Die rand presteer teen die dollar

(Argieffoto: stevepb/pixabay)

Die rand was Woensdag die beste presteerder van ontluikende markte toe dit met 2% tot R17,97 per VSA dollar (USD) gestyg het en teen Vrydagaand teen R17,63 per dollar verhandel het.

Die plaaslike geldeenheid se versterking het vandeesweek momentum opgebou en sy sterkste vlak in vyf weke bereik toe dit onder die afgelope 50 dae se gemiddeld van R18,15 per dollar gewissel het, vir die eerste keer hierdie jaar.

Dié verligting kom nadat die rand vir byna twee maande reeds swak presteer en oor die R19 per dollar verhandel het. Volgens Gerhard van Onselen, senior ontleder vir Sakeliga, het effe sterker kommoditeitspryse die afgelope paar dae ondersteuning gebied.

“Natuurlik was ʼn herstel in die rand-dollar-wisselkoers ná so ʼn akute verswakking te wagte, maar ons sal moet sien hoe die voortsetting van die landwye afsondering, beleidsonsekerheid en ander markbelemmeringe op die plaaslike geldeenheid inwerk,” sê hy.

Moody’s se afgradering van die plaaslike geldeenheid aan die einde van Maart het die rand ʼn knou gegee. Met die wêreldwye resessie wat dreig, beskou beleggers ontluikende markte soos dié van Suid-Afrika as riskant, vererger deur vrae oor die land se groeivooruitsigte in die lig van die Covid-19-pandemie en ander binnelandse groeibelemmerings.

Daniël du Plessis van Sakeliga verduidelik dat dit belangrik is om te onthou dat die rand – en bates wat in rand waardeer word – tipies hoërisikobeleggings is. “Ons het gesien dat die rand in tye van onsekerheid drasties verswak, selfs al is daar nie ʼn direkte uitwerking op Suid-Afrika nie. Beleggers wil eerder belê in goed soos eerstewêreld-staatseffekte wanneer dit lyk asof daar onstuimigheid op pad is.”

Met die huidige opswaai van die rand se waarde teen die dollar kan dit wees dat beleggers effens gemakliker is met meer riskante bates, sê Du Plessis.

Die geldeenheid het vanjaar reeds met meer as 20% verswak, die tweede swakste presteerder naas Brasilië.

Die rand se wisselkoers met eenhede soos die dollar, euro en pond is van belang omdat dit implikasies inhou vir hoeveel Suid-Afrika vir olie betaal en die verbruiker eindelik vir brandstof opdok, asook hoeveel geld jy moet spaar om oorsee te reis of buitelandse geld as belegging aan te koop.

ʼn Land se status van transaksies met die res van die wêreld, of sy betalingsbalans, is volgens die Reserwebank ʼn direkte bepaler van die wisselkoers. Die sterker rand bring ʼn sprankie hoop omdat dit tot ʼn verlaging van sekere produkte se invoerkoste kan lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Baardman

Sou dit nie eintlik presteer noem nie, net n terugkeer na die normale rommelstatus

marius

Presteer ? Dink ekonome gewone mense is onnosel ?

Andrew

Wie kies die opskifte van die artiekels? maak nie saak hoe jy dit wil stel nie maar 19 tot 1 is nie presteer nie. Dalk in die nuwe SA onserwys is 5% n prestasie

Flip

Die rand het presteer in 1992 was R3.00/USD en geval in 1994 na R3.60/USD na die reenboognasie verkiesing. Van daar af verswak tot waar dit nou is en dit word huidiglik teen R17+ gesien as n prestasie! Dink hulle dat almal in hierdie land ongeletterd is?

pokkel

Dis moeilik om oor die rand verslag te doen, jy’t skaars die artikel geskryf en gepubliseer dan duik die rand weer in sy maai in, sterkte aan joernaliste wat oor die rand moet skryf