Dié pryse kan kopers die hoenders in maak

Verbruikers moet hul staal vir ‘n skerp styging in die prys van hoender. (Foto: pexels)

Suid-Afrikaanse verbruikers moet hulle staal vir wat die Suid-Afrikaanse Vereniging van Vleisin- en uivoerders (Amie) ʼn “prys-tsoenami” vir hoender noem.

Die prys van hoender het die afgelope dekade elke jaar met 10% gestyg en Amie het nou ʼn beroep op die regering gedoen om handelstariewe op te skort en ʼn moratorium van drie jaar op die instelling van nuwe tariewe te plaas. Die vereniging vra ook dat BTW op die produkte geskrap word.

Amie sê die opskort van tariewe kan lei tot ʼn daling van 33% in die prys van hoender aan die been, en ʼn daling van tussen 18% en 20% van hoenderafval.

Die vereniging sê dit sal broodnodige verligting bring vir verbruikers wat al hoe meer platsak is en sal hulle in staat stel om steeds dié belangrike bron van proteïen te kan bekostig.

Paul Matthew, uitvoerende hoof van Amie, sê Suid-Afrikaners is onder geweldige finansiële druk en alles moontlik moet gedoen word om die stygende prys van pluimvee te stuit. Hy sê die vinnigste manier om dit te doen, is om ʼn moratorium op die tariewe vir ingevoerde hoender te skrap en BTW op pluimveeprodukte te skrap.

“Ons weet hoender is die primêre, bekostigbaarste en dus belangrikste bron van proteïen vir Suid-Afrikaanse verbruikers. Ons weet ook dat ʼn prys-tsoenami ons in die gesig staar weens woeste inflasie, wêreldwye kos- en kommoditeitstekorte, die stand van die ekonomie na Covid-19, die uitwerking van die oorlog in Oekraïne op wêreldwye voedselsekerheid, die toename in die prys van brandstof, vervoer en krag, stygende handelstariewe, ontwrigtings aan die verskaffingsketting en die feit dat lone daal en werkloosheid toeneem,” sê Matthew.

Die regering het vroeër – in ʼn poging om druk op verbruikers te verlig – die brandstofheffing verminder en die inwerkingstelling van die sogenaamde suikerbelasting met ʼn jaar uitgestel. Matthew sê dit is ʼn aanduiding dat die regering besef onder watter groot druk mense is en weet hy kan betekenisvol ingryp.

“Hy kan dieselfde vir hoender doen,” sê Matthew.

Dean Macpherson, die DA se woordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging, sê die DA gaan die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) vra om die tariewe op te skort sodat “verbruikers kos op die tafel kan sit”.

Macpherson sê die departement van handel, nywerheid en mededinging – en veral min. Ebrahim Patel – val al jare lank oor hul voete om groot pluimveeprodusente gelukkig te hou deur bekostigbare pluimvee vir Suid-Afrikaners onmoontlik te maak. Hy sê dit is gedoen deur onregverdigbare tariefverhogings op ingevoerde pluimvee onder die dekmantel dat dit Suid-Afrikaanse produsente beskerm.

Die DA sê hy het gewaarsku dat die teenmededingende optrede deur groot produsente, saam met die minister en Itac, tot astronomiese prysstygings gaan lei. Dit word nou ʼn werklikheid.

In Maart verlede jaar het die invoertarief op pluimvee van 37% tot 62% op gevriesde hoenderstukke aan die been toegeneem, terwyl die tarief op gevriesde ontbeende hoenderstukke van 12% tot 42% toegeneem het. In Desember verlede jaar het die regering nuwe voorlopige aksynsbelasting op pluimvee-invoere van Brasilië, Spanje, Pole, Denemarke en Ierland ingestel. Die tariewe wissel van 6% tot 265,1% en geld tot 14 Junie vanjaar.

Ingryping nóú nodig

Donald McKay, handelsekonoom en direkteur by XA International Trade Advisors, sê gesamentlik skets die faktore ʼn donker prentjie vir Suid-Afrikaanse produsente. Die uitwerking van die oorlog in Oekraïne kan nog nie eens in die syfers gesien word nie en die land is maar aan die begin van ʼn skerp inflasiekurwe.

“Die krisis vereis die dringende aandag van ons regering wat vinnig en ingrypend moet optree om te verseker dat toenemende voedselonsekerheid nie tot verdere maatskaplike onrus, soos ons verlede jaar gesien het, lei nie,” sê McKay.

Invoere verteenwoordig volgens Matthew net 14,9% van alle hoender wat in Suid-Afrika geëet word, maar hy waarsku dat dit belangrik is om ʼn gesonde balans tussen beskikbaarheid en bekostigbaarheid te handhaaf.

Dié syfers sluit die invoer van meganies ontbeende hoendersvleis uit. Suid-Afrika produseer dit nie, maar dit is steeds belangrik vir die produksie van verder verwerkte produkte.

“Die mededinging wat verskaf word deur ʼn klein invoermark het ʼn materiële uitwerking om die prys van hoender vir verbruikers in bedwang te hou. Suid-Afrika voldoen tans net aan sowat 80% van die land se vraag na hoender en kan spesifiek nie voldoen in die vraag na sekere snitte, soos hoendervlerkies en kwarte, nie.

“Invoere, selfs op so ʼn lae vlak, is noodsaaklik en word selfs meer so wanneer Suid-Afrika gereelde siekte-uitbrekings ondervind,” sê Matthew.

Hy sê die uitdaging vir Suid-Afrika is eindelik nie hoender-invoere nie, maar die immerstygende prys daarvan en verbruikers sy kwynende vermoë om dit te bekostig.

“Die skrap van BTW en alle tariewe sal Suid-Afrikaners ʼn blaaskans gee.”

Macpherson sê die minister en sy departement moet die skuld kry vir die verdriet waarin talle Suid-Afrikaners nou gedompel word. “Hulle is gewaarsku dat hul obsessie om invoere uit te sluit om groot pluimveeprodusente te beskerm teen ʼn prys gaan kom.

“Die koste word nou verreken, met baie families wat honger ly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Manie ·

Nog beter, stel alle kos vry van BTW en verhoog BTW op luukse artikels. Hoekom kan BTW nie soos belasting kerwe werk en gehef word nie? Dan kan die laer besoldigdes beter lewe en die wat dit kan bekostig, meer betaal, bv: Voertuie tussen R500 000.00-R600 000.00 20% BTW, R600 000.00-R700 000.00 25% BTW ens.

Petrus ·

Goeie voortstel, maar ongelukkig stem die regte mense nie saam nie.

Koen ·

Nog beter, skaf jou eie hoenders aan. Siedaar, eiers en vleis in jou agterplaas.

piet ·

Voer alles in teen minder. Ek is moeg vir die plaaslike bedryf wat nie wil of kan meeding teen internasionale markte nie en dit ten koste van die SA verbruiker. Ek koop die goedkoopste, klaar, al kom dit ook van Noord-Korea af.

VaalDonkie ·

Ja ek weet ook nie. Ek wil graag “local is lekker” wees, maar my kind moet met ‘n vol maag gaan slaap en as “local is lekker” R20/kg meer kos, dan kyk ek maar elders. Is moeilik om patrioties te wees wanneer jy soos ‘n koei gemelk word.

Anel ·

Staak sommer die nuwe gesondheidsregulasie wat moonlik Saterdag in werking tree, want dan gaan niemand meer eers die hoender kan bekostig nie want hoeveel meer mense gaan werkloos wees!! Maar nou ja, hierdie regering voel mos niks vir die burgers van hierdie land nie. Die mense kom om van die honger, maar hulle laat mense hul werk verloor, sit alles se pryse op en dan wil hulle nog geld gee vir ander lande wat sukkel. So ja, die lot het geen idee van hoe om ‘n land te bestuur nie.

Samuel ·

Die regering voel vere vir ons gewone burgers. Die hongeriges stem weer vir ANC.

Chris ·

As hoenderplaas bestuurder en lid van SAPA weet ek dat die Suid Afrikaanse Pluimveevereniging(SAPA) onder leiding van Izak Breitenbach hierdie hoë invoer tariewe met die regering onderhandel het. Die tariewe is baie nodig om die plaaslike hoenderbedryf wat 1000de SA’ers werk gee te beskerm teen gesubsideerde hoender wat hier gedump word en plaaslike produsente bankrot sal maak. Buitelanders voel vere vir ons wat hier werk en leef, hulle raak net ontslae van oortollige produk om hul eie bedrywe te red. Die SA vleisinvoerders (SAMI) is telkens ook uitgewys deur SAPA dat hulle groot winste maak uit hierdie goedkoop vleis stortings. SA regering subsideer geen plaaslike hoenderboer met 1sent nie.

piet ·

As jy jou eie besigheid bedryf, voel mededingers vere vir jou. So vir wat moet plaaslike produsente beskerm word? As jy nie kan meeding nie, doen iets anders soos al ons ander ouens wat ons eie besighede bedryf. Jy maak dit of jy maak dit nie, dis soos dit werk. Waar is julle plaaslike ouens se “goedkoop vleisstortings”. Hoekom sien die verbruiker dit nie?

Chris ·

Plaaslike hoenderboere kan onmoontlik meeding teen buitelandse hoenderprodusente omdat die buitelandse produsent hulp in die vorm van goedkoper voer en uitbetalings ontvang van hulle regerings wanneer hulle diere/hoenders vrek van ‘n aanmeldbare siekte. Die staat het ‘n verpligting teenoor alle bedrywe in S.A om hulle te beskerm teen onmededigende praktyke, en dit sluit kosproduksie in sy geheel in. Tydens ‘n Voëlgriep uitbraak in ons groep, is daar geen hulp vd Staat en moet miljoene rande se verlies self gefinansier word met groot impak op oorlewing vd besigheid. Dis baie ernstig en bedreigend vir SA se kos voorsiening as die Staat onverantwoordelik en onverskillig teenoor die Landbou staan.

piet ·

Daar’s geen bedreiging van voedselvoorsiening as voedsel vir goedkoper aangekoop kan word uit die buiteland nie.

Frank ·

As iets teen R10 ingevoer kan word, dus prys + wins + vervoerkoste en meer, waarheen gaan die geld as dieselfde nie plaaslik minder as R10 kan kos nie?

piet ·

Dis gerooster lyk dit vir my. Lanklaas so ‘n lekker vet en stewige hoender gesien. Plaaslike goed lyk brandsiek.

Koen ·

Hulle proe so lekker want hulle eet so lekker. Bietjie oorgewig maar sy lyk heel tevrede soos sy daar met gevoude bene sit net soos ‘n afkop hoender.

Janine ·

Is dit die ingevoerde hoenders wat soos depressiekuikens lyk? ‘n Heel hoender het 6 met gemak gevoed, plus oorskiet vir toebroodjies. Vandag is ‘n heel hoender skaars genoeg vir 2! Die ‘catering’ hoender laat ook maar veel te wense oor.

VaalDonkie ·

Dis meer winsgewend om jonger te slag. Want jy kan twee keer soveel hoenders verkoop. En die insetkostes per hoender is ook minder. Maar ja, ek onthou toe hoenders nog HOENDERS was.

piet ·

Nee, dis ons plaaslike goed wat so lyk en waarvoor jy oor ‘n mik moet betaal.

Frank ·

As daar besparing van 30% is twyfel ek of KFC hulle pryse met selfs 3% sal afbring so daardie ekstra winsie sal inelkgeval almal behalwe gebruiker bevoordeel presies soos met petrol waar pryse opgaan as petrol styg maar nooit afgaan as petrol ook afgaan nie

piet ·

Daar’s blykbaar wereldwyd ‘n ooraanbod van sekere snitte, nou word ons SA verbruiker basies uitgesluit daarvan om te deel in hierdie baie goedkoper snitte waarvan die res van die wereld ontslae van wil raak. In die Verenigde State het ek gelees, is borsies die gewildste en in groot aanvraag terwyl die ander snitte afgeskeep word. Ek sal met graagte hul kwart-hoenders en vlerkies vir helfte van SA se mal plaaslike pryse wil aankoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.