Dié provinsie is die beste om in te bly

nuwe SA-vlagSolidariteit het Dinsdag met sy Leefbaarheidsmonitorverslag bekend gemaak watter provinsie se inwoners ʼn beter lewensgehalte as die res van die land geniet.

Dr. Eugene Brink, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het gesê die Wes-Kaap kraai koning, en munisipale dienslewering is in dié provinsie baie beter as in die res van die land.

Solidariteit het die leefbaarheid van 25 plaaslike munisipaliteite en een metropolitaanse munisipaliteit in die Wes-Kaap gemeet. Die resultate van die monitor dui daarop dat Wes-Kaapse munisipaliteite, wat leefbaarheid betref, in die geheel en op individuele vlakke baie beter gevaar het as munisipaliteite in die ander provinsies wat reeds gemeet is. Leefbaarheid verwys na inwoners se vermoë om ’n menswaardige bestaan in ’n dorp of stad te kan voer.

Brink het gesê die verslag toon onder andere dat werkloosheid in die Wes-Kaap oor die algemeen laag is, selfs laer as in Gauteng, en dat opleidings- en inkomstevlakke relatief hoog is. Verder dui dit daarop dat mediese geriewe by privaat en staatsinrigtings, van ’n hoë gehalte is. Daarby is die gehalte en voorsiening van drinkwater en sanitasiegeriewe prysenswaardig.

“Die hoë gehalte van dienslewering in die Wes-Kaap is te danke aan die relatief knap bestuur van die meeste Wes-Kaapse munisipaliteite en die lae voorkoms van korrupsie,” het Brink gesê. “Gekwalifiseerde oudits is byvoorbeeld die uitsondering eerder as die reël. Presies die teenoorgestelde is die geval by die munisipaliteite wat in die vorige monitors ondersoek is.”

Brink het gesê dat in teenstelling met die tellings wat in die monitors vir Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes behaal is, nie een munisipaliteit in die Wes-Kaap ʼn telling van minder as 5 uit 10 behaal het nie. Overstrand het 8,5 uit 10 behaal, terwyl verskeie ander munisipaliteite tellings van 8 behaal het.

Hy het egter bygevoeg daar is steeds talle uitdagings vir inwoners van die Wes-Kaap. “Die voorkoms van misdaad is plek-plek hoog tot baie hoog, terwyl talle werksgeleenthede slegs seisoenaal is en swak betaling bied. Verder kom informele behuising nog dikwels voor en hou die toenemende bevolkingsontploffings in talle Wes-Kaapse munisipaliteite ernstige risiko’s in – veral wat dienslewering, infrastruktuur en misdaad betref.”

Brink het gewaarsku dat uiters oordeelkundige bestuur nodig is om hierdie risiko’s reg te hanteer.

Die monitor is ’n deurlopende projek van die SNI wat die leefbaarheid in alle munisipaliteite van Suid-Afrika periodiek meet. Vanaf die tweede metingsronde sal vergelykings getref word tussen die vorige en die huidige stand van sake in elke munisipaliteit.

“Sodoende sal ons kan bepaal of ons munisipaliteite verbeter het, onveranderd gebly het, of dalk selfs verswak het,” het Brink bygevoeg.

Klik hier om die Leefbaarheidsmonitor vir die Wes-Kaap af te laai.

Klik hier om die Leefbaarheidsmonitor vir Noordwes af te laai.

Kliek hier om die Leefbaarheidsmonitor vir Mpumalanga af te laai.

Kliek hier om die Leefbaarheidsmonitor vir Limpopo, wat verlede jaar bekendgestel is, af te laai.

Kliek hier om die Leefbaarheidsmonitor vir Gauteng, wat ook verlede jaar bekendgestel is, af te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

EC ·

Die Oos Kaap is so ver agter en lewens kwaliteit op so ‘n lae vlak, lyk my nie hulle het eers probeer om dieselfde peiling opname hier te doen nie…

Alta Pretorius ·

Dis hoekom ek in die WesKaap bly. Maak ‘n plan om hierheen te trek. Dis sielevoedeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.