Die vonk wat die Protea-kruitvat nodig het

’n Ster in wording? Die Proteas se Marco Jansen. Foto: Rodger Bosch/AFP.

’n Hele paar krieketliefhebbers het hul wenkbroue gelig toe hulle die nuus gehoor het dat ’n jong linkshandige snelbouler sy toetsbuiging vir die Proteas teen Indië op SuperSportpark gaan maak.

Maar ná 103,3 boulbeurte, 19 paaltjies, beste boulsyfers van 4/31 en ’n leeue-aandeel in Suid-Afrika se spoggerige reeksoorwinning is Marco Jansen skielik die naam op almal se lippe.

Hy is lank (2,03 m om presies te wees volgens die internet), kan teen 140 km/h per uur boul en bewerkstellig lekker wip vanaf die baanblad. O ja, hy skroom nie om vuur met vuur te beveg nie.

Jasprit Bumrah – die Indiese snelbouler met die woer-woer-aksie – is berug vir sy aggressie op die veld. In 2021 het hy vir Engeland se James Anderson met ’n rits opslagballe op Lord’s gepeper en hy het onder meer vier foutballe in een boulbeurt afgestuur; alles in ’n poging om die Engelsman te ontsenu.

Jansen het in sy drie toets beïndruk. Foto: GB Jordaan.

Druk nou die versnelknoppie na die tweede toets tussen die Proteas en Indië op die Wanderers en Bumrah is weer besig met sy ou streke.

Vurig, vinnig en met ’n vreemde boulaksie besorg hy die meeste toporde-kolwers hoofbrekens, maar dit het gelyk asof hy ’n punt teen Jansen wou bewys.

Een van die Indiese blits se aflewerings het die jong Suid-Afrikaner vol teen die bors getref. Maar Jansen was glad nie geïntimideer nie en hy het Bumrah in eie munt terug betaal toe die Indiër voor die paaltjies was.

Met die spoednaald en die humeure wat die hoogte ingeskiet het, moes Marais Erasmus (skeidsregter) tussenbeide tree.

Kagiso Rabada het toe weliswaar ’n rukkie later van Bumrah ontslae geraak, tog het sy jonger spanmaat gewys dat hy vir niemand sal terugstaan nie.

Jansen se vertoning in die reeks het onder meer Ashwell Prince se oog gevang.

Die oud-Proteaspeler en Bangladesj se kolfwerk-konsultant het getwiet dat hy van Jansen se houding op die veld hou.

“Nog ’n ding wat ek in die afgelope reeks geniet het, is dat Jansen nie een keer vir Bumrah teruggestaan het nie. Hy het glad nie aan die Indiese Premierliga gedink nie en hy het sy land eerste gestel, soos wat dit hoort,” het Prince gesê.

Jasprit Bumrah en Marco Jansen was in ’n vurige tweestryd gewikkel en Marais Erasmus moes tussenbeide tree. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Dan het Ian Chappell, die voormalige Australiese krieketkaptein, gesê dat die wedstryde tussen die Proteas en Indië ’n beter vertoonvenster vir toetskrieket is as die pasvoltooide Reeks om die As.

“Dit was dalk ’n verrassing vir baie krieketliefhebbers dat Suid-Afrika vir Indië geklop het, maar die reeks het boeiende krieket opgedis. Dit was ook ’n emosiebelaaide affêre – iets wat in die As-reeks ontbreek het,” het Chappell in een van sy rubrieke geskryf.

En Jansen was beslis een van die redes vir Chappell se raakvat-beskrywinig.

’n Paar jaar terug het ondersteuners opgewonde nadergeskuif wanneer Allan Donald, Brett Schultz of Dale Steyn ingehardloop het om te boul.

Nou ervaar ’n mens dieselfde opwinding wanneer Marco Jansen gereedmaak om sy eerste aflewering af te stuur. Hy is dalk net die vonk wat die Protea-kruitvat nodig gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Ongelukkig kort hy so 5km/h spoed in sy aflewerings. Hy kry wel goeie wip met sy lengte, maar sal baie gevaarliker wees met meer spoed.

Casper ·

Ja Manie,hy het nog baie om te leer om saam met die grootes te gesels.Hy boul nog soms te vol of te kort en wyd.Handhaaf hy ‘n goeie lyn en lengte en ‘n aflewering wat op en net buite wegpen wip en weg beweeg gaan hy een van die bestes word.Met sy lengte glo ek hy sal binnekort die vinnigste bouler in wêreld krieket word dan net so bietjie werk aan die kolfwerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.