Dié skole mag op volle kapasiteit heropen

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys (24 Julie 2021) (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Laerskole sal met die aanvang van die nuwe skooljaar op volle kapasiteit kan heropen, maar dit is nie die geval vir hoërskole nie. Skole in die binnelandse provinsies – Gauteng, Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes – heropen Woensdag vir leerders waarna skole in die kusprovinsies op 19 Januarie sal heropen.

Honderde leerders nog nie geplaas

Hoewel die meerderheid van leerders reeds in skole geplaas is, is daar wel in Gauteng, Wes-Kaap en die landelike gebiede van KwaZulu-Natal leerders wat nog nie geplaas is nie.

Volgens Simone Geyer, adjunk-direkteur-generaal van die departement, moet minder as 400 000 van die land se 13 miljoen leerders in dié stadium nog geplaas word.

Dít is weens talle skoolaansoeke wat ná die sperdatum ontvang is en ’n groot aantal ouers wat aan die begin van die jaar van landelike gemeenskappe na die stede verhuis het om hul kinders se aansoek in te dien sodat die kinders in die stad kan skoolgaan.

(Argieffoto)

Die leerders se ouers word nou versoek om die departement vandeesweek kans te gee om die leerders wat reeds plek het, op die skoolbanke te verwelkom voordat openinge geïdentifiseer kan word en die oorblywende leerders geplaas kan word.

“Ons is volgens wet verplig om ’n plek vir elke leerder te vind. Dit is nie net die ouer se las nie. Dit is ook ons verantwoordelikheid om seker te maak dat daar vir alle leerders plek is,” het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, verseker.

Inenting

Die minister het ouers voorts aangemoedig om hul kinders teen Covid-19 te laat inent in aanloop tot die skooljaar. Die Covid-19-entstof is tans beskikbaar vir kinders ouer as 12 jaar oud.

Motshekga het dit egter duidelik gestel dat die inenting in dié stadium vrywillig is en leerders nie by die skool ingeënt sal kan word nie aangesien die departement van gesondheid nie die kapasiteit het om by al die skole in die land teenwoordig te wees nie.

Uitvalsyfer

(Argieffoto)

Die direkteur-generaal van basiese onderwys, Hubert Mweli, het vanoggend op sy beurt gesê daar is ʼn geprojekteerde aantal van 700 000 leerders wat moontlik weens die pandemie uitgeval het.

Mweli het wel daarop gewys dat die departement se stelsel aandui dat inskrywings van 2020 tot 2021 met 300 000 leerders toegeneem het.

Daar word vanjaar ook ’n groter matriekklas as verlede jaar verwag. Mweli het egter geen amptelike syfer bekend gemaak nie.

Matriekuitslae nie in media beskikbaar

Skoolverlaters sal nié vanjaar vroegoggend inderhaas die koerant kan gaan koop vir hul matriekuitslae nie.

Die departement van basiese onderwys het besluit dat vanjaar se matriekuitslae slegs by leerders se onderskeie skole beskikbaar sal wees en nie soos vorige jare in die media bekend gemaak sal word nie. Dít ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) wat verlede jaar in werking getree het.

Die matriekuitslae word op 21 Januarie bekend gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Thelsa ·

Hoekom sukkel die Gauteng Dept v Onderwys om Gr 1 leerders geplaas te kry? Daar word maandeliks deur elke skool gerapporteer hoeveel Gr R leerders daar is wat potensiële Gr 1 leerders sal word. Die getalle behoort dus nie vir hulle ‘n verrassing te wees nie. Daar kan seker met ‘n 98% akkuraatheid gewerk word.

RB ·

Gr.1 word nie net deur skool se gr.R gevoed. Verskeie kleuterskole is geregistreer om gr.R aan te bied.
Dan hoor ek ook van gr.R’e wat niè in gr.1 geplaas is by skool waar hulle was nie!!
Hoe absurd! Dit is juis waarom ouers op betrokke skool besluit het vir gr.R.

Kan net kop skud en oë rol want die onbevoegdheid en gebrek aan logika kring net wyer en wyer.

Hennie ·

“die inenting in dié stadium vrywillig is” – los die kinders uit!

Jacob ·

Wat inenting van kinders, of vir enigiemand aanbetref, dit moet vrywillig bly aangesien dit gaan oor liggamlike integriteit en die feit dat dit skadelik kan wees, soveel te meer vir jong mense. Dit is reeds bepaal dat Moderna entstowwe tot lewerskade kan lei en miokarditis by jong mense is ‘n daadwerklike gevaar sover dit enige mRNA stowwe aanbetref.

Daar is geen doeltreffende entstof beskikbaar wat infeksie deur Omicron keer nie en almal wat Omicron opdoen, kan ander aansteek, ge-ent of nie. Waarom kinders dan blootstel aan die gevare van entstof newe effekte wat lewens kan verwoes?

Dan sal ek graag wil weet waarom die “entstowwe” nie voldoen aan etiketering soos vereis in die MEDICINES AND RELATED SUBSTANCES ACT, 1965 (ACT NO. 101 OF 1965), AS AMENDED nie?

Perdeby ·

Dit is mos vrywillig en dis mos wat sy gesê het, nou ruk almal die dam onder die eend uit. Kalmeer net mense Bla bla bla bla ek het my laat inent om myself te beskerm en my gesin ook want ons gee om vir mekaar. Die wat nie wil hoef nie so los dit nou!

Anel ·

Jy moet kan sê of jy gespuit is, vir almal om te weet, maar jou matriekuitslae mag nie in die koerant gepubliseer word nie? Die wette word lyk my almal so toegepas dat dit net sekere mense op sekere tye bevoordeel.
So as die laerskool vol mag aangaan hoe maak hulle met die hoërskole, of wonder hulle nog? Vir hoe lank wil hulle nog met die malligheid aangaan?

Racheltjie Debeer ·

Vra dit. Die kinders kon die hele vakansie in winkelsentrums rondhang, maar nou mag hulle nievoltyds skoolgaan nie. Die regering is lagwekkend.

Marius ·

Dit is tyd dat die departementdie toelating van kinders waarmee hul duidelik misluk weer oorhandig aan die skole wat die kennis, ondervinding en vermoeë het om dit vinnig en effektief te doen.

Pieter ·

Ai die anc sirkus gaan nooit op hou nie praat mev wat nie eers graad een het nie.

Zilla ·

“Laerskole sal met die aanvang van die nuwe skooljaar op volle kapasiteit kan heropen, maar dit is nie die geval vir hoërskole nie.”

So wat IS die geval vir hoërskole?

Ek sê maar net ·

Ek is nie seker van ander provinsies nie, maar Vrystaat hoërskole begin ook op volle kapasiteit. Die omsendbrief hieroor is is Vrydag uitgereik.

Erik ·

Wat ‘n fantastiese tyd om ‘n tiener te wees! Jy mag deurnag partytjie hou met oujaars, maar o wee, die skole mag nie ten volle oopmaak nie. Hoe maak dit sin?

Danny ·

.. en wat van instansies wat die ent VERPLIG? Nadat ons President bevestig het dat die entstof glad nie verpligtend is vir enigeen nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.