Dié toestel weet of jy ʼn Covid-hoes het

(Argieffoto: Unsplash)

Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn hulpmiddel ontwikkel wat onderskeid kan tref tussen die hoes van ʼn individu wat Covid-19 onder lede het en diegene wat nié die virus het nie.

Die app, wat tans ontwikkel word, ontleed individue se hoesgeluide en klassifiseer dit volgens ʼn Covid-19-positiewe, Covid-19-negatiewe of ʼn gesonde hoes. Om dit reg te kry, het navorsers data gebruik van pasiënte wat positief en negatief getoets het vir Covid-19, sowel as mense wat heeltemal gesond is.

Die klassifiseerder is gebaseer op masjienleer en maak dus gebruik van algoritmes om self afleidings uit patrone in die verskillende hoesgeluide te ontleed.

Die navorsingspan is tans besig om ʼn app te ontwikkel wat dié klassifiseerder bevat. Suid-Afrikaners sal dit op hul slimfone kan laai en self kan toets of hulle ʼn Covid-19-positiewe, Covid-19-negatiewe of gesonde hoes het.

“Hierdie vorm van toetsing kan van ʼn afstand gedoen word, die werkslading van toetssentrums verminder en mediese personeel teen die virus beskerm,” het Madhurananda Pahar, ʼn doktorale navorser aan die US, gesê.

Thomas Niesler van die departement elektriese en elektroniese ingenieurswese aan die US het die studie saam met Pahar en sy kollegas Marisa Klopper en Robin Warren van die departement wetenskap en tegnologie uitgevoer.

Die bevindings van hul studie het onlangs in die vaktydskrif Computers in Biology and Medicine verskyn.

As deel van hul navorsing het die groep data uit ʼn wêreldwye en nasionale datastel, onderskeidelik Coswara en Sarcos, gebruik.

Die Coswara-datastel bevat data van mense wat positief getoets het vir Covid-19, asook dié van fisiek gesonde mense wat nie ʼn toets ondergaan het nie, terwyl die Sarcos-datastel inligting van positiewe en negatiewe Covid-19-toetsuitslae bevat.

“Hierdie twee datastelle bevat opnames van verskillende hoesgeluide wat op al ses vastelande ingesamel is en tydens of ná die akute fase van Covid-19 opgeneem is. Vir albei datastelle is deelnemers gevra om hoesopnames via ʼn webgebaseerde platform op hul slimfone te verskaf,” het Pahar gesê.

Die verskeie hoesopnames is op slimfone, met behulp van die masjienleer-gebaseerde klassifiseerder, ontleed.

“Ons ontleding wys dat ʼn Covid-19-positiewe hoes tussen 15% en 20% korter is as die hoes van iemand wat ʼn negatiewe toets het of heeltemal gesond is.”

Die navorsers het die pouses tussen ʼn hoes in die opnames uitgeskakel wat ʼn hoogsdoeltreffende ontleding van net die hoesgeluide moontlik gemaak het. Só kon elke soort hoes baie akkuraat geklassifiseer word.

Volgens die navorsers kan die klassifiseerder nie as ʼn amptelike vorm van Covid-19-toetsing beskou word nie, en ook nie geakkrediteerde toetsing vervang nie. Dit kan egter gebruik word om vroeë oordrag te beperk deur selfafsondering aan te beveel vir diegene wat vermoed hulle het Covid-19 onder lede op grond van hul hoes.

Die navorsers is van mening dat hoewel die stelsel wat hulle in die studie beskryf, strenger validering op ʼn groter datastel vereis, hul resultate belowend is en daarop dui dat dit moontlik is om Covid-19 by individue te diagnoseer deur die outomatiese klassifikasie van verskillende tipes hoese.

Die span sal nou voortgaan om hul datastel uit te brei en die app te ontwikkel om dié tipe toetsing aan Suid-Afrikaners beskikbaar te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Bernard ·

Puik “cottage industry!” Daar’s iets vir almal te aas.

Anel ·

Hoe lekker lag ek nou! En hoe lank was die navorsing gedoen? Enigiets wat met die virus te doen het miet mens maar met ‘n knippie sout vat. Wat is volgende? Sê maar niks verder nie. Soos ek sê, ek kan maar net lag. Nogal jammer daar word nie meer navorsing gedoen op siektes wat regtig saak maak nie.

MakersMark ·

Wat van ‘n “30 jaar lank twee pakke piet rooi ‘n dag” hoes, ‘n app daarvoor ?

piet ·

Wat van ‘n middel in tandepasta wat as “detector” dien? As jy jou tande borsel en die tandepasta verander van kleur (soos na rooi) as jy uitspoel, het jy Covid. Ander kleure vir ander siektes ook miskien. Lyk vir my asof dit meer akkuraat kan wees as een of ander klankontleding.

piet ·

Jinne, ek dink dan het ek Covid gehad sonder dat ek dit weet. Ek het vir so ‘n ruk lank sulke ongereelde. kort, droe hoesies gehad maar niks anders nie en dit het opgehou. Hmmm.

Lourens CFG ·

Mmmmm, hier kom weer ‘n foefie want hul praat van ‘n positiewe/negatiewe en normale hoes, maar, ‘n negatiewe en normale hoes moet mos dieselfde wees dan nie?
Dan ook, soos Deon sê, wat van ‘n TB hoes?
Of myse hoes (soos Kapenaars sê), ek rook al laaaank, so mý hoes is anders.
Gaan die toep kan onderskei?
Of gaan nie-normaal as covid+?

Samuel ·

Dit is wonderlike navorsing, maar waarom daar stop? Is dit nie net so belangrik om toetse te ontwikkel vir teringlyers nie? Of is daar nie geld in nie?

Snowball ·

Soon you will cough up for a Cough App…laat mens skielik onthou van Disco Band se cough song van die 80’s.
Ek sien al hoe hoes ons al oor ons fone met elke kriewel in die keel.

Krokkenoster ·

Wat is volgende?
Miskien ‘n app wat kan optel of jy aambeie het…

john ·

En ons is nou veronderstel om dit te vertrou . Wat is volgende om n winkel in te gaan .
stap 1 masker op
stap 2 disinfect jou hande met giftige alcohol toevoegsels
stap 3 teken die register
stap 4 wys jou covid pass dat jy ingespuit is met n potensieele doodlike stof wat niks help teen covid
stap 5 vat jou temp
stap 6 hoes in die app
stap 7 loop en spend jou geld erens anders.

Dit raak belagliker met die dag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.