Dié partye en kandidate neem deel aan die munisipale verkiesing

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Vrydag gesê ʼn rekord aantal partye en kandidate sal op 3 Augustus aan die verkiesing deelneem.

“Altesaam 200 partye en 61 014 kandidate sal op 3 Augustus aan die munisipale verkiesing deelneem, ná sertifisering op 27 Junie plaasgevind het,” het Kate Bapela, woordvoerder van die OVK, gesê. “Dit is ongeveer 65% meer partye en 12% meer kandidate as die vorige munisipale verkiesing in 2011.”

Altesaam 8 350 kandidate is gediskwalifiseer tydens die nakomingsproses. “Van die kandidate wat gediskwalifiseer is, is die oorgrote meerderheid gediskwalifiseer weens ʼn versuim om dokumentasie in te handig (46%), deposito’s wat nie betaal is nie (38%) en persone wat nie geregistreerde kiesers is in die munisipaliteit waar hulle hulself verkiesbaar stel nie (15%).

Volgens die OVK is daar steeds twee kwessies wat ʼn wysiging in die finale syfer kan bring, waaronder 73 betalings wat die OVK betyds ontvang het, maar nie aan ʼn kandidaat of party kon koppel nie, aangesien die betaling nie die korrekte depositoverwysing gehad het nie. “Partye wat gediskwalifiseer is, is in kennis gestel en hopelik sal diegene wat deel is van dié 73 betalings, die OVK dringend nader.”

Die tweede kwessie hou verband met partye of kandidate wat hul diskwalifikasie in die hof wil beveg. “Die OVK is bewus van minstens een party wat die verkiesingshof genader het om sy diskwalifikasie om te draai nadat ʼn deposito nie betyds betaal is nie.”

Die OVK het gesê die regsproses is buite sy beheer, maar die finale kandidaat- en partylyste moet dringend afgehandel word, aangesien die OVK reeds op 4 Julie met die drukwerk van die stembriewe begin om seker te maak dit is gereed teen 3 Augustus.

Daar is altesaam 4 648 unieke stembriewe vir die 2016 munisipale verkiesing.

Kiesers in metromunisipaliteite sal twee stembriewe moet voltooi en kiesers in ander munisipaliteite sal drie stembriewe moet voltooi. Die OVK beplan om ongeveer 80 miljoen afskrifte van die stembriewe te druk.

Ongeveer 60% van die kandidate wat hulself verkiesbaar gestel het is manlik en 40% is vroulik. Die gemiddelde ouderdom is 44 jaar. Die jongste kandidaat is 18 jaar oud en het homself in Wyk 5 in Ingquza Hill- plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap verkiesbaar gestel. Die oudste kandidaat is 90 jaar oud in Mbizana- plaaslike munisipaliteit, ook in die Oos-Kaap.

Die lys van kandidate is by die betrokke munisipale kantore van die OVK beskikbaar. ʼn Volledige lys van alle partye en kandidate is ook beskikbaar op die OVK se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Wat ek lees is weereens ‘n bewys dat kundigheid nie ‘n rol speel op die langeduur.
Stem dus vir die een wat die minste beloftes maak want hy/sy is die een wat jou die minste gaan teleurstel.

HEVW ·

Ons moet beslis ons verwagtinge afskaal. Die ouderdomme bevestig die gebrek aan erns waarmee hul hul verantwoordelikheid benader.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.