Die Viljoens se eenvoudige gebed vir gesinne met spesiale behoeftes

Jana, Kyna, Leo, Abigale, Hannes en Gian Viljoen geniet die wintersneeu in die VSA. Foto: Verskaf.

Jana en Hannes Viljoen se boodskap van hoop is dat ouers van kinders met spesiale behoeftes daarin sal slaag om die glorie in die gebrokenheid van hul kinders te sien.

“God het die manier om soms die mooiste skatte in die vreemdste pakkies te versteek. Dit is soos die heuningkoek in die karkas van die leeu, of die Redder van die wêreld wat in ʼn stal gebore word. Dit is egter beslis nie so romanties soos wat Kerstyd uitgebeeld word nie,” sê Jana.

Sy wou soms mense behoorlik te lyf gaan wanneer hulle vir haar sê sy is ʼn “spesiale soort mens” omdat drie van haar vier kinders spesiale behoeftes het. Kyna het op 13 maande ʼn pediatriese beroerte gehad wat haar ʼn hemipleeg gemaak het, verlam aan die een kant van haar lyfie. Gian, hul tweede oudste seun, is met Down se sindroom gediagnoseer en Leo is op die outistiese spektrum. Abigale is ʼn normale agtjarige dogtertjie.

“Niks het my spesiaal gemaak nie en ek het definitief nie hierdie pad gekies nie. Tog, ná ʼn paar jaar op hierdie pad het ek besef ons ís spesiaal. Die Here weet beslis aan wie hy hierdie spesiale kinders kan toevertrou.

“Al het dit nie toe so gevoel nie, besef jy jy het genade en ʼn wonderlike guns om hierdie pad te loop. Ja, daar is pyn en seer, en jy as ouer moet daarmee worstel en leer om dit te verwerk, maar jy het besonderse guns.”

Jana en Hannes toer tans deur Suid-Afrika om hul ervaring en hoop met ouers van kinders met spesiale behoeftes te deel.

Die Viljoens het in 2014 na die VSA geëmigreer sodat hulle heeltyds naby ʼn organisasie in Philadelphia kan wees wat ouers toerus om hul kinders met spesiale behoeftes self te rehabiliteer.

“Ons het meer resultate in drie maande in dié program gesien as ná vier jaar van konvensionele terapie. Dit het ons laat besluit om permanent na Amerika te verhuis, want dit het net nie vir ons sin gemaak om die heeltyd tussen die twee lande te vlieg nie,” sê Jana.

Maroela Media het in 2014 die eerste keer met die Viljoens gesels oor die uitdagings en vreugdes van hul besonderse gesin.

Volgens Hannes het hy egter in die laaste drie jaar in die VSA sy kinders weer werklik teruggekry. “My kinders se gestremdhede het hulle as’t ware weggeneem. Leo is nou tien jaar oud, maar ons verhouding met mekaar is eintlik net vier jaar oud. Kyna kan nou skool toe gaan – ek kan haar nou vrylaat want sy is nie meer my hemiplegie nie – sy is 11 jaar oud en ʼn tienermeisie.”

Jana en Hannes het lank daaroor gedroom om die program van die Family Hope Center met Suid-Afrikaanse gesinne wat dieselfde uitdagings het te deel.

“Dit is werklik ʼn hoogtepunt om nou saam met dié organisasie in Afrika te kan werk. Ons het by hul kantore ingestap en hulle het gesien ons is ernstig oor hierdie droom ten spyte van wat mense gesê het, onder meer oor die rand-dollar-wisselkoers.

“Ons het ons harte gevolg en die guns van die Here beleef,” sê Hannes.

Die Family Hope Center het in Februarie die eerste kursus in Suid-Afrika kom aanbied en 70 gesinne se lewens is verander.

Maroela Media het vroeër vanjaar berig oor Pippie Kruger asook oor Sanmari Smith en Wilma Steyn wat kinders met spesiale behoeftes het en wat die organisasie se program tans volg. Dié ouers praat ook net met lof van die program.

viljoen-gesin-02

Hannes en Jana Viljoen toer tans deur Suid-Afrika om hulle ervarings en storie van hoop te deel. Foto: Verskaf.

“Ek dink hierdie was een van my trotste oomblikke. Die seer en pyn wat ons as gesin beleef het, het iets mooi geword wat ander gesinne kan help. Ons uitdagings het vir ander mense ʼn seën geword.”

Hannes het besluit om ʼn ondersteuningsprogram vir die Family Hope Center se rehabilitasieprogram te skryf. Hy het begin nadink oor die soort ondersteuning wat hulle as gesin nodig gehad het. Hy het ook vir agt maande lank met die gesinne in Suid-Afrika gesels om uit te vind wat hulle behoeftes was.

“Ons het deur die Brain Child Fund mense gehelp om geld in te samel sodat hulle die Family Hope Center in Amerika kon besoek, maar het vinnig besef dat hierdie gesinne baie meer as net geld nodig het,” verduidelik hy.

“Geestelik is die ouers dikwels kwaad oor wat gebeur het, of verstaan nie hoekom hulle kind so is nie – mense weet nie hoe om die situasie wat aan hulle uitgedeel is te hanteer nie.

“Op ʼn emosionele vlak is daar dikwels skok en trauma. Die ouers vries behoorlik en kan nie planne maak hoe om aan die anderkant uit te kom nie.

“Dan is daar net fisieke behoeftes, soos wat om met jou ander kinders te maak as jy skielik na die hospitaal toe moet jaag.

“Boonop is die sorg vir ʼn kind met spesiale behoeftes byna onbekostigbaar duur. Dit is dikwels hoekom ouers skei; die druk is eenvoudig net te groot.”

Dit het Hannes se missie en passie geword om ʼn ondersteuningsprogram te skryf wat ouers leer dat hulle nie in isolasie in die huis kan sit nie. Sy program bemagtig ouers en professionele mense wat met hierdie kinders werk om hulle te help genees.

“Ons verkondig beslis nie ʼn alternatief wat iemand uitsny nie. Dit is span wat hierdie ouers en kinders moet genees en dit sluit dokters, arbeids- en fisioterapeute in,” sê hy.

“Mense sien dikwels ʼn gestremdheid as ‘dit is nou maar hoe dit is’. Ouers gee hulself so maklik oor aan al die gevoelens van skuld, vrees en skande. Boonop is hulle verskeur tussen hulle verpligting om geld te verdien om al die uitgawes vir ʼn kind met spesiale behoeftes te dek en om tyd saam met hul kind deur te bring.

“Ek wil vir hierdie ouers sê ʼn mens bestaan uit drie fasette – geestelik, vleeslik en ʼn sielsdimensie – jou kind se besering is net in een van daardie dimensies.

“As jy in jou kind met spesiale behoeftes se ogies kyk, maak nie saak wat die diagnose is nie, sal jy sien daar is ʼn hartjie daar binne wat net liefde wil hê.

“Jou kind wil erken word omdat hy of sy daar is en nie vir wat hy of sy kan doen nie want dit is nie wat ons waarde bepaal word nie. Jou kind is deur God gemaak en God maak nie fout nie.

“Partykeer moet ons ingesteldheid van wat perfek of normaal is uitgedaag word. Dit is ʼn kwessie van moenie iets op sy baadjie takseer nie want daar is soveel meer in jou kind met spesiale behoeftes, jy moet net bereid wees om daarvoor te gaan delf,” het Hannes bygevoeg.

  • Jana en Hannes Viljoen deel hulle gesin se storie by verskeie geleenthede regoor Suid-Afrika van 11 Julie tot 1 Augustus. Toegang is gratis. Besoek die Brain Child Fund se Facebook-blad vir meer inligting oor die geleenthede.
  • Die Brain Child Fund en die Family Hope Center hou ʼn opleidingsgeleentheid vir ouers en professionele mense wat met kinders werk van 29 September tot 1 Oktober in Sandton. Besoek Brain Child Fund se webwerf vir meer besonderhede oor die geleentheid.
  • Luister gerus ook na die onderhoud bo-aan hierdie artikel. Jana en Hannes Viljoen gesels met Esté Meyer Jansen oor die vreugdes wat hulle ervaar het sedert hulle laaste kuiertjie in 2014 in Maroela Media se ateljee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pokkels ·

Ek het soo ‘n groot begeerte om ‘n kindjie met spesiale behoeftes aan te neem, ek en my man weet dit sal vir ons gesin ‘n verandering inbring maar instede van om biologies nog ‘n kindjie te kry het ons na baie navorsing oor hoe dit ons gesin gaan affekteer tog besluit om ‘n kindjie aan te neem. Die probleem het net gekom toe die plekke wat ons genader het ons tot R50 000 vra vir die aanneming. – Ons wil ‘n kindjie help en liefhê – ‘n gesin gee sodat die kind nie in een of ander tehuis moet eindig nie. Maar nee geld eers dan kan ons ‘n kind kom kry…

Shaun ·

Hier is nou n ouerpaar wat wragtig n medalje verdien. Drie spesiale kinders en al wat jy deur die berig kan optel is die oneindige liefde vir daardie drie kinders en die moeite wat hulle doen om vir hulle ook n lewe te gun. Soveel keer word hierdie kinders net weg gegooi deur hulle ouers wat nie kans sien. Ek hoop daar is mense wat iets by julle kan leer !

Charl ·

Hierdie family hope centre conference is alles baie goed en wel, maar vir 2 ouers $2400. En jy moet verblyf kostes betaal vir die naweek. Dis onmoontlik om te kan bekostig. Ek het self ‘n dogtertjie met spesiale behoeftes en dis rof! Lief ja ek het haar oneindig lief. Finansieël is dit net baie moeilik om haar met al hierdie “great opportunities” te kan help. En dis aaklig as mens se hande so afgekap is.

Stormrider ·

Ek deel hulle vreugde en blydskap, ek het self ‘n gestremde broer met spesiale behoeftes. Ek verwonder my egter oor hoe hulle daarin kon slaag om verby die streng gesondsheidsvereistes vir emigrasie te kom met gestremde afhanklikes. Die gewone Suid-Afrikaanse landsburger kan nie sy voete oorsee sit sonder letterlik miljoene se gesondheidsversekering nie – die oorsese lande is doodbang dat immigrante ‘n las op hulle mediese en welsyn stelsels gaan word. Nietemin, knap gedaan en alle sterkte!

SARIE VAN HEERDEN ·

Daar hang vir my ook ‘n vraagteken oor die toegang wat die gesin na die VSA gekry het omdat ekself weet wat die vereistes is vir mense sonder gesondheidsprobleme. ‘n Tekort aan geld is daar beslis nie by hulle nie, en daarvan het ek ook eerstehandse kennis. Wens hul net die beste toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.