
Niël Steyn, ʼn wiskunde-onderwyser en vakhoof by Laerskool Noord-Eind in die Paarl, met sy Onnieveerder van die Jaar-toekenning. (Foto: Verskaf)
Tegnologie ontwikkel voortdurend en is ʼn kerndeel van die toekoms.
Daarom is die gebruik van tegnologie, in besonder Wolkskool, uiters belangrik in Niël Steyn, ʼn wiskunde-onderwyser en vakhoof by Laerskool Noord-Eind in die Paarl, se onderrigstrategie om die jongspan onder sy vlerk toekomsgereed te kry.
Hy is boonop vanjaar vir ʼn tweede keer as die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se “Onnieveerder van die Jaar” aangewys.
Valentyn van der Merwe, hoof van innovering by die SOS, sê dié toekenning word gegee aan ʼn onderwyser wat tegnologie innoverend inspan en só ʼn beduidende invloed op leerders se opvoeding en onderrig het.
“Hierdie onderwyser gebruik tegnologie as ʼn grondslag om onderwys te verbeter, hoofsaaklik deur die Wolkskool-platform [ʼn aanlyn leerplatform wat tegnologie gebruik om aanlyn leerervarings te bevorder] van die SOS as ʼn onderrighulpmiddel te benut.”
Dié toekenning is vir Steyn ʼn riem onder die hart – veral omdat hy so passievol is oor die onderrig van kinders en dit as ʼn belangrike taak beskou om dié jongelinge behoorlik vir die toekoms voor te berei.
“Ons lewe in ʼn veranderende tegnologiese wêreld. Die SOS help ons baie met Wolkskool en opleidingsgeleenthede om ons op hoogte van die nuutste tegnologie te hou om kinders toekomsgereed te maak.
“Ek maak elke dag van Wolkskool gebruik, asook die strategieë wat die SOS vir ons gee, byvoorbeeld omgekeerde klaskamers. Ek skep dan ʼn klas op Wolkskool waarvan my leerders lede is. ʼn Week voordat ons ʼn spesifieke les behandel, sê ek vir my leerders wat die temas gaan wees en dan kan hulle solank al die toepaslike video’s op Wolkskool kyk en presies weet waaroor die les gaan.
“Sodoende kan ek meer op probleemoplossing fokus en vir hulle meer in-diepte en moeiliker werk gee om te doen.”
Steyn sê al sy leerders – twee gr. 7-klasse (wiskunde en EBW), sy gr. 4-geskiedenisklas en gr. 5-lewensoriënteringklas – baat by die Wolkskool-klasse.
Hy sê voorts die toekenning motiveer hom net nog meer om die leerders waarmee hy werk met tegnologie te bemagtig sodat hulle gereed is vir die toekoms.
…hoe sal die A en C nou maak om díe inisiatief ook te onderdruk?
Hulle sal wel ‘n manier vind!!
‘n Goeie onderwyser is meer werd as goud. Sy leerders kan van geluk spreek. Kloon hom!
Pragtig wat a besonderse mens iemand om op trots te wees baie geluk en voorspoed