Dié stad het meeste fikses

(Foto: Jannis Brandt / Unsplash)

Inwoners van Kaapstad is volgens ’n studie deur Discovery Vitality die fiksste landsburgers met die gesondste gewig. Dit terwyl lede van dié mediese skema se lojaliteitsprogram in Gqeberha die “grootse ruimte vir verbetering” toon.

Volgens Discovery Vitality se ObeCity-ranglys, wat aandui watter stede die fiksste inwoners het, is Johannesburg kort op Kaapstad se hakke, gevolg deur Durban, Pretoria en Bloemfontein.

Gesonde gewig is oor die algemeen meer onder lede tussen die ouderdomme van 18 en 29 aangeteken, terwyl dit die swakste onder lede tussen die ouderdomme van 45 en 64 was.

Dinesh Govender, uitvoerende hoof van Discovery Vitality, sê die ranglys is opgestel deur meer as 300 000 lede se algemene gesondheidstoetse en -aktiwiteite te ontleed. Dit sluit in toetse vir bloeddruk, cholesterol, glukose, gewigsontleding, gimnasiumbesoeke en kosaankope.

“Navorsing wêreldwyd wys gesonde en gebalanseerde eetgewoontes en fisieke aktiwiteit is belangrik om gewig te bestuur. Dit is waarom ons ook lede se fisieke aktiwiteite en data van kosaankope ontleed het, om vir ons insig te gee in lede se eet- en oefengewoontes,” het Govender gesê.

(Foto: Bruno Nascimento / Unsplash)

Luidens dié studie het lede in Johannesburg die meeste oefensessies aangeteken, terwyl Bloemfontein die laagste syfer het.

Lede in Kaapstad koop die gesondste kos, terwyl Pretorianers skynbaar die slegste eetgewoontes onder Discovery se Vitality-lede het.

“Die vetsug-epidemie is ʼn wêreldwye uitdaging wat aan die toeneem is, en as Suid-Afrikaners het ons een van die hoogste koerse ter wêreld, met meer as die helfte van die bevolking wat oorgewig is of aan vetsug ly,” het Govender gesê.

“Die handhawing van ʼn gesonde gewig is belangrik vir goeie gesondheid aangesien dit help om siektetoestande soos diabetes, hartsiektes of hoë bloeddruk te bestuur en selfs te voorkom.”

Govender sê gesondheidsrisiko’s wat met oorgewig gepaardgaan, dra elke jaar tot drie miljoen sterftes by.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is 39% van mense wêreldwyd oorgewig, terwyl 13% aan vetsug ly.

“Ons hoop dat die ObeCity-indeks moontlike oplossings uitlig, nie net vir Vitality-lede nie, maar alle Suid-Afrikaners,” het Govender gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Roek ·

Want al wat ons kan bekostig is brood en jam of pap en amper suur melk !

jou gewete ·

louter onsin, mense eet doodeenvoudig te veel en ook massas gemorskos. gooi ook nie die vragte bier weg nie. ook die sg armes daarby sit ons voor rekenaarsen tv en doen absoluut niks,

Roek ·

Die met die witbrood onder die die arm kan maklik praat, gaan kyk bietjie waar oprtegte mense werklik swaar kry , ek veralgemeen nie soos u nie!

jou gewete ·

ek beweeg ook tussen die wat so swaar kry en is self arm my vriend. ek het arm grootgeword ook so ek weet waarvan ek praat

Samuel ·

Goeie uiteensetting. Net jammer nie alle Discovery lede kan Vitality bekostig nie.

Wildemien ·

Toe Vitality hulle flight benefits verander deur ons te dwing om slegs ‘n Discovery bankrekening te kan gebruik vir toegang tot vlugte, het ek Vitality gegroet. Hulle het nie ‘n probleem om my betaling te vat uit ‘n nie-Discovery bankrekening nie!
Corporate Greed.

JohanR ·

Rerig! Dankie dan tog ek het nog nooit ‘n Discovery bank rekening oop gemaak nie, en ook nog nooit by Vitality aangesluit nie.

Prikkie ·

Miskien moet die Kapenaars ook bietjie die oorgewig SAPD en SANW se lede wys hoe dit werk om gesond te eet en te leef.

Miskruier ·

Kos is nie meer dieselfde nie. Koop direk van plaas en vermy fabriek vervaardigde produkte.

Delia ·

Hou op om provinsies teen mekaar af te speel. Hierdie gaan oor Discovery lede se Vitality punte. Of skryf die opskrifte korrek.

De Bok ·

Ek sien in hulle report dat mense in die 30 – 50 ouderdom veld die minste gesond is. Ek dink dit is omdat met al die verantwoordelikhede op daardie ouderdom (werk, kinders, kerk, ens.) daar min tyd oor bly vir oefen en gesondheidsbewus wees. So as jy in jou laat twinitgs is, maak seker jy is mooi fiks wanneer jy 30 word, dan het jy die beste kans om gesond te bly vir die volgende 20 jaar,

Fluisterwind ·

1 Tim. 4:8 “Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.”

De Bok ·

Net omdat iets tot weinig nut is, beteken nie dit is tot geen nut nie. Die 2020 vertaling vertaal dit so:
“want liggaamlike oefening is wel in ‘n geringe mate nuttig, maar godvresendheid is nuttig in alle opsigte. Dit hou belofte in vir die huidige én die toekomstige lewe.”

Delia ·

Waar ja, maar jou liggaam is ook n tempel waarna jy moet kyk. Maar ook nie n afgod van maak. Die skeidslyn is fyn.

Vriendelike Frikkie ·

Statistiek is ‘n wonderlike ding. Hierdie inligting is gebaseer op Discovery se Vitality produk. Wat is die werklike inligting, ingesluit mense wat nie Discovery produkte kan bekostig nie? Ek dink die prentjie lyk dan heelwat anders.

JohanR ·

Al gesien hoe hulle die parlement in-waddle? Moet seker van al die lekker eet wees! My ergste was toe iemand hulle moes indruk in die middle sitplek op ‘n vlug OR toe. Ek het maar meeste van die tyd halfpad in die gang, en halfpad in my sitplek uitgehang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.