Dié slimkop jongste doktor in regte by NWU

Dr. Nicolene Steyn spog op die ouderdom van 26 jaar reeds met ’n doktorsgraad in reg en ontwikkelling. (Foto: Verskaf)

Wanneer iemand dr. Nicolene Steyn van Potchefstroom in Noordwes as “doktor” aanspreek, staan sy steeds verdwaas en neem dit haar ’n oomblik om te besef dat dit inderdaad nou haar titel is.

Steyn spog op die ouderdom van 26 jaar met ’n doktorsgraad in reg en ontwikkeling wat sy aan die Noordwes-Universiteit behaal het.

Sy is die jongste gegradueerde om dié graad by die NWU se regsfakulteit te vang sedert die samesmelting in 2000. Dié slimkop hoop nou om voor 30 reeds as “professor” aangespreek te word.

Dié foto is in 2019 geneem toe sy haar LLM-graad gevang het. (Foto: Verskaf)

“Ek was baie verbaas en beskou die prestasie as ’n groot eer,” sê Steyn.

Sy het in 2019 by die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Stede, Reg en Omgewingsvolhoubaarheid (Cles) onder leiding van prof. Anél du Plessis, haar mentor, aangesluit.

Du Plessis was op soek na PhD-kandidate nadat dié leerstoel deur die Nasionale Navorsingstigting (NRF) aan haar toegeken is.

Steyn het toe haar studie in reg en ontwikkeling voortgesit met ’n sterk fokus op water en sanitasie, die volhoubaarheid van watervoorsiening en “slim waterbestuurstegnologie”.

“Ek het onder meer na probleme met watervoorsiening in Suid-Afrikaanse stede gekyk en hoe dienslewering verbeter kan word om te verseker dat burgers nie van hulle grondwetlike reg tot watersekerheid ontneem word nie.”

Sy het ook na die rol van tegnologie in dié proses gekyk, asook die doeltreffendheid van dataversameling oor waterprobleme.

Steyn sê sy het ’n voorliefde vir sosio-ekonomiese kwessies en het ook tydens haar studie besef dat daar nie ’n groot regsfokus op die uitwissing van onwettige waterverbruik is nie.

Sy het dié studie in minder as twee jaar voltooi.

“Ek het in Februarie 2019 vir die graad geregistreer en in Desember 2020 ingedien.”

Sy het op 3 Maart vanjaar, 17 dae voor haar 26ste verjaardag, uitgevind dat sy haar PhD suksesvol voltooi het.

Weens die Covid-19-pandemie kon sy egter nie self ’n gradeplegtigheid bywoon nie.

Weens die Covid-19-pandemie moes Steyn haar doktorsgraad tuis vier. (Foto: Verskaf)

Daar was egter ’n aanlyn geleentheid waarna haar familie saam met haar deur middel van ’n video-oproep gekyk het.

“Ek en my neef, Callvern Harding, woon saam en het maar op ons eie feesgevier.

“Ek sou beslis nie die reis kon voltooi het sonder sy konstante motivering en die honderde koppies koffie nie! Hy het selfs so laat as wat hy kon saam met my wakker gebly as ek deurnag moet werk sodat dit nie so alleen voel nie.”

Om in akademie uit te blink is egter nie ’n nuwe verskynsel vir Steyn nie.

Sy het haar LLB- en LLM-graad met lof voltooi en het in Oktober 2019, ná afloop van die afhandeling van haar meestersgraad, ’n bronsmedalje vir die uitnemendste student in regte van die visekanselier van die NWU in Potchefstroom ontvang.

“Ek was nog altyd ’n nerd,” sê Steyn.

Steyn in 2019 toe sy haar LLM-graad gevang het. (Foto: Verskaf)

Sy sê hoewel sy nie verwag dat mense haar as “doktor” moet aanspreek nie, dié titel wel die weg baan vir ander geleenthede in die akademie, waarin in sy graag haar loopbaan wil voortsit.

“Dis vir my die grootste voorreg om in die akademie te kan werk en ek hoop om voor 30 ’n professor te wees,” sê Steyn.

Steyn sê voorts dat sy haar prestasies aan haar pa, Peet, opdra, wat in 2016 aan ’n beroerte dood is.

“Hy was ’n groot steunpilaar in my lewe en dit was ’n groot skok toe ons hom verloor het. Ons het nie ryk grootgeword nie, maar my ouers het ons altyd gemotiveer en ondersteun.”

Steyn sê haar ma, Marie, en twee ouer broers, Petrus en Hein, speel ook ’n kernrol in haar prestasies.

Steyn het in Zeerust in Noordwes grootgeword en is ook ’n trotse lid van die OOO-stigting.

“Die OOO-stigting (Ouers, Onderwysers en Oud-leerders) is in 2005 gestig met die doel om verdienstelike, maar behoeftige studente in die gemeenskap, maar spesifiek van Hoërskool Zeerust, die geleentheid te gee om enige tersiêre of praktiese onderrig te bekom.

“Hulle het my voorgraadse studie finansieel moontlik gemaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

As dit nou kom by werk met dié doktorsgraad, weet sy van regstellende aksie en BEE? Ek het later so gefrustreerd en deaperaat geraak tydens my werksoek proses, dat ek gelieg het op my CV. Ek het aangedui dat ek wel op universiteit was, maar dat ek onsuksesvol was. Eintlik het ek 2 grade daar verwerf, maar behalwe vir my “verkeerde” velkleur, moes ek aanmekaar hoor “over qualified” en “wrongly qualified”. Ironies dat my eerlike cv met my grade op my nie werk gegee het nie, maar wel my oneerlike cv….

Ovelia

Baie geluk. Dis darem n groot prestasie

Harry George

Altyd n groot prestasie. Ons kleindogter het haar doktorsgraad in chemie aan US op 26 jaar behaal. Dalk moeiliker?

Esme

Welgedaan, Dr Steyn! Jy gee ons rede om baie trots te wees.
Ek sal jou egter aanraai om jou CV so spoedig as moontlik op die internasionale front te kry en gaan leef jou kwalifikasie in die buiteland uit.
Baie sterkte!

Blomme

Welgedaan. Hoop jy kry wat jy ingesit het op die arbeidsmark. Jy verdien dit.