Die storie agter die sirkels in landerye langs N2

“Die Aarde” (Foto: Verskaf)

’n Landkunsprojek vir die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs tot lewe gekom in die Overberg in die Wes-Kaap ter viering van die US se eeufeesviering vanjaar.

Die installasiekunsprojek getiteld “Die Aarde” neem vorm aan tussen koringlande op die plaas Boontjieskraal langs die N2 op pad na Riviersonderend vanaf Kaapstad. “Die Aarde” bestaan uit twee sirkels van koring en kanola, elk met ’n deursnee van 100 m.

Volgens ’n verklaring uitgereik deur die US, is dié projek die handewerk van Strijdom van der Merwe, ’n bekroonde Suid-Afrikaanse landkunstenaar en oud-Matie. Van der Merwe het die opdrag van die US se fakulteit AgriWetenskappe ontvang om dié landkunswerk te skep vir die universiteit se eeufeesviering.

Die landkunswerk kan van die hoofweg gesien word en gaan glo al duideliker gesien word namate die koringlande reën ontvang.

“Die Aarde” (Foto: Verskaf)

Van der Merwe vertel dat hy al lankal daarna uitsien om só ’n kunswerk te skep. “Ek wou nog altyd crop circles tussen koringlande maak. Danksy die fakulteit se hulp, onder meer om die sirkels te help ploeg en die skenking van die saad, word dié droom nou verwesenlik.”

Hy verduidelik dat die motief vir die kunswerk – ’n sirkel met ’n kruis in – beskou word as een van die oudste bekende simbole vir die aarde.

Prof. Danie Brink, dekaan van die fakulteit, stem saam. “Hierdie kunswerk in die vorm van ’n ikoniese simbool dui ons verbintenis met die aarde en landbou se wisselwerking daarmee aan. Dit verg fyn beplanning, ’n goeie skeut deursettingsvermoë en heelwat geduld om sáám met die elemente vooruit te boer.”

Van der Merwe verduidelik dat “Die Aarde” grootliks geïnspireer is deur die rotskuns by Driekopseiland naby Douglas in die Noord-Kaap. Dié rotskuns sluit duisende rotsgravures, onder meer die sirkelmotief, in.

Brink glo dat dié landkuns bydra tot die gesprek oor die rol en bydrae van landbou asook die fakulteit tot die groter samelewing.“Die fakulteit is sedert die US se beginjare aan die ou Victoria Kollege aan die voorpunt van navorsing en onderrig oor landbou, asook om produsente se hand met navorsing te sterk.” Van historiese belang is dan ook juis dat die eerste doktorsgraad deur die fakulteit in 1927 toegeken is vir ʼn verhandeling oor plaaslike koringverbouing.”

Van der Merwe wys ook uit dat die sirkel met die kruis in ook gebruik is in die bekleedsel van die konstitusionele hof. “Ons wend nou hierdie simbool aan in ’n hedendaagse landboukonteks. Hierdie groeisirkels gaan saam met die seisoene verander van groen na geel en bruin. Dit verteenwoordig die siklusse van die natuur en die lewe.” Hy verduidelik verder dat die kwarte van die sirkels die natuurelemente van vuur, water, lug en grond simboliseer.

Van der Merwe sê hy is baie opgewonde om te sien hoe die proses gaan ontvou. “Landkuns, soos boerdery, werk met die grond en die elemente. Dis ’n lang proses asook ’n geduldige proses. Dit hang nou alles van die natuur af. Ons sal eers in September die volle prentjie sien wanneer die kanola hopelik uitspattig geel begin blom. As dit nie so gebeur nie, is dit ook maar deel van die proses.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

charles ·

Jy kannie die woord mandjie gebruik nie, iemand gaan dit verkeed lees, en ‘n bohaai opskop

Ellisras ·

Waarskuwing. Hierdie is vals nuus. Dit is wesens uit die ruimte wat op die aarde geland het. Nou is die Regering besig om ons ‘n rat voor die oë te draai.

gatiep ·

Hy moes in hoofletters geskryf het HELP sodat google kan photos neem daarvan.

Pieterd ·

Twee sirkels, elk met ‘n deursnee van 100m? Regtig? Waar is die tweede een op die foto? Behalwe as hulle oorvleuel of langs mekaar is, kan dit net een sirkel wees as hulle deursnee dieselfde is.

Penellope Jones ·

Daar is twee sirkels.
Een links van die pad (N2 rigting vanaf Caledon) en dan nog een bietjie verder regs op ‘n heuweltjie by die afdraai op ‘n grondpad wat uiteindelik aansluit by die pad wat uit die N2 loop na Villiersdorp.
Ons het ‘n week gelede weer daar verby gery en dit is regtig iets om te sien.

Emma ·

2afsonderlike sirkels een regs en een.links van die pad. Baie mooi om te sien. Goeie werk

Saartjie ·

Maroela, hou ons asseblief op die hoogte van hoe hierdie kunswerk ontwikkel of is daar ‘n webwerf waar foto’s geplaas sal word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.