Dié operasies nou makliker danksy robot

Prof. Stephen Jeffrey tydens die prosedure. (Foto: Verskaf)

ʼn Hoogs gespesialiseerde prosedure om bekkenorgaanprolaps reg te stel is onlangs vir die eerste keer met behulp van robotika deur Suid-Afrika se private gesondheidsektor uitgevoer. Dié deurbraak lui nou ʼn nuwe era vir die behandeling van uroginekologiese toestande in die land in en halveer die hersteltydperk vir pasiënte wat hierdie operasies ondergaan.

Uroginekologie is ʼn gespesialiseerde veld van ginekologie en obstetrie wat bekkengeneeskunde en rekonstruktiewe chirurgie vir vroue insluit.

Prof. Stephen Jeffrey, ʼn uroginekoloog wat by Netcare se Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad spesialiseer, sê die robotiese stelsel, wat reeds in 2014 by die hospitaal geïnstalleer is en vir verskeie ander operasies gebruik word, het nou opnuut die voortou in mediese vooruitgang geneem.

Jeffrey het skaars ʼn paar weke gelede die veelsydige stelsel gebruik om Razia Paleker se bekkenorgaanprolaps reg te stel.

Bekkenorgaanprolaps gebeur wanneer sekere vaginale spiere of dié van die baarmoeder, serviks, blaas, uretra, ingewande en rektum verswak.

“Pelviese orgaanprolaps kan een of meer van hierdie organe affekteer, wat lei tot ongemak sowel as die blaas en dermkanaal wat abnormaal werk. Dit kan die lewensgehalte van diegene wat geraak word ernstig beïnvloed, met gevolge vir hul fisieke en seksuele gesondheid,” sê hy.

Bekkenorgaanprolaps affekteer tussen 10% en 15% van vroue, aangesien die toestand dikwels ná geboorte skenk voorkom. Tog kan dit ook by mans voorkom omdat dit met veroudering, asook swaar gewigdraende aktiwiteite oor ʼn lang tydperk verbind word.

Hardlywigheid en oorgewig is van die risikofaktore vir bekkenprolaps.

Hoekom robotika gebruik?

Prof. Stephen Jeffrey tydens die prosedure. (Foto: Verskaf)

Volgens Jeffrey stel die robotiese stelsel, wat as Da Vinci gedoop is, chirurge in staat om ʼn vergrootte 3D-beeld van die geaffekteerde gebied te vertoon.

“Wanneer jy die operasie van die konsole uitvoer, word jy in ʼn virtuele sin byna een met jou chirurgiese instrument. Die robotika en beeldmateriaal van hierdie spesifieke stelsel is werklik transformerend, in die sin dat dit akkuraatheid optimaliseer,” sê hy.

Hoewel bekkenprolaps met ʼn tradisionele operasie of laparoskopie reggestel kan word, bied Da Vinci soveel meer voordele.

“In enige ander tipe modaliteit is dit heeltemal ongeëwenaard en Da Vinci is verreweg die mins indringende manier om hierdie soort kwessies aan te pak,” sê hy.

“Om deur ʼn kleiner en selfs meer presiese insnyding in die buik te opereer as wat laparoskopies gedoen kan word, is ons in staat om beter senuweebewaring, minder steke, verminderde post-operatiewe pyn, minder tyd in die hospitaal en versnelde genesing te bewerkstellig. Met ander vorme van chirurgie sal ʼn pasiënt ʼn herstelperiode van tot ses weke benodig, maar met Da Vinci kan hulle binne twee tot drie weke weer hul normale aktiwiteite hervat.”

Volgens Paleker was Da Vinci haar enigste uitweg, aangesien sy ʼn ma van vier is wat boonop help om die familieonderneming aan die gang te hou.

“Ek het met al my kinders normaal geboorte gegee, maar ek moes ook baie tyd op my voete deurbring en verlede jaar het ek deurbraakbloeding begin kry. Ek het ook die een urienweginfeksie ná die ander gehad,” sê sy.

“Dit het aansienlike fisieke ongemak veroorsaak en ook my geestelike lewe beïnvloed, aangesien ek Moslem is en ons nie kan bid tydens menstruasie nie.”

Jeffrey en Paleker het eindelik ooreengestem om Da Vinci te gebruik en sedertdien voel sy soos ʼn nuwe mens.

“ʼn Paar weke het al verby gegaan en ek voel fantasties. Ek het so vinnig herstel en daar is geen komplikasies nie.”

Eindelose moontlikhede

Dr. Imraan Mia, ʼn kolorektale chirurg wat saam met Jeffrey werk, sê ʼn beter lewensgehalte is een van die groot redes waarom hulle besluit het om Da Vinci vir die spesifieke soort operasie in te span. Die hoop is egter om die omvang van die soort operasies wat Da Vinci mee kan help, te verbreed.

Die dokters beoog om die robotiese stelsel te gebruik in die behandeling van kolon- en rektumkanker, asook ander toestande soos inflammatoriese dermsiekte wat nie lewensgevaarlik is nie.

“Wanneer jy die bekken- en kolorektale-area tydens die operasie navigeer, werk jy binne ʼn baie nou ruimte wat baie belangrike senuwees bevat wat verantwoordelik is vir blaas-, rektale en seksuele funksie. Met hierdie stelsel kan jy daardie senuwees duideliker sien en kleiner insnydings maak, wat beter senuweebewaring en ʼn dramatiese verbetering in die behoud van sensasie en beheer in daardie area beteken,” sê Mia.

Kolonkanker is die derde mees algemene kanker in Suid-Afrika en alle aanduidings wys daarop dat die huidige gevalle oor die volgende 20 jaar twee- tot drievoudig kan toeneem.

Volgens Jeffrey is dit reeds in die VSA en Europa algemene praktyk om stelsels soos Da Vinci te gebruik om kolonkanker mee te behandel.

“Dit is bemoedigend om te sien dat al hoe meer pasiënte gewillig is om hierdie soort operasie te beproef. Van dit wat ons al gesien het, is dit duidelik dat Suid-Afrikaners soveel hierby sal baat vind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Antares ·

Dit werk beslis met krag. Ek dink egter hospitale wat hierdie tipe van operasies uitvoer beskik oor noodkrag.

honeybee ·

B-Man, ek wou die selfe vraag vra, want dan sal hy nie veel ue n dag kan werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.