Dié wet kan regering meer mag gee 

(Foto: SA Polisie)

AfriForum het Woensdag ’n mondelinge voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie gedoen om die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terroriste en Verwante Aktiwiteite teen te staan.

Dít volg nadat dié burgerregteorganisasie verlede maand skriftelike kommentaar teen die voorgestelde wetgewing ingedien het.

Volgens die regering is die doel van die wysigingswetsontwerp onder meer om Suid-Afrika se bestaande wetgewing in lyn te bring met internasionale standaarde en regsvereistes.

In sy voorlegging Woensdag het AfriForum egter benadruk dat verskeie bepalings in dié wetsontwerp bloot groter magte aan die polisie sal verleen en onregverdig inbreuk maak op verskeie regte. Dit sluit in die reg op vryheid van uitdrukking en assosiasie, politieke vryheid, reg op privaatheid en die reg op toegang tot inligting.

Die organisasie het wel ’n verdere opdatering van die wet verwelkom “in soverre dit poog om dit in ooreenstemming te bring met ontwikkelinge in die internasionale reg en uitsprake in die Konstitusionele Hof”.

AfriForum het verder aangevoer dat daar geen enkele internasionaal ooreengekome definisie van “terrorisme” is nie. Die wysiging maak die definisie van “terreuraktiwiteit” dus veels te wyd.

In sy mondelinge voorlegging het die organisasie voorbeelde aangebied wat glo wys dat die werklike probleem nie onvoldoende wetgewing is nie, maar doeltreffende toepassing van die bestaande wetgewing. Voorbeelde is ook ingesluit van hoe die wysiging misbruik kan word om standpunte te onderdruk wat die regering nie onderskryf of ondersteun nie.

“Die geskiedenis is belaai met voorbeelde van wetgewing wat misbruik word om kritici van regerings in hegtenis te neem en tronkstraf toe te dien onder die dekmantel van die bekamping van terrorisme. Dit is nog vars in die geheue van baie Suid-Afrikaners dat hierdie presiese taktiek ook deur die vorige regime gebruik is,” het Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, gesê.

“Die regering se inperkings tydens die Covid-19-pandemie het bewys dat die toestaan van meer mag en beheer aan die polisie en die regering onverstandig sou wees. Die bestaande wetlike raamwerk is voldoende. Die probleem is implementering en uitvoering deur staatsorgane in die lig van wydverspreide gebrek aan voldoende hulpbronne, korrupsie, wanbestuur en kaderontplooiing.”

Luidens die parlement se webblad het die wysigings onder meer ten doel om –

  • sekere definisies te skrap, te wysig en in te voeg om bestaande wetgewing in lyn te bring met internasionale regsvereistes;
  • voorsiening te maak vir misdrywe wat verband hou met terreuropleiding en die aansluiting by en stigting van terreurorganisasies;
  • voorsiening te maak vir misdrywe wat verband hou met buitelandse reise en pogings om die Republiek onder sekere omstandighede te verlaat;
  • voorsiening te maak vir misdrywe ten opsigte van die besit en verspreiding van publikasies met onwettige terrorismeverwante inhoud;
  • voorsiening te maak dat magtiging van die direkteur van openbare vervolging verkry moet word ten opsigte van die ondersoek en vervolging van sekere misdrywe; en
  • voorsiening te maak vir die uitreiking van lasbriewe vir die deursoeking en afsperring van voertuie, persone en persele.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Roelof ·

Die regering wil Zimbabwe na-aap met die wetgewing daarom skryf hulle dit toe as internasionaal. Enige iemand of instansie wat nie met hulle saamstem nie wil hulle uit die weg ruim

annie ·

Dit sal nie veel anders as die huidige wetgewing en toepassing in Europa, Brittanje en die VSA wees nie. En dan word Oosterse/Middeoosterse lande en Rusland gedurig aangeval as bose ondemokratiese lande. Die demokrate haat die Republikeine en doen alles sedert Nixon se beplande val (nou weer met Trump) presies so. Die apartheidsregering moet natuurlik as voorbeeld dien. AfriForum is al in ‘n rystoel van sy gereelde skote-in-eie-voet weens die baie nat ‘waarheidskruit’ in sy ou sanna. Om darem te erken ‘ek is ook’ skuldig en dan te hoop jy wen ‘n saak…

Jack ·

Uit en uit wetgewing wat voorgese is deur die russe en chinese. Daar verdwyn jy as jy jou mond teen die staat oopmaak. Die rooi draak is besig om sy tande te wys.

Psyggie ·

As “Moedertjie Rusland” se (weet nie waar is die kappie vir die “e” nie), jy dra ‘n pelsjas, al wil jy nie, sal jy ‘n pelsjas dra.

Swerwer ·

Natuurlik sal die wet so verander word om die Kommunis te dek in alle wandade

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.