Dié politieke partye kry groot skenkings

(Foto: Rise Mzansi/Facebook)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het politieke partye se verklarings van skenkings vir die derde kwartaal bekend gemaak en onthul dat die nuwe politieke party RISE Mzansi die meeste skenkings van al sewe politieke partye wat skenkings verklaar het, ontvang het.

Dié party, wat op 7 September verlede jaar as politieke party geregistreer is, het tussen 1 Oktober en 31 Desember meer as R16,7 miljoen in skenkings ontvang waarvan Rebecca Oppenheimer, kleindogter van die mynmagnaat Harry Oppenheimer, R15 miljoen geskenk het.

Oppenheimer het vantevore al soortgelyke skenkings aan partye soos die DA en ActionSA gedoen.

ActionSA het op sy beurt byna R14 miljoen van skenkers tydens die derde kwartaal ontvang waarvan Victoria Freudenheim, óók ’n kleindogter van Harry Oppenheimer, meer as die helfte (R7,4 miljoen) geskenk het.

Die ANC het R10 miljoen in skenkings verklaar.

Argieffoto van ANC-ondersteuners. (Foto: GCIS)

Al die regerende party se verklaarde skenkings tydens die derde kwartaal was van geldelike aard en is deur Chancellor House-trust, beleggingsmaatskappy van die ANC, geskenk. Die skenkings was albei R5 miljoen elk en is albei in Desember ontvang.

Build One South Africa (Bosa) het die vierde hoogste skenking verklaar. Die party het R8,5 miljoen in skenkings verklaar, wat alles geldelik van aard was.

Jessica Bridget Slack Jell, óók ’n kleindogter van Harry Oppenheimer, het R6 miljoen geskenk. Martin Moshal het R2 miljoen geskenk en ’n entiteit genaamd RTH Investments (Pty) Ltd het R500 000 geskenk.

Die OVK sê hierdie bydraers is gereelde skenkers aan verskeie politieke partye, onder wie die DA en ActionSA.

Die Patriotic Alliance het geldelike skenkings ten bedrae van net meer as R7 miljoen van agt verskillende skenkers verklaar.

Gayton McKenzie, leier van die party, was die party se grootste skenker vir die kwartaal met drie afsonderlike skenkings van onderskeidelik R250 000, net meer as R2,2 miljoen gedurende die maande Oktober, November en Desember verlede jaar.

Dit kom neer op ’n totaal van R2 759 130.

Nog ’n partyleier, Kenny Kunene, het in dieselfde tydperk ’n geldelike skenking van net meer as R1 miljoen aan sy party gemaak.

Die DA het in die derde kwartaal R2,6 miljoen in skenkings vanaf ses verskillende skenkers ontvang. Die grootste skenkingsbedrag van R1 miljoen is ontvang van ’n entiteit genaamd Artemis Properties (Pty) Ltd, gevolg deur Beacon Rock Bpk. met ’n skenking van net onder R1 miljoen.

DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Facebook / DA)

Die IVP het maar R191 000 in die derde kwartaal verklaar; die skenking is vanaf Konrad Adenauer Stiftung NPC ontvang.

Volgens die kommissie is die skenking gedoen vir koste verbonde aan ’n opleidingswerksessie vir partylede wat in die nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsfere werksaam is.

DIe OVK sê daar was ’n bestendige toename in die waarde van skenkings wat vir die derde kwartaal verklaar is –  in sekere opsigte ’n aanduiding van politieke partye se geldinsamelingsbedrywighede ter voorbereiding vir die verkiesing.

‘Ondersoek ANC’

ActionSA sê egter die kommissie behoort die ANC te ondersoek.

Michael Beaumont, ActionSA se nasionale voorsitter, wys daarop dat die ANC R10 miljoen vanaf Chancellor House ontvang het. Dit was boonop in dieselfde kwartaal as wat die ANC aangekondig het dat hy en die maatskappy Ezulweni Investments ’n R102 miljoen-skikking bereik het oor die geld wat die ANC die maatskappy geskuld het vir verkiesingsbaniere.

Beaumont sê deur die skenkings van R10 miljoen in dié kwartaal te verklaar, het die ANC gewys ActionSA se agterdog oor die skikking was geregverdig.

“Die waarskynlikheid is dat R102 miljoen skuldvereffening, plus rente oor die vier jaar wat dit opgeloop het, nie deur ’n skenkingsopenbaarmaking van R10 miljoen gefinansier kon word nie.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: ANC/X)

“Die feit dat geen skenking in natura deur die ANC van Ezulweni Investments aangemeld is nie, sou daarop dui dat die maatskappy nie die skikking met selfs soveel as R100 000 verdiskonteer het nie – ’n onwaarskynlikheid in die vereffening van sulke groot skuld. Verder is die waarskynlikheid dat die voorwaardes van ’n skuldskikking deur skenkings ter waarde van R10 miljoen (teen R102 miljoen plus rente oor vier jaar) gefinansier kan word, onmoontlik.

Beaumont sê ActionSA gaan weer ’n skrywe aan die OVK rig om te eis dat hy ondersoek instel na die ANC se skuldskikking met Ezulweni Investments.

“Die OVK kan nie aanhou om homself blind te hou vir die ooglopende feit dat die ANC skuld vereffen het wat hy onmoontlik in terme van sy skenkingsopenbaarmakings kan bekostig nie.

“Dit kan net beteken dat die ANC ’n finansieringsreëling met Ezulweni Investments het wat buite hul openbaarmakings val of toekomstige inkomste belowe het deur die verskaffing van tenders van die staat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ronél ·

Trots DA – vermors nie geld nie en melk ook nie Maatskappye nie.

Boksombende ·

Vir die ANC is wat verklaar is nie die selfde as wat ontvang is nie. Hoekom sal hulle by die reels hou?

Retha ·

ANC moet verklaar wie hulle uit die moeilikheid gekry het met die plakaat mpy van die vorige verkiesing…daár lê n R100m+ skenking

annie ·

Die Oppenheimers ea het lekker gebly in SA ook tydens WW2 en ons grond kaal gemyn van goud en diamante onder die NP-bewind maar kruip nou weer lekker by die ANC met geen geldjie of goeie woordjie vir Afrikaner-geledere nie. Mmm… Net te lekker…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.