Dié student ken die krag van gebed

Henry du Plessis (Foto: Verskaf)

Gebed, geloof en ʼn gewillige skenker. Dit is wat die 22-jarige Henry du Plessis,  ʼn student van Bethlehem in die Vrystaat, deurgetrek het toe hy as matrikulant met nierversaking gediagnoseer is.  Ná verskeie operasies en meer as 500 dialises binne drie jaar, is hy blakend gesond en hoop om ʼn verskil in ander siekes se lewens te maak.

Du Plessis sê die Here het sedert sy diagnose soveel keer deur middel van drome en visies vir hom gewys dat Hy hom dra. Hy was ook gelukkig om binne drie jaar ʼn geskikte nier te kry.

“Ek het voor my eerste operasie – toe hulle my linkernier verwyder het – ʼn visie van engele om my bed gehad. Ek het toe vrede gehad en my vrese in die Here se hande gelaat,” vertel Du Plessis.

Dié jong man is vanjaar ʼn derdejaaronderwysstudent aan die Noordwes‑Universiteit (Pukke) en wil graag eendag ʼn motiveringspreker word om sy storie van hoop te vertel.

“Op skool het ek nooit ag geslaan op wat motiveringsprekers te sê het nie. Daar het een keer ʼn vrou oor dialise met ons kom gesels. Ek het nie geluister nie, omdat ek gedink het dit sal nooit met my gebeur nie. Ek was so verkeerd.”

Du Plessis het in 2017 – toe hy in matriek aan Hoërskool Witteberg in Bethlehem was – siek geword, waarna nierversaking by hom gediagnoseer is.

“My medeleerders het vir my gesê ek lyk bleek. Ons het aanvanklik vermoed ek ly aan ʼn ystertekort. Ons het bloed laat trek wat gewys het dat my ystervlakke normaal is. Die dokters het toe beenmurg getrek en my bloed verder getoets. Die dokter kon toe vasgestel dat ek slegs 6% algehele nierfunksie het,” vertel Du Plessis.

Henry du Plessis vertel die dialise was vir hom erg (Foto: Verskaf)

Volgens die dokters is Du Plessis met ʼn lae persentasie nierfunksie gebore, maar dié jong man het nie eers agtergekom daar skort iets met hom nie.

“Ek het soos ’n normale kind aangegaan. Ek was baie aktief en lief vir sport. Ek was gereeld moeg, maar ek het gedink dit is normaal om so te voel. Ek het eintlik nie geweet wat is normaal nie.”

Die dokter het vir Du Plessis gesê dat hy met sy toestand nie eers veronderstel was om trappe te kon klim nie.

Du Plessis het dadelik met dialise by ʼn hospitaal in Pretoria begin.

“Ek het die opsie gehad om ’n nieroorplanting te kry of op dialise te bly. Die risiko met ’n oorplanting is dat jy tot 15 jaar vir ’n geskikte skenker kan wag.”

Du Plessis se ma het haar eerste laat toets en ’n jaar later (in 2018) uitgevind dat sy ’n geskikte skenker vir Du Plessis is.

Tydens die operasie is ʼn  fout egter begaan en is die nier beskadig, wat dit toe onbruikbaar gelaat het.

Du Plessis is toe terug op dialise. Hy was die jongste in sy dialisegroep.

Net meer as ’n jaar daarna (in 2019) het Du Plessis toe ’n geskikte kadawernier gekry, wat tot vandag toe werk. “Dit was ’n groot wonderwerk, want daar is mense wat baie langer wag vir ’n geskikte nier.”

Du Plessis het meer as 500 dialises oor ’n tydperk van drie jaar ontvang.

“Die dialise was vir my baie erg. Ek onthou die ‘slegvoel’, baie bloed en naalde en pyn. Ek het selfs al iemand in die dialise-eenheid sien doodgaan.

“Jy sit tussen mense wat deur dieselfde as jy gaan en dieselfde vrese deel.”

Terwyl hy vir die nier gewag het, het hy drie epileptiese aanvalle gekry en sy hart het twee keer gaan staan. Hy het tydens die een epileptiese aanval albei sy skapulas, ʼn been in die skouer, afgebreek.

“Dit was ʼn moeilike tyd, maar ander mense se gebede het my gedra.”

Du Plessis het verlede jaar weer ʼn terugslag beleef toe sy liggaam toksies geraak het van al die medisyne wat hy moet drink. Hy het die tweede semester van sy tweede jaar se studies gemis en moet dit vanjaar opvang.

Dié jong man is nou vuur en vlam om sy studies te voltooi en as onderwyser ʼn verskil in leerders se lewens te maak. Hy het ʼn passie vir onderwys en het nog altyd geweet hy wil ʼn onderwyser word omdat sy hele familie onderwysers is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Wat ‘n moedige jongman met soveel geloof en durf. Jammer dat jy as jongmens deur soveel lyding al gegaan het. Ek hoop dis op ‘n einde en dat jy nou totaal gesond is en jou passie as opvoeder in ‘n goeie skool kan uitleef na jou studies. Voorspoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.