Soorte resepte:

Dié SA jenewer die beste ter wêreld

KWV Cruxland Gin

KWV, die bekende Suid-Afrikaanse wyn-en-spiritus-vervaardiger, het onlangs nóg ʼn veer in die hoed gekry toe sy Cruxland Gin as die beste jenewer ter wêreld aangewys is by die 2019 Wêreldprys vir spiritualieë in Oostenryk.

KWV is die afgelope twee jaar ook bekroon vir die beste brandewyn ter wêreld, en het ook vroeër die maand op Drink International se lys van 50 beste wynhandelsmerke ter wêreld verskyn.

Peter de Bod, KWV se algemene bestuurder van spiritualieë en verpakking, het aan Maroela Media gesê dit was vir hulle ʼn verrassing om te wen.

“Ons skryf maar altyd in, maar eintlik in die kategorie vir London Dry-jenewer. Maar die paneel het ʼn blinde proe gedoen en ons het toe gewen. Dit is regtig ʼn groot prestasie vir KWV,” het De Bod gesê.

Daar was meer as 500 inskrywings vir die 2019 Wêreldpryse en sowat 90 van dié inskrywings was vir jenewer.

Volgens De Bod is dit die aardse geur wat KWV se Cruxland Gin so spesiaal maak. Die geur kom grotendeels van hul kenmerkende en skaars Kalahari !N’abbas, ook bekend as Kalahari-truffels.

‘n Skets van dia Kalahari truffels wat in dié jenewer gebruik word. (Foto: Instagram)

“Die Kalahari-truffels groei net in die Kalahari en net direk nadat dit gereën het, so dit is nie maklik om dit in die hande te kry nie. Jy moet jou tyd reg hê, en wanneer dit oestyd is, moet jy genoeg hande hê om dit bymekaar te maak,” het De Bod gesê.

“Op die vlaktes sien ʼn mens ʼn kruisie in die grond, en dit is waar die truffels uitkom. Hulle lyk amper soos aartappels, maar dit is mos eintlik ʼn tipe sampioen. Hulle raak vinnig pap, so ons gebruik van die mense wat daar in die Kalahari bly om ons te help oes.”

Die kruisie wat die Kalahari-truffels in die grond maak het aanleiding gegee tot die naam van dié bekroonde jenewer – “crux” is die Latyn vir kruis.

De Bod het gesê dat hulle het aanvanklik gedink die jenewer gaan die aardse geur behou, maar nadat die jenewer ses maande lank in ʼn vaatjie verouder is, het hulle ʼn wonderlike perskegeur opgemerk.

Behalwe daarvoor dat die KWV Cruxland Gin as die spiritualie van die jaar aangewys is, het dit ook ʼn dubbelgoud toekenning ontvang.

“Ons brandewyn was al die beste ter wêreld, maar om te weet ons jenewer is ook nou die beste is ongelooflik vir KWV. Ons het geweet dit is ʼn goeie jenewer, maar ons het nie verwag om dié groot prys te wen nie,” het De Bod gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Mariette ·

Haha Maroela nou wat nou “kook vernuf na n knersie Kwv” !?

louis ·

Wonderlik, kan iemand dalk vir my se hoe maak n mens jenewer tuis by die huis.
My suster ht eenkeer vir my n botteltie selfgemaakte jenewer gegee

Louis

Johan ·

Louis, dis heel maklik! Koop a bottel goeie “wit drank” – rum of vodka (vodka word meestal gebruik). Gaan koop by Woolworths (by die spesery afdeling) a botteltjie gedroogde jenewer-bessies (Juniper berries) – dit kom in 30g hoeveelhede in a glasbotteltjie.

Gooi die jenewer-bessies by die vodka en laat dit staan vir 12-18 ure. Gooi dan jou “geur-bestandele” by – Gin sluit omtrent altyd koljander in, maar jy kan dit weglaat. Gebruik dan watookal anders jy wil – kaneel, anys, rooibos, kalahari-truffles of wat-ookal.

Laat staan dit vir nog 24-36 uur en sif dan die jenewer-bessies en die “geur bestandele” uit en siedaar!

Gustav ·

Johan se metode is die “cold compound” metode. Die ander metode is om dit te distilleer, moeiliker, maar meer bevredigend.

Amber ·

Johan, wraggies, ek gaan daai een probeer. Dankie vir die resep.

Co ·

Dankie Johan! Ek brou al ‘n geruime tyd my eie bier maar gaan die resep van jou vandag probeer.

Badie ·

Johan jy noem nie hoeveelhede nie. Al is dit “ongeveer”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.