Dié vyf mans gesoek ná Bronkhorstspruit-plaasaanval

Die identikits (Foto: SAPD)

Die polisie het Dinsdag identikits uitgereik vir die vyf verdagtes wat gesoek word in verband met die aanval op Waldi en Cynthia van Zyl op hul plaas digby Bronkhorstspruit in Gauteng.

Ses mans het die egpaar verlede Sondag vermoedelik tussen 17:00 en 18:00 op hul plaas, Spitskop, oorval en gemartel.

Een verdagte is reeds verlede week vasgetrek en sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn.

Volgens konst. Munyadziwa Ramovha, woordvoerder van die Bronkhorstspruit-polisiestasie, is dié verdagte in die besit van een van die Van Zyls se selfone gevind. Hy is nog nie deur die slagoffers geïdentifiseer nie.

Die 64-jarige Waldi het onder meer gesig- en skedelfrakture en wonde aan sy been opgedoen en moes die aand van die aanval ʼn noodoperasie ondergaan. Cynthia (53) is verlede Woensdag ontslaan en vorder goed onder omstandighede. Sy het ʼn kopwond opgedoen en het kneusplekke oor haar hele lyf en snye aan haar bene.

Waldi was die aand in sy werkswinkel op die plaas besig toe hy skielik deur die ses mans oorrompel is. Ten minste een van hulle was met ʼn vuurwapen gewapen.

Waldi en Cynthia van Zyl (Foto: Verskaf)

Hy het om hulp geroep en Cynthia het ondersoek gaan instel en op die aanvallers afgekom terwyl hulle besig was om haar man aan te rand. Sy is daarna ook aangeval.

Die egpaar is glo met houtplanke en pype geslaan. Een van Waldi se bene is glo met ʼn hoekslyper gesny en Cynthia is met ʼn skroefbek aangerand.

Die aanvallers het ʼn groot bedrag geld geëis.

Die aanvallers is met twee vuurwapens, juwele, selfone en ʼn klein bedraggie geld en ander huisware vort. Hulle het hul buit op Waldi se wit Toyota Hilux-bakkie gelaai en in die rigting van die R104 gevlug. Van daar af is hulle moontlik in die rigting van Bronkhorstspruit of Witbank.

Die Van Zyls se seun het kort ná die aanval by die huis aangekom. Cynthia het intussen haarself losgewikkel en hom geroep, waarna die nooddienste en die polisie ontbied is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alta Alleman ·

Waarom word die verdagte nie “mooi”gevra wie sy maatjies is nie huh ?

Maria ·

Ek weet nie wat om te dink nie. Hierdie mense, hoe kan mens doen wat hulle gedoen het? Die wêreld het sy goedheid verloor. Elke mens moet herdink en weer dink. Beskerm jouself maar omarm die voorbeeld van Jesus. Ons bid vir almal sonder ophou

Yvonne ·

Ek glo die verdagte kan dalk bietjie beter “samewerking “ gee….ondervragers weet mos hoe

Jakes ·

Dis deesdae baie maklik om iemand op te spoor dmv n selfoon nommer. Hierdie kriminele weet dit natuurlik nie en dis hoekom hulle gevang word. In die ou dae was dit redelik maklk om inligting uit beskuldiges te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.