Dié selfoonnetwerk kraai wéér koning

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

MTN kraai steeds koning as Suid-Afrika se beste selfoonnetwerk.

Dié selfoonnetwerk is in MyBroadband se jongste selfoonnetwerk-kwaliteitsverslag vir die derde kwartaal van 2021 as die beste selfoonnetwerk aangewys. MTN is ook weer as die beste selfoonnetwerk in Tshwane, Johannesburg, Kaapstad en Durban aangewys.

Dít nadat MTN ook onlangs met die louere as beste selfoonnetwerk vir 2020 én beste selfoonnetwerk tydens die land se afsonderingstydperk weggestap het. MyBroadband het MTN ook tydens die eerste twee kwartale van 2021 as die beste selfoonnetwerk aangewys.

MyBroadband Insights het ʼn netwerkgehalte-telling aan elke selfoonnetwerk toegeken in ’n poging om die beste selfoonnetwerk in Suid-Afrika te bepaal. Dié telling is gegrond op elkeen se aflaaispoed, oplaaispoed en wagtyd.

MTN het oor die algemeen die hoogste telling van 9,58 uit 10 behaal, gevolg deur Vodacom (6,25), Telkom (5,18), Cell C (4,09) en Rain (3,42).

Argieffoto.

Luidens die verslag is 306 303 spoedtoetse deur duisende MyBroadband-spoedtoetsapp-gebruikers tussen 1 Julie en 30 September vanjaar gedoen. MTN het die hoogste gemiddelde aflaaispoed van 68,79 Mb per sekonde behaal, gevolg deur Vodacom met 39,37 Mb per sekonde.

Telkom, Cell C en Rain het die laagste aflaaispoed gehad, met onderskeidelik 29,24Mb per sekonde, 19,88 Mb per sekonde en 10,86Mb per sekonde.

MyBroadband sê MTN se uitsonderlike prestasie kan toegeskryf word aan die feit dat hy die afgelope vyf jaar meer aan infrastruktuurbelegging as sy mededingers bestee het.

“MTN se netwerkbelegging van R50 miljard het gehelp om sy dekking uit te brei, die netwerkgehalte te verbeter en die snelheid te verhoog.”

Luidens die verslag het die land se gemiddelde aflaaispoed sedert die begin van 2020 met meer as 10 Mb per sekonde toegeneem, te danke aan groter netwerkbelegging en ’n tydelike spektrum wat tydens die inperking aan selfoonoperateurs uitgereik is.

Hierdie tydelike spektrum het selfoonnetwerke gehelp om hul netwerkvermoë te verhoog en hul gemiddelde spoed tydens die inperking te verbeter.

Suid-Afrika het in die derde kwartaal ʼn gemiddelde aflaaispoed van 40,40 Mb per sekonde gehad en ʼn gemiddelde oplaaispoed van 13,66Mb per sekonde.

Só lyk die gehalte van Suid-Afrika se selfoonnetwerke:

NetwerkverskafferGemiddelde aflaaispoed (Mbps)Gemiddelde oplaaispoed (Mbps)Netwerkgehalte-telling uit 10
MTN68,7924,749,58
Vodacom39,3711,656,25
Telkom29,247,805,18
Cell C19,8810,064,09
Rain10,868,783,42

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sarel ·

Hulle diens aan ” kleiner” kliente is nie altyd
So goed nie

Johan ·

Eks bly vir MTN maar ons het geen sein as daar loadshedding is nie wat ek dink pateties is.

Lourens CFG ·

Ek dag dit is net hier in Vredenburg. Sodra die krag afgaan, is daar geen netwerk nie, jy kan nie eens nood bel nie.
Begin sterk oorweeg om ander netwerk te kies. As ek “network search” doen, kry ek 5 ander, geen mtn.

Deon ·

As mtn die beste is, dan voel ek maar redelik jammer vir diegene wat van ander netwerke gebruik maak

VaalDonkie ·

Seg ek ook mos. Ek was jare gelede by Virgin Mobile en hul diens was uitstekend. Ongelukkig het hulle staatgemaak op Cell C se infrastruktuur, maar as jy moes inbel, was die mense vriendelik. En hul data het die helfte gekos van die ander netwerke. Ek kon selfs my eie nommer kies.

Porseleintjie ·

Bly weg by Telkom. Hulle mag dalk goedkoper wees as die ander netwerke maar jy kry diens wat daarby pas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.