Die verband tussen haatspraak en plaasmoorde

Argieffoto

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum reik Donderdagoggend ’n verslag uit waarin ’n verbintenis tussen haatspraak deur politici en plaasmoorde vir die eerste keer onthul word.

Verskeie prominente voorvalle waarin geweld teen boere aangehits is, sowel as die gevolge wat daaruit gespruit het, word in dié verslag ontleed.

Die verslag bied na verwagting ’n antwoord op die bewering dat die oorgrote meerderheid van plaasmoorde slegs deur misdadige motiewe eerder as rassistiese of politieke faktore gemotiveer word.

Intussen het die landbou-organisasie TLU SA die VF Plus bedank vir die feit dat hulle die probleem van plaasmoorde in die parlement ter tafel gelê het, “sodat Suid-Afrika en die wêreld kan weet onder welke omstandighede Suid-Afrikaanse kommersiële boere moet werk”.

ʼn Debat oor plaasmoorde het Dinsdag vir die eerste keer in die parlement plaasgevind.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het gesê dit is egter teleurstellend, selfs skrikwekkend, dat ʼn ANC-LP, Duduzile Manana, tydens Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, se toespraak ʼn tussenwerpsel kan maak, “begrawe hulle lewendig” met verwysing na die boere, en dat so iets nie deur die Speaker onmiddellik aangespreek word nie.

“Netso skrikwekkend is dit dat parlementslede, veral van Agang en die [Ekonomiese Vryheidsvegters] EFF, hulle parlementêre privilegie kan misbruik om vaaghede, veralgemenings en selfs vermoedelik flagrante onwaarhede te verkondig, sonder dat hulle ook daaroor aangespreek word,” het Van Zyl bygevoeg.

“TLU SA daag enige politieke party of vakbond om met konkrete feite vorendag te kom waar daar algemene bewerings gemaak word van boere wat werkers slegter as varke behandel, waar boere hulle arbeiders met alkohol betaal en dat boere hulle verlekker in die ellende van werkers. Daar is tans meer as genoeg regeringsinstellings wat met graagte sal optree teen enkelinge wat hulle aan sodanige optrede sou skuldig maak,” het hy bygevoeg.

Van Zyl het gesê die meerderheid van kommersiële boere het oor geslagte heen ʼn uitstekende verhouding met hulle werkers opgebou. “Hulle weier derhalwe om met wetsongehoorsame uitsonderings oor dieselfde kam geskeer te word deur opportunistiese politici wat ʼn regverdiging vir die moorde en martelinge op die plase probeer soek.”

Hy het bygevoeg net soos boere weier om beskuldig te word van diefstal van grond, weier hulle ook om vals beskuldig te word van swak arbeidsverhoudinge. “Sou dit wel plaasvind, is dit omdat die departement van arbeid dan nie sy werk doen nie. Daarom daag TLU SA vir Agang en EFF om hulle bewerings met konkrete feite te ondersteun. Tot dan behoort die Speaker hulle aan te spreek oor hulle ongegronde en ongetoetste aansprake.”

Maroela Media het vroeër berig dr. Eugene Brink, politieke ontleder verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, het gesê hierdie soort uitlatings, met verwysing na die ANC-LP tekenend van die anti-wit rassisme wat ʼn vastrapplek in die ANC gekry het. “Hoe meer bedreig die ANC voel en hoe meer hulle andersins misluk, hoe feller raak hierdie soort rasseretoriek,” het Brink gesê. “Ons vermaan dus die regerende party om streng teen Manana op te tree en hulle in die openbaar van sy uitlatings te distansieer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
snoefie

het pieter groenewald n aanklag van haatspraaj, rassisme en aanhitsing tot geweld teen duduzile manana gelê?

Johan

Het iets gekom van minister van sport se verteenwoordiger…..?

Ada

Ja, ek wil weet of daar ‘n klagte gele is. Die ouens in die parlement kan nie net praat en kla en niks doen nie. Kla die man aan anders gaan hulle volgende keer nog erger goed se en ons sal maar net OK wees daarmee. Dit is onaanvaarbaar.

nel

Wys rugraat en kla die skepsel aan vir haatspraak.En aanhitsing om boere en blankes te vermoor. Dit is ‘n ernstige saak.

TDW

Die waarheid is dat meeste boere te goed is vir hul werkers. Daar word vir hulle saam hul salaris, huise gebou, kos gegee en klere en dan is die werkers dankbaar, maar die goedheid word gou vergeet as die boer nie nog ook hul huise in stand hou en die volgende dag ook vir hulle kos en klere gee nie, dit word dan aanvaar as die norm. Ek voel ons boere moet ophou met hul liefdadigheid (ek weet julle dink aan die 5 kinders) en liewer net die ooreengekome lone betaal. Dan word daar geen verwagting geskep nie. En ‘n… Lees meer »