Dié selfoonnetwerk het die beste aflaaispoed

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Eirik Solheim/Unsplash)

ʼn Trae aflaaispoed is genoeg om enigeen teen die mure uit te dryf – veral wanneer jy na ʼn kostelike video op sosiale media wil kyk of die lankverwagte familiefoto’s van WhatsApp wil aflaai.

ʼn Verslag wat deur MyBroadband Insights bekend gemaak is oor die gehalte van selfoonnetwerke in 2021 wys dat MTN weer eens koning kraai as dit kom by landwye aflaaispoed.

Die selfoonnetwerkgehalteverslag is gegrond op 1,35 miljoen spoedtoetse wat duisende gebruikers tussen 1 Januarie en 31 Desember verlede vanjaar gedoen het.

MTN het die hoogste gemiddelde aflaaispoed van 64,23 Mbps gehad, gevolg deur Vodacom met 35,05 Mbps en Telkom met 27,23 Mbps.

Cell C en Rain het weer eens die laagste aflaaispoed gehad met 19,26 Mbps en 13,07 Mbps onderskeidelik.

Suid-Afrika het ʼn gemiddelde aflaaispoed van 40,86 Mbps en ʼn gemiddelde oplaaispoed van 13,82 Mbps.

ʼn Toestelontleding het ook aan die lig gebring dat ʼn piekspoed van 751 Mbps verlede jaar op ʼn Huawei P40 Pro 5G behaal is, gevolg deur 732 Mbps op ʼn Samsung Galaxy S21+ 5G en 695 Mbps op ʼn Samsung Galaxy Note20 Ultra 5G.

MTN kraai die afgelope paar jaar al koning wanneer dit kom by netwerkspoed.

Luidens die verslag het MTN ook die beste netwerk in onder meer Johannesburg, Tshwane, eThekwini, Kaapstad, Bloemfontein, Gqeberha, Polokwane, George en Kimberley gehad.

Die enigste stad waar MTN nie bo uitgekom het nie, was Oos-Londen waar Vodacom die beste netwerk het.

“MTN se uitsonderlike prestasie spruit daaruit dat hy die afgelope vyf jaar baie meer geld aan infrastruktuur bestee as enige van sy mededingers,” lui die verslag.

“Vodacom het egter verlede jaar meer as MTN begin bestee en is gretig om die topposisie in die ranglys van netwerkgehalte terug te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

tweeling ·

Nou moet MTN net sorg dat hy die plattelandse gebiede ook ordentlik bedien,

Aai ·

Bly weg van sell C hulle piggy back op vodacom torings en ek en my vrou het kontrakte bly in Kempton en sukkel altyd met syn.

Marius ·

Des nie teenstaande is al die netwerke in sa traag en hul sisteme is oorlaai omdat hul stelsels nie die massas selfoon gebruiker kan hanteer nie. As jy rolprente kyk op netflix deur mtn word die sein en internet verbindings gereeld onderbreek. So ja die beste is nie altyd goed nie.

koos ·

In Postmasburg is ‘n posduif vinniger as enige selfoonnetwerk

VaalDonkie ·

Ek het Rain gekry vir ingeval my fiber iets oorkom. Dis heel oukei selfs met die ouer “4G” pakket wat ek het. Ek neem aan die 5G pakket is nog beter.

Renier johannes ·

Mtn se hulle die beste ek glo nie amper geen sein of internet in Piet Retief nie swak diens

Vlekkie ·

Dit sal die dag wees in Parys!!!! MTN is “non-existant” hier! Ek het oorgegaan Cell C toe.

Renier johannes ·

Sukkel met sein en internet in mkonda mtn moet wakker word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.