Dié sektore mag nou weer werk

Nkosazana Dlamini-Zuma (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Sou die algehele landwye afsondering nie weer verleng word nie en wel aan die einde van April opgehef word, sal bedrywighede nie summier terugkeer na normaal nie.

Só het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Donderdagmiddag gedurende ’n mediakonferensie gesê. “Die afsondering kan nie skielik opgehef word nie. Dit sal eerder geleidelik moet gebeur. Sekere maatreëls gaan dus steeds geld selfs nadat die afsondering opgehef word,” het sy verduidelik.

Volgens Dlamini-Zuma geld alle bestaande regulasies te midde van die verlengde algehele landwye afsondering, hoewel daar enkele veranderinge aan sekere regulasies gemaak word.

Dié dienste word nou toegelaat

Die veranderinge sluit in dat noodsaaklike goedere voortaan vanaf pakhuise na noodsaaklike diensverskaffers vervoer mag word, het Dlamini-Zuma gesê.

Vragte goedere wat in die stadium op die hawens staan, mag ook nou na pakhuise vervoer word of uitgevoer word om te verhoed dat goedere op die hawes opeenhoop wanneer die afsondering eindelik opgehef word.

Winkels wat hardeware of motoronderdele verkoop, mag ook hul deure oopmaak om noodsaaklike produkte of dienste gedurende die afsondering te lewer. Elektrisiëns en loodgieters word ook toegelaat om noodsaaklike dienste te lewer, het Dlamini-Zuma bevestig.

Volgens die minister behoort bedrywighede by myne wat steenkool aan Eskom verskaf en raffinaderye wat brandstof vervaardig, voort te gaan. “Ons sal ook moet seker maak dat daar elektrisiteit en brandstof is wanneer die afsondering geleidelik opgehef word aangesien mense dan weer gaan begin rondbeweeg,” het Dlamini-Zuma verduidelik.

Argieffoto

Ander myne sal ook toegelaat word om bedrywighede gedeeltelik (50%) te hervat sodat myne ná die afsondering bedrywighede ten volle kan hervat. Streng maatreëls behoort egter steeds by myne ingestel te word. Mynwerkers wat nou terugkeer werk toe sal vir Covid-19 nagegaan moet word. Kwarantynfasiliteite moet ook beskikbaar gestel word, sou mynwerkers dit benodig. Mynmaatskappye moet ook in hierdie tyd vervoer vir hul mynwerkers reël, het Dlamini-Zuma gesê.

Inbelsentrums wat ’n diens lewer met betrekking tot gesondheid, veiligheid, maatskaplike ondersteuning, regering- en finansiële dienste, herstrukturering van skuld vir verbruikers van kleinhandelaars en toegang tot korttermynversekeringspolisse, mag hul dienste hervat.

Klere, komberse, handdoeke, matrasse vir bababedjies, fopspene, bottels en ander nie-verbruikbare goedere wat noodsaaklik is vir die versorging van babas en kleuters mag verkoop word. Slegs handelaars wat toegelaat word om noodsaaklike goed te verkoop mag egter dié produkte verkoop.

Kruidenierswinkels, groothandelmarkte, spaza-winkels en informele groente- en vrugteverkopers mag handel dryf met die skriftelike toestemming van ’n munisipale owerheid. Die handelaars moet egter permitte hê wat voor of tydens die ramptoestand uitgereik is. Die permitte bly geldig tot ’n maand nadat die afsondering opgehef is.

Daar is egter steeds geen veranderinge aan die verbod op drank en sigarette gedurende die afsondering gemaak nie. Die verbod bly van krag, het Dlamini-Zuma gesê.

Argieffoto

Begrafnisse

Enkele veranderings is aangebring rakende die dokumente wat benodig word om ’n begrafnis tydens die afsondering by te woon. Diegene wat aansoek doen om ’n permit om te reis vir ’n begrafnis moet ’n sterftesertifikaat of ’n afskrif van ’n sterftesertifikaat by ’n landdroshof of polisiestasie kan toon. In die gevalle waar ’n sterftesertifikaat nog nie uitgereik is nie, kan ’n beëdigde verklaring bekom word.

Die aantal roubeklaers by ’n begrafnis word steeds tot 50 beperk, het Dlamini-Zuma gesê.

Geskeide ouers

Kinders mag gedurende die afsondering slegs tussen geskeide ouers of ouers wat toesig deel beweeg indien daar ’n hofbevel is of ’n geboortesertifikaat wat albei as ouers aandui. ’n Vaste ooreenkoms of ouerskapplan wat by ʼn gesinsadvokaat geregistreer is, is ook geldig.

Ouers behoort die dokumente in hul besit te hê wanneer die kind tussen ouers vervoer word, het Dlamini-Zuma verduidelik. Die kind mag ook nie na ’n ouer of huisgesin vervoer word wat Covid-19 onder lede het of blootgestel is aan iemand wat Covid-19 onder lede het nie.

Die minister het verduidelik dat stelselmatige veranderinge op ’n weeklikse basis aangekondig sal word nadat die afsondering opgehef word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

koos10 ·

En so word die deure verder geopen vir groot skaalse plundering van drank winkels. Ek wonder of eienaars ‘n eis teen die staat kan inbring.

Ywerigekoerantlesertjie ·

As die eienaar reeds kommersiële versekering het, kan hy ‘n eis indien by SASRIA. Dit is ‘n staatsbeheerde maatskappy en die enigste korttermynversekeraar wat dekking bied aan alle mense en besighede wat bates in Suid-Afrika het, sowel as aan regeringsentiteite, teen spesiale risiko’s soos siviele oproer, openbare wanorde, stakings, onluste en terrorisme…

Raadslid ·

Wat is die effektiewe datum vir hardeware winkels om te open?

Jaco ·

Maar nou nt gelees op ander nuusbron dat dit nie sal oopwees vir die publiek nie, net vir besighede soos loodgieters en elektriesiens wat nood dienste verskaf sal by hul mag koop. So as jou pyp by die huis bars sal jy dit nogsteeds nie self kan regmaak nie :-(

SJM ·

Ons kan nou met veiligheid koopbewyse vir hulpbehoewende mense gee omdat ons weet hulle sal kos koop vir hulle gesinne en nie dalk drank of sigarette nie. Daar is baie honger kinders…

Boortor ·

Nee wat ….hulle kan maar aangaan. My tuis brouery loop nou mooi op spoed. Ek het ook my besigheid permanent gesluit en my werkers af betaal. Die brouery sal my nog lank van n inkomste voorsien. Belasting vry!

Boortor ·

Ja nee kyk…..dors is n moeilike kalant. Veral as hy vir jou stewig in die bek het!

Carina ·

Wat van bande plekke? Ek sit met ‘n run flat band met ‘n yslike gat in maar kan dit nie laat regmaak nie. Ek is ‘n essentiële werker en moet by die werk kom.

Lourens CFG ·

Ek hoor vandag by my buurman, ja ons was so 30M uitmekaar ;-), dat Supaquick hier in Vredenburg mag jou band vervang, maar as jy ‘n battery benodig, mag hulle nie dit aan jou verkoop nie.
My bakkie het battery nodig, en daars geen manier dat ek hom sal kan stoot op my ouderdom (68) nie.

Lizette ·

Ek wonder of iemand my kan help. Ek het n swembad diens besigheid ons doen ook herstelwerk ens.
Onder watter “industry ” val ons.
As enige iemand kan help asb.

Sharnelle ·

Kan Pep en Ackermans nie ook oopmaak net vir baba klere nie, dis regtig n nood en Baby City verkoop nie baba klere vanaf ouderdom 12-18 of 18-24 maande nie. Die nood druk regtig vir ons wat mammas is met babas

Jan ·

Wat van n yskas. Of n hot plate. . Daar is nie n winkel wat die selfde optree nie kyk na Game en dan na checkers en spar almal weet nie wat eintlik reg of verkeerd is nie.

Die tabak belasting was laas jaar R13 bilj. Dit is R1 bilj. Per maar wat die regering kon gebruik het om die arm mens te help ek dog net ek lig julle in

marius ·

Dis ‘n gebrabbel . Geld hierdie toegewings dan eers vanaf 30 April ? As daar 50 mense by ‘n begrafnis kan wees maar ander besighede gesluit bly , wat is die doel van die huidige afsondering ? Hoe word daar bepaal of dit veilig is ? Daar is steeds minder as 1% van die bevolking
getoets . Niemand weet wat aangaan nie . Is sy nie die een wat reeds teenstrydighede kwytgeraak het oor handel en toe tereg gewys moes word nie ??

Die Wolf ·

Tabak en drank uit! Wat van dwelm handel? Ek sien geen verbod daarop nie, of word dit as noodsaaklike dienste beskou?

Andre ·

So jammer die blouligbendes het nie nodig om enigiets self te koop nie.

Andre ·

Tog jammer dat hulle wat die reëls uitdink nooit nodig het om iets anders self te koop nie.

Sonneblom23 ·

My opinie is dat die nie gaan werk nie. Hoeveel winkels en hospitale is gesluit die week alleenlik met mense wat siek geword het. Die gaan veroorsaak dat meer mense vinniger siek raak en weer hul besighede moet sluit agv Covid-19. By jou huis bly jy gesond al is die omstandighede moeiliker, as almal ewe skielik gaan begin rond beweeg gaan dit noodlottig wees. Hoeveel mense is huistoe in Gauteng wat die virus gaan versprei oppad terug na hul werke? Screening alleen gaan nie help om siek mense op te spoor nie.

Elize ·

Wat van ouers wat nie gesamentlike toesig (toesig deel) oor hulle kinders het nie, mag hulle dan nie hulle kinders sien nie? Ek het toesig oor my kinders maar alles is duidelik uiteengesit in die hofbevel hoe hulle pa se besoekregte werk. Hy is gek oor sy kinders, mag hy hulle nou nie sien nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.