Kyk: Dié saak was nie maklik, sê aanklaer

Gerhard Jansen van Vuuren in die hooggeregshof in Johannesburg (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Ná ʼn lang hofstryd kan adv. Roelene Barnard nou haar hoflêers oppak en Gerhard Jansen van Vuuren se saak afsluit.

Jansen van Vuuren is Vrydag in die hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op sy gewese meisie Andrea Venter.

Barnard het as staatsaanklaer in hierdie opspraakwekkende moordsaak gedien en is heel tevrede met die vonnis.

Vir haar was dit nie net nog ʼn gewone moordsaak nie.

“Die bewyse het van die begin af vir ons aangedui dat Gerhard sy gewese meisie, Andrea Venter, vermoor het, maar dit was nie so ʼn ‘open and shut’-saak nie. Dit is omdat sy regspan gekom het met die verweer dat hy nie-patologies ontoerekeningsvatbaar was ten tyde van die moord,” vertel Barnard na afloop van die vonnis aan Maroela Media.

Jansen van Vuuren se regspan het met die aanvang van die verhoor aangedui dat hul kliënt skuld ontken op grond van ʼn diagnose van tydelike plofbare versteuring (intermittend explosive disorder/IED). Hulle het ook aangevoer dat hy in ʼn nie-patologiese dissosiatiewe staat verkeer het tydens die moord.

Regter Ian Cox het tydens sy uitspraak gesê dat die hof hierdie argument verwerp en dat Jansen van Vuuren – na aanleiding van al die bewyse en getuienis – doelgerig opgetree het om Venter dood te maak.

Barnard het tydens die verhoor Venter se moord aan geslagsgebaseerde geweld toegeskryf, en Cox het hierdie argument aanvaar.

“Dit was ʼn baie tegniese saak. Daar het ure se navorsing en opleeswerk ingegaan. Ek moes oor IED gaan oplees sodat ek presies kan weet wat om vir my psigiater te vra om sodoende getuienis aan te bied.”

Barnard sê sy moes ook getuienis anders lei as wat sy in ʼn “gewone verhoor” sou doen.

“In ʼn gewone verhoor sou ek getuienis lei om te bewys wie dit gedoen het. In hierdie saak het ons geweet Gerhard het dit gedoen, maar ons moes bewys wat in sy kop ten tyde van die moord aangegaan het. Ons moes ook op meer omringende getuienis staatmaak asook ander tipes getuienis (soos die mediese getuienis) konsulteer en aanbied.”

Video-beeldmateriaal en ooggetuies het Jansen van Vuuren direk met Venter se dood verbind.

Barnard was tevrede met die fyn besonderhede waarin die ooggetuies die voorval onthou het.

“Ons werk nie gereeld met sulke ou sake nie. Dit is ’n groot uitdaging omdat mense se herinneringe mettertyd verlore gaan.”

Bewyse toon dat daar ʼn moontlike struweling voor die moord in Venter en Jansen van Vuuren se onderskeie woonstelle was. Venter is volgens die nadoodse ondersoek altesaam 16 keer met ’n mes in die bolyf gesteek.

Sy het ook kneusplekke regoor haar liggaam gehad wat volgens Cox daarop dui dat sy haarself probeer verdedig het.

Jansen van Vuuren het in Mei 2013, vier dae voor sy moordverhoor sou begin, na Brasilië gevlug. Hy is in Oktober 2020 aan Suid-Afrika uitgelewer. Volgens Barnard was dit ʼn deurbraak in die saak.

“En verder was dit die goeie werk van die polisie, ondersoekbeampte en Interpol wat gehelp het dat Gerhard aan die pen ry. Ons is bevoorreg om nog toegewyde, ervare en gedissiplineerde polisiebeamptes te hê.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Waarnemer ·

Well done adv Barnard…ons land benodig meer wetsgeleerdes soos u.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.