ʼn ietermagog in lewende lywe by een gesien nie.”

Daarbenewens verduidelik hy dat hul weerloosheid en grootte hulle ʼn maklike teiken vir jagters en smokkelaars maak. “ʼn Ietermagog is klein en skrik maklik en rol homself dan in ʼn balletjie op. Wat is dan nou makliker om te vang en te vervoer?”

Hoewel dié diertjie vir die deursneemens onbekend is, meen Labuschagne dat daar groot kommer veral onder die landbougemeenskap sal wees indien die ietermagog uitsterf. “Ietermagogs speel ʼn deurslaggewende rol in hul omgewing omdat hulle natuurlike plaagbeheerders is. Een ietermagog kan tot 70 miljoen termiete jaarliks vreet, so dink watter implikasies daar vir boere gaan wees as hulle uitsterf.”

Die Johannesburg Wildlife-dierehopsitaal werk hard om ietermagogs te versorg en weer terug in hul natuurlike habitat te plaas. (Foto: Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital/Facebook)

Die oplossing? Volgens Labuschagne is bewusmaking, strenger vervolging en grensbeheer die enigste uitweg. Daar is ook verskeie omgewingsorganisasies wat planne maak om hierdie diertjies uit die hande van stropers te red en hulle te rehabiliteer.

Nicci Wright, ʼn wildrehabilitasie-spesialis en medestigter van die Johannesburg Wildlife-dierehopsitaal, vertel dat hul hospitaal in die versorging van veral die Temminck-spesie van die ietermagog spesialiseer. Sy sê hulle behandel hoofsaaklik ietermagogs waarop die polisie beslag gelê het. Die diertjies is dikwels getraumatiseer en gedehidreer wanneer hulle by die kliniek aankom, dus moet die span hard werk om hulle te versorg en weer terug in hul natuurlike habitat te plaas. Hulle vat ook dikwels hande met ander bewaringsinstansies soos die African Pangolin Working Group en maak hoofsaaklik staat op geldskenkings om hul deure oop te hou.

Die Johannesburg Wildlife-dierehopsitaal behandel hoofsaaklik ietermagogs waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital/Facebook)

Daar word beraam dat tussen 500 en 1 000 ietermagogs boonop jaarliks deur elektriese heinings doodgemaak word. Daarom het SCALES, ʼn Suid-Afrikaanse bewaringsfonds, die Scales Pangolin Rescue-inisiatief begin wat daarop gemik is om bewustheid te skep en finansiering te verskaf vir die behandeling en rehabilitasie van ietermagogs.

Amy Aucamp-Clark, voormalige student van die EcoTraining-opleidingsentrum en stigter van dié hulpfonds, sê benewens stropery is die menslike bevolking se uitbreiding ʼn toenemende gevaar vir diere soos die ietermagog, wat ook dikwels in elektriese heinings vasgevang word. “Bewustheid is die sleutel tot die ietermagog se oorlewing. Deur net oor hom te praat, kan jy help om hom te red,” sê Aucamp-Clark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Die regering gee nie om en voel niks vir die bewaring van dier en omgewing nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.