Dié SAID-takke gesluit weens staking

Argieffoto

Talle takke van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) was Donderdag gesluit nadat duisende werknemers by die inkomstediens begin staak het.

Lede van die National Education Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) en die Vereniging vir Staatsamptenare (PSA) het oor die hele land begin staak om te eis dat ʼn 11,5%-salarisverhoging aan alle werkers toegestaan word. Die inkomstediens bied 7% aan.

Die inkomstediens het gesê hy het die nodige gebeurlikheidsmaatreëls getref om minimale ontwrigting aan belastingbetalerdienste te verseker.

Donderdag was die SAID se takke in Alberton, Bellville, Benoni, Bethlehem, Bloemfontein, Boksburg, Kaapstad, Doringkloof, Durban, Edenvale, Giyani, Kimberley, Mitchells Plain, Mthatha, Pinetown, Polokwane, Port Elizabeth, Randburg, Randfontein, Richardsbaai, Rissikstraat, Roodepoort, Sibasa, Soweto Orlando-Oos, Uitenhage, Vereeniging, en Witbank-Emalahleni gesluit.

Die SAID het bevestig sy onderhandelinge met die vakbonde het ʼn dooiepunt bereik ná onderhandelinge sedert November verlede jaar.

SAID-werkers het die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) se bemiddelingsvoorstel van ʼn 8%-salarisverhoging vir alle werkers verwerp. Khaya Xaba, woordvoerder van Nehawu, het gesê werkers sal nie bes gee oor hul eise nie.

“Ek kan bevestig dat die SAID 100% tot stilstand gebring is, want werkers het ʼn 11,5%-salarisverhoging in die oog, nie 7%-slawelone nie. Die staking is aan die gang en sal voortduur totdat die SAID-bestuur aan ons eise voldoen,” het Xaba gesê.

Edward Kieswetter is aangestel as die nuwe kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. (Foto: Facebook)

‘Reusetaak wag op nuwe taksbaas’

Te midde van dié staking wat die inkomstediens lamlê, het die DA Donderdag gesê ʼn massiewe taak wag op die nuwe SAID-kommissaris, Edward Kieswetter.

Kieswetter sal vanaf 1 Mei by waarnemende kommissaris Mark Kingon oorneem. Hy is deur pres. Cyril Ramaphosa vir ʼn termyn van vyf jaar aangestel.

Alf Lees, die DA se woordvoerder vir finansies, het Kieswetter voorspoed toegewens met die groot taak wat vir hom voorlê “om die gebroke instansies te herstel”, en gesê die party sal voortgaan om die verwikkelinge by die SAID te monitor.

“Die SAID was in ʼn stadium die goue standaard van goeie bestuur in ons openbare ondernemings, maar mettertyd, en veral onder die leierskap van Tom Moyane en voortdurende politieke inmenging van die ANC, het massiewe institusionele erosie plaasgevind,” het Lees gesê.

“Een van die mees vernietigende gevolge van die wanbestuur by die SAID onder ʼn ANC-regering was die wantroue wat ontwikkel het tussen hardwerkende Suid-Afrikaanse belastingbetalers en die instansie, wat gelei het tot lae belastingdryfvermoë en ʼn tekort aan inkomste.”

Lees het gesê die DA glo Kingon het reeds die bal aan die rol gesit om die probleme by die SAID aan te pak en Kieswetter moet voortgaan met hierdie werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Koos ·

Ek verstaan nie. SAID personeel is mos staatsdiens personeel. Van hulle nie onder dieselfde 3 jaar ooreenkoms wat laas jaar onderteken is nie?

TLC ·

Ons is semi staatsdiens
En ek was op my pos
Wag tot hul sien wat kan so n dag aan hul pay maak
Eina

Udo ·

SARS werknemers het afgelope paar jaar elke ‘n kleiner verhoging ontvang as wat die staatsdienspersoneel ontvang het. Hulle het agter geraak met hulle salarisse.

Ja swaer ·

Die hele staatsdiens is oorbetaal. Elke jaar dring hulle aan op dubbelsyfer persentasie verhogings en kry meer as die inflasiekoers. Werkers in die privaat sektor kry nie naastenby sulke verhogings konstant elke jaar nie. Die ironie is dat belastinggeld die konstante jaarlikse verhogings van staatsamptenare finansier. Dus trek die privaat sektor aan die korste ent en finansier staatsamptenare se buitensporige verhogings en salarisse. Dis belaglik, die regering dreig al jare lank om die verhogings te besnoei en die staat se reuse salaris rekening maar doen dit nooit nie want dis ‘n gewoorborgde 800 000 to miljoen stemme vir hulle. En as mnr Kieswetter nie na hulle pype dans nie, gaan hy nie lank hou nie. Nou wonder mens of Ramaphosa se keuse v Kieswetter by implikasie n erkenning is dat n Afrika persoon nie die kennis/ vaardigheid het om SARS te bestuur nie?

Jakes ·

Maak soos ander maatskappye, gee toe aan die loon verhogings sodat werk kan aangaan. Paar maande later doen jy herstrukturering en raak ontslae van al die suurstof diewe. Sodoende verminder jy personeel en die salaris rekening bly dieselfde. Unies se visie is kortsigtig want hoe kan jy 11,5% verhoging gee met ‘n land wat se ekonomie groei met 0.8%. Kyk watse lewe leef die manne aan bestuur van hierdie unies, dan weet mens ook hoekom dit belangrik is om meer salaris te kry, want dit beteken ook meer lidmaatskap gelde.

T ·

Aiai ek is amper daar by die suurstof diewe
Onthou net jy gaan as jy gelukkig is ook eendag as n suurstof dief benoem wor
Baie lelike woord maar ek belowe jou as hul pakket aanbied gryp ek eerste want ek is moeg vir Sars en sy bee eeeeeee

marous ·

Hoofnarre bly in ‘n pos vir ‘n paar jaar om hulself te verryk net om vervang te word met iemand wat dan die blaam kan plaas op die vorige en so foeter dit aan in die land van gekke is koning ….

Hb ·

Belasting betalers moet ook konsulteer word as dit by verhogings vir staats amptenare kom, dis dan ons geld wat gebruik word daarvoor.

Ben ·

Wens die hele land se takke sal toemaak en maak nooit meer oop nie!

Rooi Jan ·

11.5% terwyl inflasie kwansuis 6% of minder is. Privaat salarisse styg met 5% of minder. Tenminste 40% van hierdie “werkers” werk nie maar word salarisse betaal om hulle stemme vir die ANC te verseker. Nee wat mnre Kieswetter en Mboweni julle sal nog baie moet doen om my te oortuig dat ek nie alles in my vermoë binne die letter van die wet moet doen om nie belasting te betaal nie. Julle mors met ons geld dan kry julle dit nie.

Diefie ·

Die arme werkers wat die daggie af om weg te kom van die geweldige druk waaronder hulle werk. Baie van hulle is onder sielkundige “sorg”

Martin ·

Soos die res van die staatsdiens, oorbetaal en onderwerj, gaan kyk net by enige staats en munisepale instansies, hope spasie wat onbenut is, helfde van die bedienings too banke is nie beman nie en dan staan die plekke vol klandisie wat moet wag om bedien te word. Dan skree hulle vir nog meer geld!!!!!!!!,

Sonneblom ·

Net soos in enige organisasie is daar jou vrot appels. Ek kan julle egter verseker nie almal by SARS is korrup nie. Daar is baie getroue werkers wat hard werk om die skade wat Tom Mojane aangerig het te herstel en nie deelneem aan die staking nie. 10 Jaar gelede was ek bitter trots om te sê ek werk vir SARS, maar ek glo dinge is weer aan die verander. Mark Kingon het reeds berge versit toe hy begin waarneem het verlede jaar. Mnr Kieswetter het homself reeds bewys in die verlede en glo hy sal voortbou in Mei wanneer hy die leisels oorneem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.