Dié paramedikus ’n vrou van staal

Chantelle Botes, ‘n paramedikus van ER24, sal Suid-Afrika binnekort in Slowenië by die wêreldkampioenskap vir liggaamsbou verteenwoordig. (Foto: Verskaf)

Stilsit was nog nooit op Chantell Botes se te doen- lysie nie, maar dié paramedikus verbonde aan ER24 se Johannesburg-Wes-stasie, neem fiksheid nou na ʼn hele nuwe vlak – en ʼn reis na Slowenië waar sy binnekort aan die internasionale liggaamsboufederasie se wêreldkampioenskap gaan deelneem.

Botes is gekies vir die span wat Suid-Afrika volgende maand by die kampioenskap gaan verteenwoordig.

Sy was nog altyd aan die gang en het voorheen hokkie en vlugbal – en selfs rugby in matriek – gespeel. Botes se fiksheidsreis het egter eers in 2018 begin momentum kry toe sy alleen by ʼn gimnasium begin oefen het. Sy het daarna onder leiding van ʼn instrukteur ernstig skouer aan die wiel begin sit.

“Ná die regte aanwysings het ek met gewigte begin oefen versot geraak op fiksheid. Ek het nogal die stigmas oor vroue wat met gewigte oefen gehoor, dat dit jou uitermate gespierd maak, en ek het dit geglo.

“Ek het muurbal begin speel en ander kardio-oefening gedoen en later besef dat dit ʼn wanopvatting is: gespierd beteken gesond, nie manlik nie,” sê Botes.

Nadat sy etlike maande lank geoefen het, het Botes vir haar eerste kompetisie ingeskryf. Dit was nie ʼn dawerende sukses nie, maar vir Botes wel ʼn leerkurwe.

“Ek het geweldig baie geleer en besef wat dit van my gaan verg om hierdie [sportsoort] ernstig op te neem.”

In 2019 het Botes saam met ʼn vriend begin voorberei vir plaaslike kompetisies. Sy het in die meeste kompetisies tweede en derde plekke behaal. Botes het ook saam met ʼn fiksheidsinstrukteur begin werk wat haar gehelp het om haar leefstyl heeltemal te verander.

“Ek moes heelwat veranderings in my lewe aanbring. Ek oefen vyf keer per week, soms twee keer per dag vir twee na drie ure. Voeding is uiters belangrik en ek moet baie streng wees: alles begin in die kombuis. Ek eet ses klein etes per dag, meestal hoender sonder die vel, groente, slaai en basmati-rys. Ek probeer suiwelprodukte vermy,” sê Botes.

In 2020, met die uitbreking van die Covid-19-pandemie, het Botes se wêreld ook verander. Verskeie beperkings is ingestel en gimnasiums was een van die plekke wat onbepaald gesluit is. Botes moes ander maniere vind om haar fiksheidsreis voort te sit en dit was weer skouer aan die wiel – hierdie keer letterlik.

“Ek het my motor op en af in die oprit begin stoot en met groot bande in die tuin geoefen.”

In Oktober verlede jaar was Botes terug op die verhoog by die internasionale liggaamsbou- en fiksheidsfederasie se provinsiale Fire and Ice-kompetisie.

“Ek het teen talle pragtige vroue deelgeneem wat almal net so hard werk. Ek is gekies vir die Suid-Afrikaanse span. Dit is ʼn voorreg en ʼn eer en ek gaan teen topspanne van regoor die wêreld deelneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Geluk en alles van die beste. Mag jy jy die bo – punt van die leer bereik.

gpsa ·

Lekker om iemand se sukses storie te lees. Moes baie gevat het om daar uit te kom. Baie geluk en baie sterkte vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.