Dié vervoermaatskappye hef glo onregmatige e-tolgeld

Argieffoto

Die Mededingingskommissie het Dinsdag gesê 11 meubelvervoermaatskappye en die verenigings waaraan hulle behoort, gaan vervolg word vir prysvasstelling.

Dié maatskappye word daarvan beskuldig dat hulle e-toltariewe gehef het wanneer hulle kliënte se meubels op Gauteng-hoofweë vervoer het.

Die vervoermaatskappye is: Northern Provinces Professional Movers Association of South Africa (NPPMA), Stuttaford Van Lines Gauteng Hub, Pickfords Removals SA, A & B Movers, Brytons Removals, Amazing Transport, Key Moves CC, Bayley Worldwide CC, Selection Cartage, Elliot Mobility, Crown Relocations en Magna Thomson.

Die kommissie se ondersoek is in Februarie vanjaar van stapel gestuur en het onthul dat die maatskappye onder die voorwendsel van die NPPMA ooreengekom het om ʼn tarief van R350 by die algehele koste te voeg om kliënte se meubels te vervoer op hoofweë met e-tolstelsels.

Die kommissie het gesê die doel van die ooreenkoms was om verbruikers te laat opdok vir die bykomende koste wanneer hoofweë gebruik is om meubels te vervoer.

Dié ooreenkoms kom volgens die kommissie op prysvasstelling neer wat teen die wet is. Die kommissie het die Mededingingstribunaal versoek om ʼn bevel uit te reik wat bevestig die maatskappye en die NPPMA het die wet oortree en dat hulle ʼn administratiewe boete gelykstaande aan 10% van hul jaarlikse omset moet betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Tragies dat die voorvalle steeds in reëlmaat plaasvind met gevestigde ondernemings betrokke. Wat ek glad nie verstaan nie, is hoekom die TAXI bedryf vrygestel is van die wetgewing? Daar is pryssamespanning van die eerste water. Buiten Uber en metertaxis, vra die res almal deur die bank dieselfde fooi op dieselfde roete. Gewoonlik groot vergaderings voor prys aanpassing. Die sweep moet mos vir alger dieselfde klap.

pieterdp ·

Met die E Tol wat baie hoog is is dit moeilik om die koste te dra met die normale tariewe.

Dan kom die vraag. Moet jy nou jou tariewe verhoog om sodoende op te maak vir die tol.

Nou sal party mense sê dis onregverdag dat hul meer moet betaal as hul nie naby n tol pad is nie. Dis dat daar nie van tol gebruik word nie.

Hoe balenseer jy om almal gelukag te hou???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.